Teksmark bied teelaarde vir teatermakers se idees

Christo Davids (links) vertel meer oor sy stuk ‘Laaitie mettie biscuits’ wat by Teksmark Joburg 2023 voorgelê is. (Foto: Reinhard Bodenstein/Pixelart Photography)

Christo Davids se storie oor Nathan, ʼn 16-jarige seun met Down se sindroom, is een van die teks-idees wat gehoorlede by die afgelope Teksmark in Johannesburg laat regop sit het.

“Dit is nie net ʼn storie van iemand met ʼn gestremdheid nie, dit is ʼn regte lewe. Aan die een kant staan wat ons as abnormaal in ʼn normale samelewing beskou, maar wat gebeur as ons besef dat ons in werklikheid abnormaal is?” het Davids verduidelik.

Hy is een van die 14 skrywers wat op 3 en 4 November by die Foxwood-teater in Johannesburg konsepte voorgelê het. Ander bekende kunstenaars wat ook hulle idees met teaterkenners en -liefhebbers gedeel het, sluit in Nico Luwes (Koebaai, ou Koba!), Henque Heymans (Op die hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan), Pietie Beyers en Almero Welgemoed (Die spreekkamer), en Johan Smith (Die hysbak).

Die tekste in Afrikaans en Engels ondersoek ʼn wye spektrum onderwerpe, waaronder geslagsgebaseerde geweld, sosiale kommentaar oor die taxi-bedryf, uitdagings wat met geestesgesondheid verband hou, mondigwording, die invloed van tegnologiese ontwikkeling op ons lewens, en die gevolge van stilswye oor mishandeling.

Teatermakers in aksie tydens die eerste Teksmark Joburg 2023. (Foto: Reinhard Bodenstein/Pixelart Photography)

Uittreksels uit die konsepte is deur meer as 20 akteurs opgevoer, wat Tobie Cronjé, Elzabé Zietsman, Lizz Meiring, Henriëtta Gryffenberg, Heidi Mollentze, Rina Nienaber, Maude Sandham, Rika Sennet, Wilhelm van der Walt en David Viviers insluit.

Teksmark is ʼn projek van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) en dit word in samewerking met die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) aangebied. Dit is in 2016 van stapel gestuur en het vir die afgelope agt jaar slegs in Kaapstad plaasgevind. Vanjaar is dit die eerste keer ook in Gauteng aangebied.

“Ons het vandat Teksmark begin is verskeie versoeke van feeste, teaters en gehoorlede gekry om dit ook in Gauteng aan te bied. Dit is dus vir ons ʼn groot voorreg om danksy finansiële ondersteuning van NATi se direksie vanjaar dan die eerste Teksmark Joburg van stapel te stuur,” sê Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van NATi.

Dié bekroonde teaterontwikkelingsprojek gee aan opkomende en gevestigde skrywers ʼn geleentheid om hulle teks-idees vir moontlik verdere ontwikkeling voor te lê. Dit word aangebied in die vorm van ʼn eksperimentele sessie waar die skrywer kortliks iets oor die storie en konsep sê, daarna word ʼn kort uittreksel as leesteater aangebied, en dan volg ʼn vraag-en-antwoordsessie waar die idee verder bespreek word.

Teatermakers by die eerste Teksmark Joburg 2023. (Foto: Reinhard Bodenstein/Pixelart Photography)

Volgens Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK, is altesaam 36 tekste en produksies al uit dié projek ontwikkel. Daar was reeds verskeie opwindende uitvloeisels uit die projek, waaronder Teksmark Oudtshoorn en ʼn internasionale weergawe, Tekstmarkt, met verskeie Nederlandse vennote.

“Dit is hoog tyd dat ons die projek uitbrei na Johannesburg en ons is opgewonde oor die eerste weergawe in Gauteng.”

Die 28ste KKNK word van Saterdag 23 tot Sondag 31 Maart 2024 in Oudtshoorn aangebied. Hou die KKNK se sosiale media dop om op hoogte van feesnuus te bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.