Tribuo se wawyd-wakker-inisiatief gaan voort

Ses bekende Suid-Afrikaanse akteurs en twee aanbieders gaan eersdaags aanlyn aan ’n 24-uur-marathon deelneem om ’n verhoogstuk ten bate van die Tribuo-fonds te skep.

Dié inisiatief sou in Julie vanjaar reeds plaasgevind het, maar het weens verskerpte Covid-19-regulasies nie voortgegaan nie.

#tribuowawydwakker is deel van die derde geldinsamelinginisiatief van die Tribuo-fonds wat in 2020 weens die trefslag van die Covid-19-pandemie in die lewe geroep is om uitvoerende kunstenaars in finansiële nood te ondersteun.

Die Tribuo-fonds is ʼn niewinsgewende organisasie wat gestig is in samewerking met Karen Meiring, (kykNET), Cornelia Faasen (NATi) en die Feesteforum (Aardklop, Klein Karoo Nasionale Kunstefees, Innibos, Suidoosterfees, Vrystaatfees en die Toyota US Woordfees) om vryskutkunstenaars finansieel te ondersteun.

Met Tribuo Wawyd Wakker/Tribuo Wide Awake gaan ses akteurs vanaf Vrydag 22 Oktober tot Saterdag 23 Oktober deurnag repeteer en improviseer tot hulle ’n verhoogstuk geskep het. Dié kreatiewe marathon gaan regstreeks uitgesaai word en beloof om ’n interessante proses vir die spelers en fassinerende kykstof vir die gehoor te wees.

Deur die loop van die 24-uur-marathon sal daar verskeie verrassings vir die akteurs én kykers wees. Ander bekendes sal ook inloer om die spelers op hul tone en wakker te hou.

Bennie Fourie is deel van die geselskap wat deelneem aan die Wawyd Wakker-inisiatief.

Cintaine Schutte, Bennie Fourie, Dean John Smith, Wian Taljaard, Gary Naidoo en Esther von Waltsleben vorm die kerngroep van die geselskap. Lede van die publiek kan reeds hul steun aan die groep akteurs bied deur ’n skenking te maak op die Tribuo-webblad of deur die loop van die 24-uur-marathon die naweek.

“Met hierdie inisiatief wil ons die aandag op die groot nood in ons kunstebedryf vestig. Die oorgrote meerderheid kunstenaars het slapelose nagte oor hul finansiële sekuriteit in ’n tyd waarin soveel teaters hul deure moes sluit en geleenthede om te werk en gehore te bereik die een ná die ander opdroog,” sê Cornelia Faasen, een van die stigterslede van die Tribuo-fonds en die uitvoerende hoof van NATi (Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief).

“Die Tribuo-fonds kon met die eerste twee rondes van aansoeke verskeie uitbetalings maak, maar die derde vlaag van Covid-19-infeksies het die kunste op sy knieë gedwing. Verskeie kunstenaars het hul huise verloor en mense moes motors en besittings verkoop om in basiese behoeftes te voorsien. Tribuo is egter afhanklik van skenkings en ons kan slegs ondersteuning aan kunstenaars bied indien ons genoegsame finansiering kry.”

Die Wawyd Wakker-deurnagmarathon skop op Vrydag 22 Oktober om 12:00 af en word regstreeks via die Tribuo-fonds se webwerf gestroom by www.tribuo.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.