Verhoogtekste gesoek vir NATi Jong Sterre-projek

Die aktrise Lee-Ann van Rooi tree vanjaar as mentor vir deelnemers aan die NATi Jong Sterre-projek op. (Foto: verskaf)

Opkomende dramaturge wat graag hul werk op ʼn professionele verhoog wil sien, kan nou aansoek doen vir deelname aan die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) se Jong Sterre-mentorskapprogram.

Dié projek ondersteun opkomende skrywers deur hul verhoogtekste te ontwikkel, af te rond en by die Suidoosterfees op te voer.

“As ʼn fees met ʼn sterk fokus op ontwikkeling is ons besonder trots op die projek,” sê Jana Hattingh, die Suidoosterfees se uitvoerende hoof.

“Nie net word geleenthede vir belowende kunstenaars geskep nie, maar sinergie word deur al die fases van die projek tussen jong en gevestigde kunstenaars verweef.”

Vyf dramas van die NATi Jong Sterre-projek het by vanjaar se Suidoosterfees gedebuteer: Stephren Saayman se klug Dankie, maar nee dankie!, Heloïne Armstrong se Maanskyn en dorings, Melissa Myburgh se tragikomedie Met liefde, Vincent, Henque Heymans se Oom Bey, my pa en Jane Mpholo met The Dawn. Dié produksies is met groot entoesiasme deur feesgangers ontvang.

Die mentorskapprogram waarvoor aansoeke nou oop is, sluit ʼn skrywersresidensie van drie weke in Somerset-Oos in, waar deelnemers hul tekste onder leiding van die aktrise en teatermaker Lee-Ann van Rooi gaan ontwikkel en afrond vir opvoering.

Die skrywersverblyf in die Jakes Gerwel Stigting se Paulet Huis duur van 25 Julie tot 14 Augustus. Daarna word die tekste onder leiding van Rafiek Mammon in teaterproduksies omskep wat in 2023 by die Suidoosterfees in Kaapstad op die planke te sien sal wees. Uittreksels uit die tekste sal ook later vanjaar by die KKNK Teksmark opgevoer word.

Aansoeke moet teen 27 Mei gestuur word aan Theo Kemp na [email protected]. Dit moet vergesel word van die teks van ʼn nuwe toneelstuk in Afrikaans of Engels, of ʼn uittreksel uit ʼn nuwe teks, asook ʼn kort CV en ʼn motiveringsbrief. Toneelstukke wat voorheen opgevoer is, of wat klaar deur die proses van teksontwikkeling gegaan het, sal nie oorweeg word nie. Suksesvolle kandidate se name sal op 24 Junie bekendgemaak word.

Die NATi Jong Sterre-projek word in samewerking met die Suidoosterfees, NATi, die Jakes Gerwel Stigting, Kunstekaap en Kunste Onbeperk aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.