Video: ‘Die Gelofte’ se kroos óók op die planke te sien

Johan Vorster en Jacomien de Wet. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Die indrukwekkende musiekspel Die Gelofte wat tans op die AfriForum Teater se planke kuier, gee ’n splinternuwe definisie vir die woord “familieproduksie”.

Johan Vorster en Jacomien de Wet is nie net die skrywers van dié musiekspel se musiek nie, hulle vertolk onderskeidelik die rolle van Sarel Cilliers en Gertie.

Wat baie gehoorlede egter nie weet nie, is dat Vorster se seun, Raphael Vorster, en De Wet se dogter, Abigail de Villiers, óók hul teaterskoene in Die Gelofte volstaan.

Vir 11-jarige Raphael is die teaterervaring een uit die boonste rakke. Hy erken ywerig dat hy nog altyd op die verhoog wou wees. Sy pa is trots op hoeveel hy gegroei het.

“Ek wou nooit gehad het dat die res van die akteurs na hom moes kyk en dink dat hy wegkom met moord omdat hy die vervaardiger se seun is nie. In die laaste week het die regisseur vir Raphael en Abigail al hoe meer komplimente oor hul spel en wat hulle vir die span beteken gegee. Ons is baie dankbaar dat dit so uitgedraai het,” het Vorster oor sy seun se betrokkenheid vertel.

Dit is vir De Wet kosbaar om te weet dat sy die voorreg het om die verhoog met haar dogter te kan deel.

“Sy is ’n vreugde. Dit het so baie vir haar beteken, sy het soveel persoonlike groei ondergaan. Dit is ’n riem onder my hart,” spog De Wet met haar dogter.

De Wet sien uit daarna om staaltjies oor Die Gelofte eendag saam met Abigail te kan deel.

“Ons is baie na aan mekaar. Ons is saam deur rowwe tye van die lewe, dit het ’n spesiale band tussen ons gesmee. Dit word net versterk in hierdie konteks.”

Abigail, wat De Wet se ewebeeld is, het heerlik saam met haar ma by die huis woorde geleer.

“Dis ’n wonderlike ervaring. Dis vir my cool om te sien hoe my ma op die verhoog is. Ons het hard gewerk, maar dit was baie lekker,” het 17-jarige Abigail aan Maroela Media vertel.

Sy beskryf Die Gelofte as ’n lewensveranderende produksie wat nie net die gehoorlede se hartsnare roer nie, maar ook dié van die akteurs op die verhoog.

“Die goed wat gesê word, gaan klim diep in mense se harte. Hierdie is ’n groep mense wat deur God gestuur is. Om nuwe familie te hê is ongelooflik. Dis iets wat geen kind kan verduidelik nie. Om deel van hierdie produksie te kon wees, is die beste ding wat met my gebeur het.”

  • Die speelvlak van Die Gelofte is verleng tot en met 19 Junie en kaartjies daarvoor kan hier aangeskaf word.
  • Maroela Media het met die akteurs en hul kinders wat saam in Die Gelofte verskyn, gesels. Kyk hier na die video:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.