Aksie-, fantasie-aanhangers, hier kom heerlike kykstof

Die akteurs van ‘House of the Dragon’ tydens ’n paneelbespreking by Comic-Con in San Diego op 23 Julie 2022. (Foto: Chris Delmas/AFP)

Aksie- en fantasieliefhebbers kan hul aksiesokkies aantrek en die dae op hul kalenders begin aftel, daar is heerlike, splinternuwe rolprente en reekse aan die kom.

Maroela Media bied jou ’n opsomming van die jongste internasionale kykstof wat op pad is.

‘Game of Thrones’ weer op mense se lippe

Drie jaar nadat Game of Thrones tot ’n einde gekom het, het die skrywer van die reeks, George RR Martin, en die akteurs van die splinternuwe reeks, House of the Dragon, Saterdag by Comic-Con in San Diego bymekaargekom om die uitdaging van die maak van ’n opvolgreeks te bespreek.

Die nuwe reeks is die eerste van talle opkomende Game of Thrones-projekte en sal op 21 Augustus die kassie tref.

“Dis nogal opwindend. Jy is altyd senuweeagtig aan die begin, want hierdie boeke, hierdie karakters is soos my kinders,” het Martin tydens die Comic-Con-bekendstelling van die reeks gesê.

“Jy wonder hoe hulle behandel gaan word; sal jy hulle herken wanneer hulle na jou terugkom?

“Ek was baie gelukkig hier. Ek het nege van die tien episodes gesien, dis nogal ongelooflik!”

House of the Dragon speel honderde jare voor die gebeure van Game of Thrones af en beeld die gloriedae van die voorvaders van gewilde karakters soos Daenerys Targaryen uit.

Paddy Considine vertolk die vriendelike koning Viserys, terwyl Matt Smith van die The Crown-faam sy ambisieuse broer, prins Daemon, vertolk.

Hoewel daar nie tydens die bespreking en bekendstelling veel beeldmateriaal beskikbaar gestel is nie, is die verwagtinge hoog vir dié nuwe reeks.

Oor agt seisoene het die oorspronklike Game of Thrones-reeks 59 Emmy-toekennings opgelewer – ’n rekord vir ’n drama by televisie se ekwivalent van die Oscars.

Die laaste seisoen is egter wyd deur aanhangers en kritici gekritiseer omdat hulle nie ’n bevredigende einde van die reeks kon gee nie.

Die akteurs van die nuwe reeks het erken dat daar groot druk op hul skouers is, juis omdat hulle in die diep voetspore van Game of Thrones moet trap en aan aanhangers se vereistes moet voldoen.

“Daar is ’n massiewe druk om vir julle te gee wat julle wil hê, maar dit ook anders te maak en ons eie stempel daarop af te druk,” het Olivia Cooke, wat Alicent Hightower vertolk, gesê.

Kyk die lokprent van House of the Dragon hier:

‘Lord of the Rings’ op pad kassie toe

Die splinternuwe reeks, Lord of the Rings: The Rings of Power, is ook die naweek by Comic-Con in San Diego in die VSA bekendgestel.

Die uiters ambisieuse kleinskerm-sage wat in die wêreld van JRR Tolkien se boeke afspeel, is op pad. Dít nadat die stromingsdiens, Amazon Prime, die regte daarvan vyf jaar gelede vir $250 miljoen (sowat R4 miljard) aangekoop het.

Aanhangers van die reeks rolprente het die geleentheid gekry om die eerste kykie na opwindende beeldmateriaal van die splinternuwe reeks te kry. Dié volgepakte aanbieding is deur Lord of the Rings-entoesias, Stephen Colbert, aangebied.

“As aanhangers, kykers en liefhebbers van Middle Earth en Tolkien, wou ons nie die oorsprongsverhaal van iets anders doen nie,” het Patrick McKay, medeskepper van dié reeks, gesê.

“Ons wou ’n groot Tolkieniaanse megaproduksie doen. Amazon was mal genoeg om te sê ‘ja, kom ons doen dit’.”

Amazon bestee glo meer as $1 miljard (sowat R16 miljard) om vyf seisoene te maak wat elkeen 10 uur lank gaan duur. Die eerste hiervan gaan op 2 September op die Amazon Prime-stroomplatform bekendgestel word.

Die reeks vind 4 000 jaar voor die oorspronklike Jackson-trilogie plaas en beloof om kykers opnuut te boei.

Kyk hier na die reeks se lokprent:

Nuwe Marvel-rolprente, lokprente

Comic-Con het vanjaar vir groot vreugde gesorg; nie net is daar twee splinternuwe reekse bekendgestel nie, Marvel het ook verseker dat aanhangers behoorlik op hul tone gehou word.

Daar is tydens die geleentheid drie nuwe Marvel-lokprente bekendgestel.

She-Hulk: Attorney at Law beloof om kykers vasgenael voor die skerm te hou.

In dié nuwe reeks vertolk Tatiana Maslany die rol van Jennifer Walters, ’n 30-jarige prokureur wat haar persoonlike lewe en die feit dat sy ’n massiewe Hulk-figuur is, moet balanseer.

Die komediereeks bestaan uit nege episodes en sluit ou Marvel-gesigte soos dié van Mark Ruffalo in.

Die reeks sal op 17 Augustus vanjaar op die stromingsplatform, Disney+, te sien wees.

Kyk die lokprent daarvan hier:

Black Panther: Wakanda Forever is ook tydens Comic-Con vanjaar bekendgestel en het diegene wat die spoggerige bekendstelling bygewoon het opnuut verras.

Die verhoog was gepak met Wakanda-sterre wat die splinternuwe lokprent van die opvolgrolprent bespreek het.

In dié rolprent moet Queen Ramonda (Angela Basset), Shuri (Letitia Wright), M’Baku (Winston Duke), Okoye (Danai Gurira) en die Dora Milaje (onder wie Florence Kasumba) hul volk verdedig ná die dood van King T’Challa.

Die groep karakters streef daarna om ’n nuwe Wakanda-koninkryk te skep.

Die rolprent sal op 11 November vanjaar in rolprentteaters wêreldwyd te sien wees.

Hier is sy lokprent:

Ander opwindende Marvel-produksies wat op pad is, sluit in:

  • Ant-Man and The Wasp: Quantumania wat op 17 Februarie 2023 uitgereik word.
  • Secret Invasion, met Samuel L Jackson wat in 2023 op Disney+ te siene sal wees.
  • Guardians of the Galaxy: Vol 3 sal op 23 Mei 2023 op die silwerskerm wees.
  • Echo, Loki Season 2 en Ironheart, wat al drie Marvel-reekse is, sal in 2023 op Disney+ beskikbaar wees.
  • Aanhangers kan uitsien na Captain America: New World Order wat op 3 Mei 2024 die skerms gaan tref.
  • Daredevil: Born Again, Fantastic Four en Thunderbolts word albei in 2024 uitgereik.
  • Avengers: The Kank Dynasty en Avengers: Secret Wars sal albei in 2025 uitgereik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.