Albert Maritz: veteraanakteur met ʼn ingebore liefde vir kuns

Albert Maritz. (Foto: Verskaf)

As jong seuntjie het Albert Maritz agter die gordyne gestaan om die klank en beligting vir sy pa, die akteur Dawie Maritz, se toneelstukke te doen. Vandag is sy loopbaan ʼn ode aan regie, die argitektuur van die kunste, soos hy dit noem.

Alhoewel kykers Albert sal herken as ʼn akteur in sy eie reg, bekend vir rolle in Donkerland, Vloeksteen, Alles Malan en Konings, is dit agter die skerms, as regisseur, waar hy sy ingebore liefde vir die kunste kan uitleef.

Dié 62-jarige akteur is tans in die kykNET-sepie, Binnelanders, as die kluisenaar, Braam, te sien, iets wat hy as ʼn volsirkel-oomblik in sy loopbaan beskou. Viljé Maritz, Albert se seun, het sy eerste treë in die vermaakbedryf op die einste stel van Binnelanders gegee.

“Hy was destyds in ʼn skoleteaterstuk wat redelik opslae gemaak het,” onthou Albert.

“Hy het as skoolkind by kunstefeeste opgetree, en dit is by een van die kunstefeeste waar hy deur Friedriech en Elsje Stark genader is om by Binnelanders te werk.”

Albert en sy twee seuns. (Foto: Albert Maritz/Facebook)

Viljé het aanvanklik in die verskillende departemente by Stark Studios, waar Binnelanders geskiet word gewerk, voordat hy eindelik ʼn rol daar aangebied is. Dit is vir Albert ʼn riem onder die hart om nou in die voetspore te loop wat sy seun jare gelede daar gelos het.

Hy onthou ook vir Danie Joubert, wat nou as regisseur by Binnelanders werk, “met liefde in sy hart” as die regisseur van die reeks Konings, waarin Albert destyds gespeel het.

“Dit is ʼn gevoel van tuiskoms,” beskryf hy sy tyd op die stel van Binnelanders.

Gebore met ʼn voet in die vermaakbedryf

Albert erken maklik dat sy pa ʼn reuse-impak op sy eie besluit gehad het om in die vermaakbedryf te begin werk.

“Dit was geen geheim nie, hy was maar ʼn dwarstrekker … ʼn rebel,” onthou Albert sy pa.

“Noudat ek ouer is, dink ek terug aan die ongelooflike voorbeeld wat hy was; hoe hy geëksperimenteer het.”

Albert-Maritz

(Foto: verskaf)

Albert het gereeld agter die skerms by sy pa se toneelstukke gewerk, en selfs in die ouderdom van 12 sy eerste verskyning saam met sy pa op die verhoog gemaak. Hy onthou vandag nog hoe hy hom aan sy pa se gedetailleerde toneelspel verkyk het.

“Ek onthou hoe hy in die een stuk ʼn ou man gespeel het. Hy het so gebewe as hy byvoorbeeld ʼn beker koffie vasgehou het.”

Dit was juis daar, waar Albert soos ʼn spons alles rondom hom ingeneem het, waar hy sy liefde vir regie ontdek het. Hy beskou dit vandag as “een van die heerlikste aspekte van die vermaakbedryf”.

Hy onthou hoe kunstig sy pa was, die donkerkamer waar hy foto’s ontwikkel het en die talle kunswerke wat hy aanmekaar getimmer het.

Dit alles, herinner hom aan sy eie liefde vir die kunste, wat hy op die ou einde aan een van sy spruite, Viljé, oorgedra het.

“Ek het Viljé van die begin af gewaarsku oor die bedryf en hoe moeilik dit kan wees,” sê Albert, wat vandag glo dat ʼn ambagsman beter werksekuriteit het.

“Hy het ongeag besluit om die bul by die horings te pak. Hy het hierdie hartstogtelike liefde vir die bedryf, en hy het hierdie unieke gawe om op sy voete te dink, wat ek nie noodwendig het nie,” vertel Albert trots.

Albert erken dat hy bra skaam is, en dat hy maklik geïntimideerd voel tussen mense wat hy voel ʼn beter aanvoeling vir toneelspel het, waarvan sy seun een is.

Albert Maritz as Derik Malan in “Alles Malan”. (Foto: Verskaf)

Hy onthou hoe hy Viljé se pa in reekse soos Vloeksteen en Donkerland gespeel het, en hoe beïndruk hy met Viljé se talent en passie was.

“Viljé is baie goed, en ek is baie skaam.”

Albert is vandag ʼn trotse oupa, en tel sy seëninge een vir een in die spruite van sy twee seuns.

Op die ou einde is dit sy gesin en sy lewensmaat, Mariëtte, se geluk wat vir hom belangrik is.

“As hulle gelukkig is, is ek gelukkig – dit is al waarvoor ʼn mens kan vra.”

ʼn Vredeliewende tuinman

Ná dekades in die bedryf, is dit Albert se rustige bestaan in Melkbosstrand wat veral vir hom vrede bring.

Wanneer ʼn mens hom nie op die kassie, verhoog of agter die skerms sien nie, is hy besig om saam met sy hond deur die strate van dié buitewyk van Kaapstad te stap.

Wanneer hy ʼn droë blombedding of onversorgde tuin sien, druk hy sommer ʼn plant in.

“Hoekom dan nou nie?”

Vandag, in sy sestigerjare, is dit veral vir hom belangrik om na alle kante van ʼn storie te kyk.

“Ek dink nie ʼn mens moet veroordeel nie, jy het nie noodwendig al die inligting nie. Ons is almal mense, en almal onder die son met dieselfde lot. Ons moet vir mekaar omgee en beter verdra.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.