Antoinette Kellerman bekoor in Moedersdagfliek

Antoinette Kellerman en Pierre van Pletzen in ‘Ouma Olive en die ongelooflike’. (Foto: verskaf)

Doyenne van die teater, Antoinette Kellerman, sal kykers Saterdagaand bekoor met ’n lekkerkyk, hartroerende Moedersdagfliek, Ouma Olive en die ongelooflike.

Olive Brits is moeg. Ongedurig. ’n Weduwee van amper tagtig wat haar bes doen om nie met die res van die mense in die deftige aftree-oord te meng nie. Sy het twee kinders, ’n dogter en ’n seun, maar die dogter kies Moedersdag om vir haar te kom sê sy en haar gesin, en Olive se enigste kleinkind, trek Kanada toe. En die seun? Wel, die twee van hulle vermy mekaar sover hulle kan.

Maar die lewe het ’n vreemde manier om wonde te heel – selfs al is dit om mense met komedie agter ’n mikrofoon te vermaak. Wanneer Markus gemeenskapsdiens by sy ma se aftree-oord doen, vind hy uit sy het ’n verskuilde talent: gee haar ’n whiskey of twee en ’n mikrofoon en sy laat mense skater.

Markus, ’n akteur met ’n ego-probleem, oortuig sy agent, Lindsay (Veronique Jephtas) om sy ma se loopbaan te bevorder en voor Olive nog kan kibbel, is sy op die verhoog met ’n mikrofoon in die hand. Haar grootste optrede lê egter nog voor wanneer sy na ’n glansgeleentheid genooi word. Gaan die mense dink sy is snaaks? Belangriker nog: Gaan haar brose hart dit hou en gaan die een ding wat sy op hoop – vergifnis van haar seun vir ’n fout wat sy jare gelede gemaak het – ’n werklikheid word?

“Dit was ’n kombinasie van dinge wat die draaiboek geïnspireer het, maar die dokumentêr, Come Inside My Mind, het die bal aan die rol gekry,” sê Ludwig Binge, wat die rol van Markus vertolk en die skryf van die draaiboek behartig het.

“Ek is mal oor die ontslape akteur Robin Williams en het met sy werk grootgeword. Die dokumentêr is egter oor sy lewe wat bewys die stereotipe rondom komediante en depressie bestaan vir ’n rede.

“Robin was baie intens en sensitief, maar toneelspel en stand-up was vir hom maklik. Hy was iemand wat komedie gebruik het om met die lewe te cope.”

Ander bekende gesigte in die rolprent sluit Chris van Niekerk, June van Merch, Abduragman Adams, Pierre van Pletzen, Tinarie van Wyk Loots, Veronique Jephtas, Susanne Beyers en Roeline Daneel in. Regie is deur Nina Swart behartig.

Ludwig en die uitvoerende vervaardiger van Ouma Olive die ongelooflike, Jaco Notnagel, moes met ’n voorlegging kom vir ’n Moedersdagrolprent en Ludwig het besef sy idee kan werk.

“’n Ma wat rou oor ’n verlies, en komedie ontdek as uitlaatklep vir haar verdriet en frustrasie,” sê hy. “Ek kon onder haar vel inklim omdat ek self my pa ’n paar jaar gelede verloor het en self besig was om te rou. Om die Moedersdagtema deur te trek, het ons besluit om haar bestuurder haar vervreemde seun te maak. Hy word noodgedwonge haar toergids en leermeester, maar is ook die persoon met wie sy dinge moet regmaak. Uiteindelik is dit ’n liefdesverhaal tussen ma en seun wat deur middel van humor mekaar herontdek.”

  • Ouma Olive die ongelooflike word Saterdag 13 Mei om 20:00 op kykNET uitgesaai en sal ook op Catch Up beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.