Bear Grylls: ‘Veerkragtigheid is ware oorlewingskuns’

Elana Afrika-Bredenkamp gesels met die Britse avonturier Bear Grylls. (Foto: Maroela Media)

Bear Grylls se oorlewingskunsies in van moedernatuur se uitdagendste omstandighede is wyd bekend. Daar is niks wat jy vir die man kan leer van vuur maak sonder vuurhoutjies of ʼn aansteker nie. Hy weet waar om water te kry waar ander mense dink dit sal wees soos bloed uit ʼn klip tap en hy kan veilig rus waar gevaarlike gediertes en kriewelrige kreature die rondte doen.

Tog meen die Britse avonturier hierdie vaardighede kan eintlik maklik aangeleer word, die truuk om te oorleef lê veel eerder by ʼn oorlewingsingesteldheid en emosionele veerkragtigheid.

Hy het vroeër die maand met aanbieder Elana Afrika-Bredenkamp gesels oor Running Wild With Bear Grylls: The Challenge wat vanaand (28 September) om 21:00 op National Geographic  (DStv-kanaal 181) begin wys.

In die reeks toets hy internasionale glanspersoonlikhede soos Natalie Portman, Ashton Kutcher, Simu Liu en Anthony Anderson se oorlewingsvermoëns tot die uiterstes toe. Hulle moet talle oorlewingsvaardighede bemeester en hul nuwe vaardighede in hoëspanningsituasies gaan toepas.

“Ashton wou waarlik uitgedaag word. Ek dink sy avontuur was een van die moeilikstes wat my span nog gedoen het. Ashton het ook ʼn mooi verhaal wat hy tydens die tog met ons gedeel het; ons was nog nooit so uitgedaag om by te hou nie.

“Tog was dit wonderlik om te sien hoe hy en elke ander bekende deurentyd bereid was om te improviseer, aan te pas en te oorkom,” het Grylls gesê.

Hy glo die program sal kykers daaraan herinner dat die lewe ʼn avontuur is en enige iets aangepak kan word met ʼn “kan doen”-houding.

“ʼn Mens is sekerlik nooit heeltemal veilig in die natuur nie, maar as jy daar buite is, is daar ware krag in jou vermoë om saam te kan werk.”

Volgens Grylls bly reënwoude van die moeilikste habitatte om in te kan oorleef. “Dit is omdat oerwoude só onvoorspelbaar is,” verduidelik hy.

Terwyl Grylls glo dit is belangrik om te weet hoe om vuur te maak en water te kry in die moeilikste oorlewingsituasies, benadruk hy dat dit ook belangrik is om te verseker dat jy jou nie beseer of blase kry nie.

“Sonder ʼn oorlewingsingesteldheid gaan jy egter nie ver vorder nie. Dit beteken jy moet vindingryk wees, ʼn positiewe houding hê en nooit ooit moed opgee nie. Die res is eintlik maar net fieterjasies.”

Grylls is oortuig ʼn mens kan geestelike veerkragtigheid aanleer en inoefen.

“Jy bou dit deur uit jou eie mislukkings op te staan. Die help jou om sterker te word net soos om ʼn koue stort elke dag te trotseer, gesonde te eet en eerlik te wees.”

Heerlike kykgenot op National Geographic

Saam met Grylls se nuwe program spog National Geographic en National Geographic Wild met ʼn hele reeks programme wat hierdie lente en somer op die kanale afskop. Die kanale word ook nou in hoë definisie uitgesaai, wat ʼn nuwe dimensie bring aan die beste dokumentêre reekse, rolprente en buitengewone natuurgeskiedenisprogramme.

Die aanbieders van “Team Sayari”. (Foto verskaf)

In National Geographic se eerste plaaslik vervaardigde kinderproduksie, Team Sayari, sal kykers ’n groep jong natuurbewaarders oor die vasteland volg, saam met Akili – ’n slimrekenaar wat as ’n groot DNS-heliks voorgestel word – terwyl hulle Afrika se beskermers word. Team Sayari word elke Saterdag om 13:00 uitgesaai, en elke episode beloof avonture waar interessante mense hul kennis oor die vasteland se biodiversiteit en bewaringsprojekte deel.

Kykers sal ’n nuwe perspektief van Europa geniet deur die veranderende seisoene oor ’n jaar in België, Bulgarye, Denemarke, Roemenië, Serwië en Skotland dop te hou wanneer seisoen 4 van Europe from Above vanaf 28 September op Woensdae om 19:00 uitgesaai word. Die program onthul hoe tradisie, ingenieurswese en natuurwonders dié vasteland gevorm het.

In November sal twee luukse programme die avontuur uit die wildernis na die kombuis neem. In Gordon Ramsay: Uncharted Showdown, met die première op Woensdag 9 November om 21:00, sê die Michelin-ster-sjef en Ysterman-atleet Ramsay onder meer sy dogter Tilly in ’n kulinêre kragmeting die stryd aan. Later daardie maand laat die vlootveteraan Big Moe Cason sy kulinêre gemak agter en begin op ’n epiese reis om die beste watertand geregte te soek wat oor ’n oop vlam gemaak word. World Of Flavour With Big Moe Cason se première skop op Woensdag 30 November om 21:00 af, en ondersoek die verband tussen Amerikaanse braaivleis en kulture reg oor die wêreld.

Kykers kan ook steeds die avonture volg van drs. Hodges en Ferguson, twee jarelange vriende wat die Critter Fixer-veeartsenyhospitaal besit en bedryf. Tussen noodbesoeke aan die kantoor en plaasoproepe regdeur landelike Georgia in die VSA, word die Critter Fixers en hul liefdevolle personeel voortdurend met unieke gevalle uitgedaag. Critter Fixers S2 se première is op Vrydag 11 November om 18:00 op National Geographic Wild (DStv-kanaal 182).

Besoek www.natgeotv.com/za vir meer inligting oor programskedules en nuwe reekse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.