‘Binnelanders’-akteur praat oor ernstige mensehandel-storielyn

Martin sê die mensehandel-storielyn is nodig om bewusmaking te skep. (Foto: Verskaf)

Hoewel mensehandel vir die meeste kykers ʼn swaar en belaaide storielyn vir ʼn Afrikaanse sepie soos Binnelanders is, sê die akteur Martin Venter dat die kunste juis met tye gebruik moet word om die publiek oor die gevare van dié ernstige misdrywe in te lig.

Martin se Binnelanders-karakter, Jaco, is aan die stuur van ʼn mensehandelsindikaat en die eienaar van die fiktiewe Jacaranda Models, waardeur hy jong vroue met modelgeleenthede in Dubai flous. Daarna word hulle egter nooit weer gesien nie.

Naomi (Je-ani Swiegelaar) en Louis (Germandt Geldenhuys) se susterskind, Thalia (Megan Troskie) word deur Jaco met behulp van sy een trawant, Suzy (Hannah Borthwick), vir een só modelgeleentheid genader.

Dinge begin gelukkig vir Jaco ontrafel wanneer Tracy (Melinda Viljoen) en Tertius (Reynardt Hugo) snuf in die neus oor sy skelmsteke kry.

Martin saam met sy mede-akteurs. Lee Roodt en Hannah Borthwick. (Foto: Verskaf)

“Hierdie tipe storielyne is belangrik want dit gebeur eintlik té maklik en reg onder ons neuse. Ek dink hierdie is ʼn goeie manier om bewusmaking daaroor onder ons kykers te skep,” vertel Martin aan Maroela Media oor Jaco se betrokkenheid by mensehandel.

Hy sê hy kyk graag self dokumentêre-reekse wat hierdie tipe onderwerpe takel, soos dié van die veroordeelde seksoortreder Jeffrey Epstein wat voor sy dood in 2019 tereggestaan het op klagtes van mensehandel van minderjariges.

Martin wou egter sy eie stempel op sy Binnelanders-karakter afdruk en daardeur ook bewys dat misdaad mense dikwels weens desperaatheid kan insluk. Daarom glo hy moet die erns daarvan raakgesien word.

“Ek besef kykers wil graag ʼn bietjie van die werklikheid ontsnap wanneer hulle sepies kyk, maar kyk hoe maklik word gewone, desperate mense geflous met die belofte van ʼn goeie werksgeleentheid. Ons vertrou ongelukkig te maklik.”

Dié Witbank-boorling woon sedert 2010 in die Wes-Kaap en was ook al in programme soos Die Byl en Suidooster te sien gewees. In beide programme het hy toevallig ook die rol van ʼn skurk vertolk.

Martin skerts dat hy die langste in die grimeerstoel moes sit. (Foto: Verskaf)

“Ek dink dis my kaalkop. In flieks is die bad guys mos gewoonlik bles,” skerts hy.

“Ek sien dat ek op sosiale media kommentaar ‘slangnek’ of ‘pankop’ genoem word. Die kykers is baie passievol,” voeg hy tergend by.

Sy heel eerste televisierol was destyds dié van ʼn kelner in die gewilde M-Net-sepie Egoli, en hy het sy lyf al skrywer én stemkunstenaar gehou.

Hoewel sy karakter net vir ʼn beperkte tyd amok onder Binneland se mense maak, vertel hy dat dié ervaring een is wat hy as akteur altyd sal koester.

“Almal by Stark Studios, waar Binnelanders geskiet word, laat mens dadelik welkom en tuis voel. Dit was so lekker om almal te leer ken, deur die gange rond te dwaal en akteurs soos Hans Strydom op die stel te sien. Dit was bittersoet om almal te groet, want dis werklik ʼn lekker groep mense.”

Hy kan nie die veel oor die toekoms van sy karakter verklap nie, maar sê daar lê nog ʼn paar skok-oomblikke vir kykers voor.

“Ek sien kykers het al aanlyn gesê dié spesifieke storielyn is te wreed of te wild, maar baie sien ook die waarde daarin om die boodskap daarbuite te kry. Ek hoop Jaco se verhaal kan mense leer om meer waaksaam te wees.”

Binnelanders is elke weeksaand om 19:30 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.