Brendon Daniels vind anker in familie en die Kaap

Brendon Daniels. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Hoewel Brendon Daniels vandag ʼn bekende en geliefde akteur is, het dié boorling van die Kaap sy loopbaan as akteur eers op die ouderdom van 33 afgeskop.

Dit het hom lank gevat, erken hy aan Maroela Media, want hy het gesukkel om sy voete in sy twintigerjare te vind. Tog was daar altyd ʼn hunkering in sy hart vir die teater.

Brendon is veral bekend vir sy rolle in onder meer Trackers, Skemerdans, Spoorloos, Thys & Trix en Vallei van sluiers. Hy is deesdae in M-Net se misdaadreeks White Lies saam met onder andere Natalie Dormer te sien. Dié rol, Forty Bell, is een wat hom veral opgewonde gemaak het. Nes met elke ander karakter wat hy vantevore aangepak het, het hy net ʼn gevoel gehad dat dit ʼn reeks is waarvan hy deel moet wees.

“Soms is dit moeilik om nee te sê vir geleenthede, want jy moet kos op die tafel sit,” sê hy. “Terselfdertyd, het ek nog altyd my gut vertrou wanneer dit by die kies van karakters gekom het. Jou gut sê jou wat jy moet weet.”

Dit is juis hoe Brendon al telkens die leisels van ʼn taai karakter moes optel. Wanneer daar ʼn vuur in sy hart vir ʼn nuwe karakter begin brand, is hy verseker daarvan dat dit sy volgende uitdaging moet word.

White Lies is verlede jaar in Kaapstad geskiet, en het onder meer spesiale baanbrekerstegnologie gebruik om veral tonele in motors te skiet. Dit handel oor ʼn joernalis, Edie Hansen (Natalie Dormer), wat in die Kaapse onderwêreld betrek word nadat haar boetie in Bishopscourt, die weelderige woonbuurt, vermoor word.

Wanneer die akteurs nie op stel was nie, het hulle dikwels sommer op die gras gesit en kuier, sê Brendon. Selfs Natalie het ʼn keer of wat haar skoene uitgeskop en saam met die Suid-Afrikaanse akteurs en produksiespan rustig verkeer. ʼn Plat op die aarde soort mens, beskryf Brendon haar.

Brendon Daniels en Natalie Dormer in “White Lies”. (Foto: verskaf)

“Ek spekuleer nou, maar ek dink dit is omdat sy ʼn teateragtergrond het.”

Die teater is juis ʼn plek wat Brendon as ʼn tweede tuiste beskou.

“Teater leer jou om voorbereid te wees. Daar is nie enige entitlement wanneer jy ná jou teaterwerk by die stel van ʼn reeks of rolprent instap nie. Jy het klaar ʼn ingeboude manier van na dinge kyk.”

Brendon het ʼn rustige kinderlewe gehad. Hy is nou nog oortuig daarvan dat dit die grondslag geskep het vir die man en akteur wat hy vandag is. Hy het in Elsiesrivier in die Wes-Kaap grootgeword en gematrikuleer, en koester die dae wat hy nog bome en sandduine saam met sy maats kon uitklim.

Hy het in sy grootwordjare reeds ʼn paar keer die verhoog betree, en toe al geweet daar is iets spesiaal wat in ʼn teater vir hom wag. Hy was egter lank onseker oor hoe hy sy pad terug teater toe gaan vind. Terwyl hy destyds vir ʼn plaaslike casino gewerk het, het ʼn agent na ʼn werknemersproduksie kom kyk waarvan Brendon die regisseur was. Kort daarna het hy op dié einste agent se boeke beland, wat hom die geleentheid gegee het om ʼn pad as akteur oop te kerf.

Wat hy egter nog nooit kon afskud nie, is die behoefte om na aan sy familie te wees en bly. Dit is juis waarom hy besluit het dat hy nie die Kaap sal verlaat nie. Wanneer klaar geskiet het aan ʼn produksie, nooi hy sy susterskind oor vir ʼn naweek se kuier. Daar is min dinge wat ʼn taai karakter sal verjaag soos tyd saam met familie, sê hy.

“My suster se seun bring my terug aarde toe – dit is wat familie doen. Ek gee nie om om in Johannesburg te gaan skiet nie, maar dan wil ek huis toe kom.

“Huis is nie ʼn gebou nie, dit is wie ek is. Ek dink dit moet baie uitdagend wees vir mense wat die huis verlaat. Hulle moet seker ʼn deel van hulself verloor in die proses.”

(Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Hoewel hy nie sy lewe sonder familie kan indink nie, het Brendon en sy lewensmaat van 27 jaar, Janine Josephs, nooit kinders gehad nie. Hy erken dat die loopbaan wat hy gekies het veel meer as ʼn blote werk is. Dit is ʼn leefstyl, en dit sou hom nooit die kans gegun het om soveel tyd saam met sy kinders deur te bring as wat hy sou wou nie.

Ná elke taai karakter wat hy al moes aanpak, en elke projek wat hy tot dusver voltooi het, is hy vandag seker dat hy nooit sy liefde vir die teater sal kan afskud nie.

“Ek was nog altyd lief vir die teater. Dit is waar ek tuis en weerloos voel. In my 20’s het ek nog gesoek na identiteit, maar toe ek besef het dat die teater my roep, het ek geweet dit is waar ek moet wees.”

  • White Lies word elke Donderdagaand om 20:00 op M-Net, DStv-kanaal 101, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Charlotte ·

Brendon, jy is een van my gunsteling Suid Afrikaanse akteurs. Jy was voortreflik in Opdrifsel(ek het dit tydens die pandemie aanlyn gekyk) en meer onlangs in Showmax se Spinners. Jy raak net beter soos die tyd aanstap. Welgedaan meneer!

Samuel ·

Brendon is beslis ‘n baie goeie akteur. Jy word net voorspoed toegewens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.