Die drake en hul ruiters is terug en hulle is hier om te beïndruk

Milly Alcock bekoor as die 15-jarige Rhaenyra Targaryen wat ‘n oog op die Ystertroon het. (Foto: @VENGERB3RG/Twitter)

ʼn Handjievol televisieliefhebbers was Vrydagaand so gelukkig om deel van die bekendstelling van House of the Dragon te wees en ʼn eerste kykie van die première van die nuwe reeks op Suid-Afrikaanse bodem te kry.

Die Prinson Break-mark in Lonehill, Johannesburg, het die swierige gasheer gespeel vir die bekendstelling van House of the Dragon. Dit is hier waar gaste meegevoer is na die wêreld van die uiters gewilde fantasiereeks, Game of Thrones, waar die jongste reeks 172 jaar voor die geboorte van Daenerys Targaryen, ook bekend as moeder van die drake, afspeel.

Waar dit voorheen vyf konings was wat sake uitgespook het om die Ystertroon te bestyg, is dit hierdie keer die Targaryen-familie, elkeen tot die tande toe gewapen met hul eie draak, wat mekaar die stryd vir opvolging en ʼn sitplek op daardie ongemaklike troon aansê.

In House of the Dragon beleef kykers die begin van die einde van Huis Targaryen en dit vertel die storie wat gelei het tot die berugte Targaryen-opvolgingsoorlog in Georg RR Martin se 2018-boek Fire and Blood.

Dié storie is ʼn familiedrama tot in sy kern.

Paddy Considine, Matt Smith, Olivia Cooke, Emma D’Arcy, Steve Toussaint, Eve Best, Sonoya Mizuno, Fabien Frankel en Rhys Ifans is van die bekende akteurs wat in die reeks gesien sal word. Die eerste seisoen is in die Verenigde Koninkryk, Spanje en Kalifornië in die VSA verfilm.

Die meeste gaste was tydens die bekendstelling effens skepties, maar ook hoopvol dat die nuwe reeks sal beïndruk. Die laaste seisoen van David Benioff en DB Weiss se Game of Thrones het maar ʼn bitter smaak in kykers se monde gelos en min mense was ná afloop daarvan rasend opgewonde om nog iets uit dié fantasiewêreld op die klein skerm te beleef.

(Foto: @GRRMspeaking/Twitter)

Almal was dit egter eens ná dié vertoning dat die eerste episode ʼn goeie mengsel van intrige, aksie en drake bevat om die toonaard vir die res van die reeks te stel. Dit is beslis die kykbeurt werd, veral as jy ʼn Game of Thrones- of Martin-aanhanger is.

Tog wil ʼn mens met die Amerikaanse resensente saamstem, wat reeds die eerste ses van tien-episode-reeks onder oë gehad het: Of dit wel daarin gaan slaag om soveel TV-kyk-kultusstatus as Game of Thrones te bereik sal net die tyd ons kan leer.

Ryan Condal wat kragte saam met Martin gespan het om die nuwe reeks vir televisie te skep, het gelukkig ruiterlik aan die Hollywood Reporter erken: Om Game of Thrones op te volg, is bietjie soos om ná die Beatles te moet optree. Hy en sy span weet hulle gaan moet uithaal en wys om aanhangers en nuwe kykers te beïndruk.

Regisseur Miguel Sapochnik het hom egter goed van sy taak in die eerste episode gekwyt met ʼn fokus op inhoud wat ryk aan dialoog is, sonder die ensemble van oordrewe vegtonele wat Thrones in die latere seisoen geword het. So word kykers gehelp om die familielede en hulle meelopers te leer ken wat die storie vir House of Dragon oor die volgende paar episodes gaan weef.

Volgens Variety het die maak van elke episode van House of the Dragon net minder as $20 miljoen (sowat R341 miljoen) beloop, iets wat ʼn mens ook kan sien in die stel en die rekenaargeskepte beelde.

Die eerste episode van House of the Dragon wend ʼn merkwaardige poging aan om kykers terug te lok na die wêreld van Westeros.

Gelukkig het kykers die laaste sê

Die Prinson Break-mark in Lonehill, Johannesburg, het die swierige gasheer gespeel vir die plaaslike bekendstelling van “House of the Dragon”. (Foto: DStv/M-Net)

En hoewel talle aanhangers van Game of Thrones steeds treur oor die laaste episodes van die reeks wat ons teleurgestel het, lyk dit wel of kykers kan vergewe en vergeet. Kykers het behoorlik na HBO Max gestroom om die eerste episode van House of the Dragon te kyk, so erg dat die oorsese stromingsdiens plek-plek in duie gestort het.

Bloomberg het berig dat daar meer as 3 000 onderbrekings om 21:00 New York-tyd op die wêreldwye moniteringsdiens DownDetector aangemeld is.

Warner Bros Discovery Inc, die houermaatskappy van HBO, het in ʼn verklaring gesê dat miljoene kykers wel suksesvol na die eerste episode kon kyk. Hulle was wel bewus van ʼn klein aantal gebruikers wat gesukkel het om toegang tot die platform vir die episode te kry.

Suid-Afrikaanse naguile het waarskynlik reeds na die eerste episode van House of the Dragon gekyk, aangesien dit elke Maandag, van 22 Augustus, direk op Express vanuit die VSA op M-Net (DStv 101) om 03:00 uitgesaai word. Die res van ons besadigder siele, wat hou van ons slaap, sal dit ook op Maandae om 21:30 kan kyk.

House of the Dragon is nie gesinsvriendelike kykvermaak nie.

Kyk hier na die lokprent van HBO se House of the Dragon:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.