‘Die GROOTontbyt’-span vier 5de verjaarsdag

“Die GROOTontbyt” het Maandagoggend sy vyfjaarmylpaal van omgee-vermaak op die klein kassie bereik. (Foto: Verskaf.)

“Ons wil niks sê van GROOTfm gaan dit of dat nie. Daar word reeds heeltemal te veel gesê, gedink, genotuleer, bespreek, beredeneer, vergader en gekonfereer. Die bewys van hierdie stasie se hart moet wees in ʼn stad wat anders lyk omdat ʼn Afrikaanse musiekradiostasie nie net vermaak nie, maar ook ʼn verskil maak.”

Só het die artikel sewe jaar gelede begin om die koms van ʼn nuwe radiostasie aan te kondig. GROOTfm 90.5 het verlede week sewe jaar van verskilmaak-vermaak in die Jakarandastad gevier, terwyl Die GROOTontbyt Maandagoggend sy vyfjaarmylpaal bereik het.

“Die radiostasie is met sy bekendstelling in Augustus 2013 so goed ontvang dat daar ʼn nasionale aanvraag ontstaan het en die vars wyse waarop ons hierop wou antwoord, het ʼn kanaal soos kykNET, wat ook hou van eerstes, gepas,” het Hardus Zevenster, uitvoerende hoof van die Bloudruk Media Groep, gesê.

Maandagoggend 10 Augustus 2015 is die heel eerste episode van hierdie unieke hibriedkonsep waar radio en TV gelyktydig aangebied word, op die luggolwe van GROOTfm 90.5 en die TV-kanaal, kykNET (144), uitgesaai.

Sedertdien is ongeveer 2 464 uur of 102 dae aaneen se regstreekse televisie uitgesaai met ongeveer 3 696 ateljeegaste wat oor 1 232 episodes aan die spyskaart van nuus en aktualiteit, weer en verkeer, mense en musiek, resepte en resensies, films en feeste, sport en skolenuus, kuns en interessante kunstenaars van die Kaap tot in Pretoria deelgeneem het met dieselfde aanbieders van dag een af: Johrné van Huyssteen, Elsa Esterhuizen, Hendri Myburgh en Rouchelle Liedemann as die Kaapse korrespondent.

Op albei platforms word leersame en insiggewende inligting en inhoud, wêreldnuus en aktuele sake wat gewone landsburgers aan die hart en beursie raak, saam met prikkelende, goed nagevorste onderhoude en gesprekke, afgewissel met ʼn erns vir die evangelie, stories van hoop en inspirasie, hope humor, sport en altyd daardie tikkie nostalgie so saam met die nuutste treffers en ʼn groot fokus op goeie nuus.

Die reikwydte van die stasie se gemeenskapsprojekte ter waarde van miljoene rande elke jaar strek van die korttermynverligting van nood met die insameling van broodnodige lewensmiddele tot beurse vir studente wat andersins nie die geleentheid sou kry om verder te studeer nie.

Hulle het ʼn stem geword vir ʼn netwerk van niewinsgewende organisasies en bring uiteenlopende wêrelde nader aan mekaar – vanoggend het iemand in Botswana daarvan gehoor en teen vanmiddag het daardie gesin in Moreletapark ʼn kospakkie gekry.

Dié spanlede is nie bang om die gewone grense en reëls van media so ʼn bietjie te breek deur met groot asook klein gebare mense te leer om weer vir mekaar om te gee nie – soos wat die waarde van ʼn hospitaalbesoek is, al kan jy nog nie iemand se hospitaalrekening ten volle vereffen nie.

Hulle dra ook hulle trots Afrikaanse en Suid-Afrikaanse hart op hulle mou met plaaslike musiek wat meer as 80% van die speellys uitmaak en ondersteun plaaslike sakeondernemings met innoverende veldtogte wat spesiaal rondom elkeen se behoeftes gebou word.

Mediaplatforms oor die algemeen is swaar getref deur die verlies van advertensie-inkomste tydens die staat van inperking. Die GROOT-span het ook die uitwerking hiervan eerstehands beleef, maar kon danksy die betrokkenheid van ʼn hele gemeenskap anderkant uitkom waar daar nou weereens gedeelde vreugde is wanneer ʼn kliënt sê “julle idee het my onderneming gered”.

Afgesien van drie episodes van Die GROOTontbyt wat herhaal moes word omdat ʼn lid van die tegniese span positief vir Covid-19 getoets het, is programme ononderbroke aangebied en in Die GROOTontbyt se geval regdeur regstreeks uitgesaai met Johrné in die ateljee, Elsa en Hendri van die huis af en gaste wat via Skype of Zoom saamgesels het.

“Ons is dankbaar vir ʼn hele span mense voor en agter die skerms wat ʼn visie vir ‘vermaak wat verskil maak’ met soveel passie staande hou, veral in uitdagende tye soos ons al in 2020 beleef het. Ons is ook dankbaar vir vriende en vennote wat soos familie geword het en dankbaar vir elke luisteraar en kyker wat inspirasie uit die inhoud put om saam met ons te bou aan ʼn beter gemeenskap vir almal,” het Roelien Potgieter, algemene bestuurder van GROOTfm 90.5, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

AmY ·

Ek geniet hierdie program baie.
Dis die enigste ontbytprogram wat ek kyk.
Baie geluk met julle verjaardag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.