‘Die Kontrak 2’ se top-26-finaliste bekend

Tarryn Lamb, Refentse, Karlien van Jaarsveld en Monique Steyn tree as mentors op vir die tweede seisoen van Die Kontrak.

Monique Steyn, Karlien van Jaarsveld, Tarryn Lamb en Refentse, wat as mentors vir die tweede seisoen van Die Kontrak optree, het die name van die finaliste bekendgemaak wat hulle vanjaar gaan bystaan in dié gewilde sangkompetisie.

Steyn se top-ses is Robert Bolton, Daniel Jay, Stephan Kemp, Kayla Landsberg, Samantha Leonard en Jacolize van Niekerk, terwyl Van Jaarsveld vir Lisie Basson, Philip Flipie Nolte, JP Meyer, Dodo Nyoka, Jan-Mattys van Lill en Ariana Venus Behr-Greeff gekies het.

Jan-Hendrik Fourie, Juan Casey, Ruan Jordaan, Arnau Nolan, Reagan Plaatjies en Gabrielle Swanepoel is deel van Lamb se top-ses en Refentse gaan vir Gen Avid, Melissa Jane Campher, Lenay Lewis, Apie Louw, Caylin Pfister en Sunel van der Linde bystaan.

Saam met die mentors se top-24, het Demi Lee Moore, wat in 2018 as die wenner van die kompetisie aangewys is, ook haar keuse gemaak.

“Ek is vreeslik opgewonde om weer deel van die program te wees. Om as aanbieder aan te sluit is ʼn groot hoogtepunt, want dit is iets wat ek nog altyd wou doen,” sê Moore.

“Ek sien so uit daarna om die nuwe talent te sien en deel te wees van hul reis en hulle natuurlik by te staan waar ek kan, omdat ek self deur die hele proses is.”

Demi Lee Moore op die Afrikaans is Groot-verhoog nadat sy as wenner van ‘Die Kontrak’ aangewys is.

Moore se keuse, wat dan die top-26 volmaak, is Kayla Bornman en Anrich Gericke.

Die program spog boonop met drie splinternuwe aanbieders: Moore, Bobby van Jaarsveld en Pulane Sekepe.

Van Jaarsveld sê die kompetisie is reg in sy kraal en hy voel tuis saam met almal wat deel van die span is. “Ek sien ongelooflik baie uit na dié seisoen. Die bedryf verander so vinnig; dit sal goed wees om te sien wie en wat tree vanjaar na vore met hulle unieke styl en aanslag tot die bedryf.”

Sekepe vertel dit is vir haar ʼn voorreg om deel van die program te wees. “Ek dink ek was definitief verlede seisoen se grootste aanhanger, so jy kan jou net indink hoe baie ek daarna uitsien.”

Die Kontrak 2 sal vanjaar op e.tv uitgesaai word en ʼn platekontrak van R1 miljoen van Coleske Artists is weer op die spel. Jo Black, Corlea Botha en Barry Pretorius sal as kenners optree.

Die program sal na verwagting vanaf Augustus vanjaar uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.