Disney vier eeufees met nuwe kykstof

Jude Law gaan sy skurkskoene vir die rol van ‘Captain Hook’ aantrek. (Foto: Jesse Grant/Getty Images via AFP)

Duisende van die wêreld se grootste Disney-aanhangers het die afgelope naweek die pelgrimstog na Anaheim, Kalifornië, in die VSA meegemaak vir ʼn voorsmakie van die vermaaklikheidsreus se komende projekte by die Disney D23-ekspo.

Disney vier volgende jaar sy eeufees en Alan Bergman, voorsitter van Walt Disney Studios, het beloof om kykers te bederf en betower met nuwe kykstof in die komende jaar.

Die skare is ook tydens dié ekspo deur talle akteurs verras, wat in van dié nuwe flieks en televisiereekse te sien gaan wees.

Harrison Ford het selfs verskyn vir die nuwe lokprent van die langverwagte vyfde Indiana Jones-rolprent wat by die ekspo onthul is.

Die 80-jarige hervat dié ikoniese rol wat hy vir die eerste keer in 1981 in Raiders of the Lost Ark vertolk het en is deur die 6 000 besoekers met ʼn staande toejuiging verwelkom.

Harrison Ford (80) gaan sy rol in die nuwe ‘Indiana Jones’-fliek hervat. (Foto: Jesse Grant/Getty Images via AFP)

“Ek is baie trots om te sê dat hierdie fliek werklik fantasties is,” het Ford gesê terwyl hy die trane teruggehou het.

Lucasfilm het ook ʼn lokprent vir die jongste seisoen van sy gewilde ruimtereeks The Mandalorian – wat hartlik deur die gehoor ontvang is – onthul.

ʼn Nuwe toevoeging tot die Star Wars-familie, Andor, is ook bekendgestel en is gebaseer op die Rogue One-fliekkarakter – Cassian Andor, wat deur Diego Luna vertolk sal word.

Daar word toenemend nuwe lewe in ʼn paar klassieke Disney-animasieflieks geblaas, met die langverwagte “werklikheidsweergawe” van The Little Mermaid wat volgende jaar op die silwerskerm te sien sal wees. Dié fliek se lokprent het reeds meer as 9 miljoen trefslae op YouTube.

ʼn Nuwe Lion King-fliek, getiteld Mufasa, asook ʼn nuwe weergawe van Peter Pan is aangekondig. Dié rolverdeling sluit nuwelinge soos Alexander Molony as Peter Pan en Ever Anderson as Wendy in, terwyl Jude Law in Captain Hook se skurkskoene sal klim.

Saterdag se fliekaanbiedings is afgesluit met ʼn volle 15 minute lange 3D-voorskou van James Cameron se gewilde wetenskapfiksie-fliek Avatar se langverwagte opvolg, Avatar: The Way of Water.

Aanhangers sal egter moet wag tot 16 Desember 2022 om uiteindelik weer saam met Jake Sully terug te reis na die anderwêreldse planeet van Pandora.

Die nuutste aflewering van ‘Loki’ sal ook binnekort op Disney+ te sien wees. (Foto: Disney Studios/Twitter)

Daar blyk ook nie binnekort ʼn einde aan Marvel-aflewerings te wees nie.

Benewens die nuwe Blackpanther-fliek, wat op 11 November vanjaar in rolprentteaters wêreldwyd sal draai, kan superheldaanhangers uitsien na Ant-Man and the Wasp: Quantumania en die tweede seisoen van die trefferreeks, Loki.

Ekspo-gangers is ook bederf met die nuus van twee splinternuwe Marvel- reekse, The Marvels, met Brie Larson in die hoofrol, asook Thunderbolts, waarin die Seinfeld-aktrise Julia Louis-Dreyfus te sien gaan wees.

Met die viering van sy eeufees het Disney verder gesê dit sal sy “100 Years of Wonder” in sy logo insluit en het aanhangers bekendgestel aan Disney100: The Exhibition, wat die storie vertel van dié byna ikoniese maatskappy wat in Oktober 1923 deur Walt Disney en sy broer Roy Disney gestig is.

Bronne: AFP, Deadline.

Kyk die lokprent van The Little Mermaid hier: 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.