Donker, eksentrieke karakters is Dries se kos

Dries Botha vertolk tans die rol van Kyle in ‘Arendsvlei’. (Foto: kykNET/Verskaf)

Hy speel dalk nou in die KykNET&kie-telenovela, Arendsvlei, ʼn polisiekaptein wat reguit dink en eerlik praat, maar die akteur Dries Botha skroom nie om in skurkkarakters se donker, komplekse skoene te klim nie.

Hy is tans te sien as Kyle Borman, ʼn polisiekaptein wat besig is om Jolene Martin se karakter, Beatrice, se hart te wen. Dries sê dié karakter is ʼn afwyking van die spreekwoordelike “bad guys” wat hy dikwels op die skerm vertolk.

“Ek speel graag skurke, wat gewoonlik uitdagend is en lekker toneelspel en kreatiwiteit toelaat, maar ek dink Kyle is die tipe man wat ek graag sal wil wees. Hy dink met ʼn helder verstand en betwyfel nooit homself nie.

“Hy weet ook wat hy soek en gaan daarvoor – dit is lekker om só iemand te vertolk. Ek het boonop in ‘Bormanstraat’ in Kroonstad grootgeword … ek dink dit was die heelal se manier om te sê dat ek dié rol moet aangryp,” vertel Dries aan Maroela Media.

Hy sê die Arendsvlei-familie het hom met ope arms op die stel verwelkom.

“Ons lag saam, huil saam én raak saam kwaad vir mekaar se karakters. Dit is harde, maar baie bevredigende werk om aan die einde van die dag sommer moeg van die stel af weg te stap.”

Dries en Jolene Martin op die stel van ‘Arendsvlei’. (Foto: kykNET/Verskaf)

Maroela Media het vroeër berig dat dié telenovela ná ses seisoene in Junie 2024 tot ʼn einde kom – iets wat Dries sê die produksiespan met baie respek hanteer het.

“Natuurlik is veral die akteurs wat sedert die begin daar was, hartseer, maar almal voel dat die storie nou op ʼn lekker punt is en hulle wil dit op ʼn hoë noot klaarmaak. Telenovelas se raktyd is dikwels net so drie jaar, so dis ʼn puik prestasie dat hulle al ses jaar lank dié verhaal kon vertel.”

Suidooster-kykers sal Dries ook herken vir sy onlangse rol as die charismatiese predikant, Orpa Blignaut, se man, James. Dié karakters het kykers se bloed behoorlik laat kook weens hul geldhonger swendelary met die fiktiewe Ruiterbosch-gemeenskap.

Dries en Marisa Drummond het die rolle van Johan en Orpa in ‘Suidooster’ vertolk. (Foto: kykNET/Verskaf)

“Ek was mal oor idee van dié tipe karakters en ek dink dis ʼn lekker storielyn – al het mense vir ons verskriklik kwaad geraak. Daar ís tog sulke bedrieërs wat in kerke inmeng en die vervaardigers het gelukkig sekergemaak die karakters kry wat hulle verdien.”

Die Vrystaatse-boorling noem Kaapstad al die afgelope twaalf jaar sy tuiste en sê sy ma het destyds ʼn rol gespeel om die saadjie te plant wat hom na die skerm en verhoog gelei het.

“My ma het my as vierjarige na ʼn matinee-vertoning van Hello, Dolly! in Kroonstad gevat en ek dink die betowering daarvan het my dadelik getref. Ek was gefassineerd met die teater en storievertelling en alles wat daarmee saamgaan.”

Ná skool het hy eers grafiese ontwerp aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus studeer en later sy dramakwalifikasie aan die Tswane Universiteit van Tegnologie (destyds die Pretoriase Technikon) behaal.

Dries geniet eksentrieke en ingewikkelde karakters. (Foto: Verskaf)

Benewens rolle in Erfsondes en Die Byl is Dries ook geen vreemdeling vir internasionale produksies nie. Hy het al onder meer ʼn rol in die bekende BBC-televisiereeks, Call the Midwife, losgeslaan– iets wat hy as een van sy loopbaanhoogtepunte beskou.

Hy sê plaaslike talent kan beslis kers vashou met oorsese akteurs en produksiespanne.

“Ons was toevallig baie Suid-Afrikaners op daardie stel. Die Britte bring heerlike en goeie dissipline na die stel, maar ons Suid-Afrikaners het nie teruggestaan daarvoor nie. Uit die aard van die saak sal ʼn mens groter hase uit hoede kan haal as jy meer geld het, dit is maar ongelukkig ons industrie se uitdaging.”

Plaaslik staan sy rol in Die Byl vir hom uit, danksy regisseur Nina Swart.

“Sy is fantasties en skep ʼn ongelooflike speelvlak waar ons as akteurs gerespekteer word en baie vryheid gebied word.”

As hy kon kies, sal hy eendag graag met bekroonde regisseurs soos Wes Anderson van The Grand Budapest Hotel of Ryan Murphy van American Horror Story-faam wil werk.

“Ek sal dit geniet om ʼn regte eksentrieke rol vir hulle te speel. ʼn Mens mag mos groot droom. Wie weet, dalk maak hulle eendag iets op ons bodem?”

Tans lê sy hooffokus by Arendsvlei.

“Ek glo nog altyd die regte dinge kom op die regte tyd op ʼn mens se pad. As een deur toemaak, gaan daar ʼn ander een oop. Ek vertrou op die toekoms en sien uit om te sien wat dit nog alles vir my inhou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.