Dozi, Rian gesels prontuit oor liefde, vreesloosheid

Dozi en Rian van Heerden op ‘Laataand by Rian’. (Foto: Skermgreep)

“Jy moet jou eie lewe kan geniet sonder om te veel om te gee wat ander mense dink. Die lewe is net ʼn dag lank.”

Só sê Dozi, die Afrikaanse musikant en liedjieskrywer, op Rian van Heerden se kykNET-geselsprogram, Laataand by Rian.

“Aan gister kan ons niks doen nie en wat môre gebeur – wie weet? Ek kan nie my tyd met negatiewe kommentaar mors nie.”

Rian, bekende TV-vervaardiger en aanbieder, het ʼn paar direkte vrae aan tafel in sy Delizioso-restaurant in Pretoria aan Dozi gestel. Die omstrede sakeman Louis Liebenberg en die radio-omroeper Gareth Cliff was voorheen ook gaste op die program.

Dozi het onder meer uitgebrei oor sy goeie verhouding met sy jong musikantseun Storm, en sy drie egskeidings, waarvan twee in die plaaslike media opspraak gemaak het weens Dozi se bekendheid vir die liedjie, “Ou ryperd”, wat in 2001 uitgereik is.

Die sanger, ook bekend vir Afrikaanse treffers soos “Grassade in die wind” en “Tussen jou en my”, sê prontuit tydens die onderhoud dat hy nie kon konformeer aan die tradisionele huwelik nie.

“Ek is nie ʼn baas nie, ek is ʼn muso. Niks op aarde hou my vas nie. Ek sal môreoggend besluit ek gaan Frankryk toe; iets moet my nie terughou nie. My siel is te los en ek kan nie my persoonlikheid [in ʼn huwelik] verloor nie. Ek like myself te veel.”

“Jy is nie selfsugtig as jy van jouself hou nie,” sê hy. “Jy moet jouself like. Daar is te min mense wat regtig van hulleself hou. Jy moet wakker word en prikkels kry as jy vir jouself in die spieël kyk, sonder om arrogant te wees,” sê Dozi laggend.

Dozi. (Foto: Skermgreep)

Hy is in die laat negentigs getroud met die ma van sy seun, van wie hy ʼn paar jaar later geskei is. Hy is daarna in 2007 en weer in 2019 getroud, maar is telkens weer geskei.

Hy sê hoewel daar deur die jare honderde vroue was wat “ná die vertonings vir hom gewag het”, het hy altyd gewonder of hulle onder valse voorwendsels in hom belangstel.

Dozi het benadruk dat hy nie tans op soek na liefde is nie. Matie van Graan van Boerboel Wear-faam het Dozi op die program verras.

Dozi, wie regte naam Henk Opperman is, bieg ook teenoor Rian dat hy ʼn besadigde plaasseun was, maar dat hy nou ʼn vreeslose lewe lei.

“Om jouself af te breek in die lewe, is die swakste ding wat jy kan doen,” sê Dozi.

Laataand by Rian is Dinsdagaande om 21:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien. Dit is ook op DStv Catch Up beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.