Drama wink in Ruiterbosch

Elsabé Daneel het die afgelope paar jaar dikwels in ‘Suidooster’ verskyn as die ma van Carmen (Desiré Gardner). (Foto: Verskaf)

’n Hele paar bekende gesigte maak binnekort weer hul verskyning in die gewilde kykNET-sepie, Suidooster.

“Dis vir my heerlik om weer in Estelle se klere te klim, veral omdat sy so ongelooflike positiewe en sterk karakter is,” sê die veteraanaktrise Elsabé Daneel en voeg dan by: “Estelle is iemand wat haar deur niks laat keer nie, en sy is ’n praktiese boervrou.”

Daneel is van Donderdag weer in dié sepie te sien wanneer haar karakter skielik in Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar die sepie afspeel, opdaag.

Sy het die afgelope paar jaar dikwels in Suidooster verskyn as die ma van Carmen, ʼn rol wat deur Desiré Gardner vertolk word. Estelle is ook die aanneemma van Bianca, met Simone Biscombe in dié rol. Die rede vir Estelle se terugkeer na Ruiterbosch is om vir Carmen, wat komplikasies met haar swangerskap het, by te staan.

Volgens Daneel het Estelle ’n baie goeie insig hoe dinge in die lewe werk en het sy ’n verskriklike groot hart. Maar as ’n sterk vrou vat sy nie nonsens nie en dit kan soms tot konflik lei of selfs ʼn paar kykers warm onder die kraag laat.

“Sy hou voet by stuk by wat sy glo is reg, maar as sy moet buig, dan sal sy en daarna verwyt sy niemand nie. Estelle het die emosionele intelligensie om te weet as sy die stryd verloor, dan doen sy dit met grasie en gaan aan sonder verwyte,” meen Daneel.

Kort op Estelle se hakke daag haar man, Gawie, wat deur Albert Maritz vertolk word, op. ’n Ander bekende vir Suidooster-kykers wat in April vir ’n wyle terugkeer is die aktrise Gerwen Simon. Simon was deel van Suidooster se oorspronklike rolverdeling en het van 2015 tot 2017 die rol van Nicci in die sepie vertolk. Sy het intussen ’n paar keer gasverskynings in dié sepie gemaak.

Wilmer Müller, woordvoerder van Suidooster, sê daar wag ’n paar storielyn-skokke op kykers in die komende weke.

“Party karakters se lewens gaan onherroeplik verander en ’n kinkel of twee beloof drama wat geen kyker sou kon voorsien het nie.”

Joy (Monique Rockman) en haar pa, Gino (Adrian Alper), in die kykNET-sepie, ‘Suidooster’. (Foto: Verskaf)

Ander gasakteurs wat ook binnekort te sien gaan wees, is Adrian Alper as Joy (Monique Rockman) se pa, Gino, en André Jacobs as mnr. Pienaar, wat by die kerk in Ruiterbosch betrokke is.

Volgens Wilmer ontmoet kykers in Mei nuwe, permanente karakters, maar hy sê dat hulle nie nou veel meer daaroor kan verklap nie.

Suidooster word Maandae tot Vrydae om 18:30 op kykNET, DSTv-kanaal 144, en kykNET & kie, DSTv-kanaal 145, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.