Erica Wessels vertolk feilbare polisievrou in ‘Donkerbos’

Erica Wessels in ‘Donkerbos’. (Foto: verskaf)

“Die oomblik dat ek Fanie van Wyk ‘ontmoet’ het, het ek geweet dat ek haar wil vertolk.”

Só sê Erica Wessels, die vrou wat die ingewikkelde, feilbare hoofrol in Nico Scheepers se nuwe gruwelreeks, Donkerbos, se skoene volstaan. Nico, wat ook die skrywer van die trefferreeks, Nêrens, Noord-Kaap is, skryf draaiboeke wat soos storieboeke lees, vertel Erica.

Donkerbos is een van die beste goed wat ek al gelees het. ’n Goeie teks in die rolprentwêreld is soos goeie grond vir die tuinier,” het Erica aan Maroela Media vertel.

Vir Nico is daar nie ’n beter aktrise om Fanie se skoene vol te staan nie.

“Met Erica se heel eerste oudisie, het ek reeds geweet dat sy Fanie is. Dit is daardie besonderse oomblik waar die regte aktrise op die regte ouderdom vir ’n rol die oudisie aflê,” het Nico gesê.

“Sy het van die begin af saam met my op hierdie reis gegaan om Fanie, sonder tierlantyntjies, te skep.”

Hoewel dit nie die eerste keer is dat Erica ’n polisievrou vertolk nie, is die ingewikkeldheid en feilbaarheid van Fanie iets wat Erica opnuut moes verken en vertolk. Ironies, dink Erica, dat sy altyd soveel moontlik voorbereiding vir ’n karakter doen, maar steeds haar kreatiewe instink as aktrise volg wanneer die skietproses afskop.

(Foto: verskaf)

Dan is dit sy en haar mede-akteur, met die verantwoordelikheid om die storie so eerlik moontlik te vertel wat op hul skouers rus.

“Voorbereiding is geweldig belangrik, maar jy moet toelaat dat kreatiwiteit in ’n toneel enige rigting in kan skiet.”

Erica, ’n laatlam en die jongste van vyf, het van kindsbeen af die kuns van storievertel gekoester – in mense en hul dinge, soos sy dit stel.

“Wat laat iemand tick?”

Haar belangstelling in die menslike psige en waarom hulle optree soos wat hulle doen, het haar aanvanklik laat besluit om sielkunde by die Universiteit Stellenbosch te studeer. Dit was egter nie lank voordat sy besluit het om eerder ’n BA-graad in drama te verwerf nie.

Sy het 16 jaar lank in teater gewerk voordat sy rolprente en reekse begin aanpak het.

“Ek was baie gelukkig, maar het ook hard gewerk. Nou is ek ma en baie meer kieskeurig.”

Vir haar is dit egter ’n natuurlike en gesonde proses.

“Roem was nog nooit hoog op my waardelys nie, ek was gelukkig om die vryskutlewe te omhels.”

Wat haar pad in die vermaakbedryf vergemaklik het, is die talentvolle akteurs en tegniese spanne wat met elke projek hul vernuf en samehorigheid ten toon gestel het.

“Ons stories is kleurvol en divers,” gesels sy verder oor die vermaakbedryf.

“Die groot uitdaging is nog steeds ons gebrek aan begroting. Begroting koop vir jou tyd, en almal wat al op ’n stel was, weet hoe geweldig lank dit vat om al die marionette op die selfde tyd te laat dans om op die ou einde die crescendo te skep.”

Sy is egter opgewonde oor die toekoms van die Afrikaanse vermaakbedryf, veral met die uitbreiding van veelsydige stromingsdienste. Dít bied nie net groter begrotings en meer geleenthede nie, dit plaas die room van die Afrikaanse vermaakbedryf op ’n internasionale verhoog.

Fanie is ’n boeiende karakter in ’n gruwelreeks wat die kykers op die punte van hul stoele vasgenael hou, maar wat kyk Erica wanneer sy op soek is na ontspanning en vermaak?

“Ek hou van rillers, maar niks van gruwels nie. Op dokkies en dramas is ek versot. Normal People, Unorthodoc, Pieces of a Woman en White Lotus is ’n paar onlangse gunstelinge,” verklap sy.

Haar mense is egter wat haar behoud is, vertel sy.

“Om sinvolle, inspirerende, egte verbintenisse met mense te hê beteken alles. Ek is lief vir mense en vind geweldige inspirasie en genot in my verhoudings.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Miena ·

Wel gedaan Erica. Ek het die eerste episode gekyk en dit is boeiend. Ek is lief vir sulke verhale. Seker maar oor my beroep self…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.