Foto’s: ‘BSV’ – Oë vonkel toe vroue boere aan familie, vriende voorstel

Boer Johan en Arina geniet saam ‘n wyntjie op haar tuisdorp, Vredendal. (Foto: Verskaf)

Donderdagaand se episode van Boer soek ʼn vrou was ʼn jolige affêre toe die boere ʼn draai by die vroue se ouerhuise gemaak het.

Boere Tyson, Nelis, Petré en Johan het elkeen hulle beste voetjie voorgesit toe hulle vir die eerste keer die vroue se families en vriende ontmoet.

Tyson het op Bultfontein by Alri se ma, ouma en oupa op die plaas gekuier. Alri se pa, Hannes, was in die VSA en kon nie die geleentheid bywoon nie, daarom het sy haar ouma en oupa, Alwine en Gerhardus, gevra om vir Tyson ʼn bietjie gas te gee.

Alri se oupa het homself goed van dié taak gekwyt en het Tyson se sin vir humor getoets deur vir hom ʼn paar opdragte in Fanagalo te gee – ʼn toets wat Tyson met vlieënde vaandels geslaag het.

“Hy het dit baie goed hanteer. Hy het nie kwaad geword nie en dit as ʼn grap beskou,” het oupa Gerhardus gesê.

Daarna het Alri vir Tyson die plaas gaan wys op ʼn vierwielfiets en hulle het op die rivier gaan roei.

“Ek kan sien hoe hy by die familie kan inpas,” het Alri gekoer nadat Tyson haar familie ontmoet het. “Dit voel eintlik of hy al lankal deel is van ons familie. Ons hou baie van mekaar.”

Volgens Alri hou sy en boer Tyson baie van mekaar. (Foto: Verskaf)

Nelis en die donkerkop Esmerélda het middagete saam met haar ouers, Jaco en Elsabé, geniet voordat sy hom bederf het met ʼn besoek aan ʼn bierbrouery.

Nadat hulle saam bier geproe en aan ʼn kaasbord gesmul het, het sy hom aan die res van haar familie voorgestel.

“’n Mens kan sien sy is verlief. Dit is asof haar persoonlikheid selfs nog meer blom rondom hom – ek het nie geweet sy is so snaaks nie,” het een van Esmerélda se familielede gesê.

“Ek geniet vir Nelis baie,” het Esmerélda gesê.

Petré en Lourize het laat blyk dat hy haar ná haar kuiertjie op sy plaas in Vierfontein in die Vrystaat by haar ouerhuis op Potchefstroom afgelaai het en saam met haar ouers gebraai het.

Hulle het daarna saam gekuier in Port Elizabeth (Gqeberha), waar Lourize as spraakterapeut werk. Hulle het eers ʼn draai by ʼn muurklimgeriewe gemaak voordat hulle saam met haar vriende en familielede gekuier het. Dié twee duifies het deurgaans vir mekaar gekoer en gegiggel.

Op die vraag van een van Lourize se vriende of Petré al vir Lourize gesoen het en of daar ʼn troue voorlê, het Petré geheimsinnig geantwoord: “Die tyd sal leer.”

Johan en Arina het saam met haar ouers op Vredendal in die Wes-Kaap ontbyt geëet, waar Johan en Arina se pa, Fanie, land en sand oor boerdery gesels het.

Esmerélda stel haar liefling-hondjie, Fritz, aan boer Nelis voor. (Foto: Verskaf)

Daarna het Arina vir Johan ʼn bietjie touwys gemaak in die kuns van wynproewery, voordat hy haar familielede op ʼn groot byeenkoms ontmoet het.

“Ek sal glad nie omgee as Johan my vra om sy meisie te wees nie. Dit sal vir my baie aangenaam wees,” het Arina met ʼn vonkel in die oog gegiggel.

Johan het ook Arina se ma, Juliana, beïndruk. “Ek voel gemaklik in sy geselskap. Ek dink hy sal gemaklik in ons familie pas.”

Boer soek ʼn vrou is Donderdagaande om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien. Dit is ook op DStv CatchUp beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.