Foto’s van sterbelaaide misdaadreeks beloof aksie, intrige

Brendon Daniels en Natalie Dormer in “White Lies”. (Foto: verskaf)

Die Britse aktrise, Natalie Dormer, bekend vir haar rolle in Game of Thrones, The Hunger Games en The Tudors, sal eersdaags in ʼn Suid-Afrikaanse reeks te siene wees.

“Ek is opgewonde om in Kaapstad te wees en hierdie mooi, aangrypende reeks te begin skiet. Suid-Afrika het so baie om aan ʼn internasionale gehoor te bied,” het Natalie destyds oor haar betrokkenheid by die reeks gesê.

Sy sal die rol van die joernalis, Edie Hansen, in die misdaadreeks, White Lies, vertolk. Sy speel teenoor Suid-Afrika se eie Brendon Daniels, bekend vir sy rolle in Skemerdans en Trackers.

Dié reeks speel in Kaapstad af en het reeds in Maart 2023 met verfilming begin. Dit handel oor Edie wat in die Kaapse onderwêreld betrek word nadat haar boetie in die weelderige woonbuurt, Bishopscourt, vermoor word. Hier ontmoet sy Forty Bell (Brendon), en begin sy worstel met ʼn korrupte politiese sisteem en ʼn polisiediens wat besig is om inmekaar te tuimel.

White Lies is in samewerking deur M-Net, Quizzical Pictures en Fremantle vervaardig en sal oor agt episodes strek.

“Daar is ʼn groot afwagting vir White Lies – en kykers se geduld sal vanaf die eerste paar sekondes van die reeks beloon word,” sê Waldimar Pelser, kanaalhoof van Premiumkanale by M-Net.

“Tussen ʼn plaaslike en internasionale wêreldklas-rolverdeling, ʼn versengende storie, beste vervaardiging en ʼn agtergrond van die beste van die mooiste stad in die wêreld, het White Lies al die bestanddele vir ʼn sukses.”

(Foto: verskaf)

Die reeks is deur Harriet Gayshon en Nimrod Geva vervaardig. Natalie dien ook self as ʼn uitvoerende vervaardiger vir die reeks, saam met die draaiboekskrywer, Darrel Bristow-Bovey. John Tengove het die regie behartig, met Thati Pele, Catharine Cooke en Christiaan Olwagen wat ook in die produksiespan doenig was.

White Lies sal later vanjaar op M-Net (DStv-kanaal 101) te siene wees. Die presiese uitreikingsdatum is nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.