‘Friends’ herenig uiteindelik

Die rolverdeling van ‘Friends’ met die verfilming van die laaste episode in 2004. V.l.n.r. is Matthew Perry, Lisa Kudrow, David Schwimmer, Courteney Cox, Jennifer Aniston en Matt LeBlanc. (Foto: Facebook/Friends)

The One Where They Get Back Together is uiteindelik hier – en bekende aanhangers soos Justin Bieber en David Beckham sal by die rolverdeling van Friends aansluit, het HBO Max Donderdag aangekondig.

Die stromingsdiens het in ʼn verklaring gesê die lang-vertraagde en veelbesproke reünie, wat beskryf word as ʼn “ongeskrewe viering” van die Amerikaanse treffer-televisiereeks, sal later vandeesmaand debuteer.

ʼn Kort lokprent vir Friends: The Reunion wys die ses hoofkarakters wat stadig wegstap van die kamera met hul arms in mekaar gehaak terwyl “I’ll be there for you”, die ikoniese temalied, sag in die agtergrond speel.

Friends, met Jennifer Aniston, Courteney Cox, Lisa Kudrow, Matt LeBlanc, Matthew Perry en David Schwimmer, is steeds uiters gewild onder jong kykers wat selfs te jonk is om die oorspronklike uitsaaitydperk, wat in 2004 geëindig het, te onthou.

WarnerMedia het gehoop die reünie sou verlede jaar Mei gereed wees om saam met die Netflix-mededinger, HBO Max, uitgereik te word, maar die koronavirus het die produksie gekniehalter.

‘n Hele rits bekende gaste kuier saam op die ‘Friends’-reünie.

Dit sal nou, presies ʼn jaar later as wat aanvanklik beplan is, op die kleinskerm te sien wees, met die sterre wat glo elkeen $2,5 miljoen verdien om deel te neem aan die program.

Gaste soos die sokkerlegende David Beckham, popsterre Justin Bieber en Lady Gaga, die Koreaanse popgroep BTS en die mode-ikone Cindy Crawford en Cara Delevigne is ook te sien.

Tom Selleck, wat in 10 episodes die rol van Monica (Cox) se kêrel vertolk het, asook Reese Witherspoon, wat die rol van Rachel (Aniston) se suster vertolk het, maak ook ʼn verskyning.

Die reünie is geskiet by Stage 24 by die Warner Bros-ateljee in Los Angeles, wat ook as die oorspronklike klankverhoog gedien het vir dié sitkom wat handel oor ʼn groep hegte vriende wat in New York die lewe van ʼn volwassene navigeer.

ʼn Afgesonderde of virtuele reünie is nooit oorweeg nie weens die belangrikheid van die oorspronklike klankverhoog, het vervaardigers gesê.

Kevin Bright, Marta Kauffman en David Crane, uitvoerende vervaardigers van Friends, het ook ʼn draai gemaak vir dié spesiale uitsending.

Friends: The Reunion is op 27 Mei op HBO Max te sien.

The One Where We Get to See Our Favorites Back Together Again. The #FriendsReunion is coming on May 27 only on HBO Max.

Posted by FRIENDS (TV Show) on Thursday, May 13, 2021

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Snowball ·

Ek wonder of die sukses van ‘n reeks direk eweredig is aan hoeveel keer hulle die Here se Naam ydelik kan gebruik?
Want dan is hulle sukses seker verklaarbaar in Hollywood terme.

Patch ·

Kan nie wag nie! Ek kyk nou nog soms re-runs saam my seun en sy meisie, albei 20.
Hulle is die grootste Friends-fans. Nooit gedink hulle sou so baie daarvan hou nie. Ek was self ‘n groot aanhanger van die reeks vroeër jare.

MakersMark ·

Enigste “sitcom” ooit gemaak met enigste doelwit om te laster deur God se naam duisende kere ydelik te gebruik. Maar nou ja seker “awesome” as dit jou nie pla nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.