Gaste kan eerlik, op die man af op Rian se nuwe geselsprogram wees

Rian van Heerden is terug op die kassie in ‘n nuwe geselsprogram. (Foto: Facebook/Rian van Heerden)

Die radiopersoonlikheid, aanbieder en vervaardiger Rian van Heerden het nog nooit geskroom om kontroversiële gesprekpunte te takel of vurige debatte te voer nie.

Nou gaan hy vir kuiergaste op sy splinternuwe geselsprogram, Laataand by Rian, die geleentheid bied om dieselfde te doen, en dít boonop om ’n bord kos in sy eetplek in Pretoria.

“Ek loop al lank met die idee om ‘n laataand chat show te doen en spesifiek iets met ʼn bietjie meer vryheid waar die gaste ʼn graaf ʼn graaf kan noem,” vertel die voormalige Jacaranda FM-omroeper aan Maroela Media oor sy nuwe program, wat vanaf Dinsdag 4 Julie 21:00 op kykNET uitgesaai word.

In elke episode van Laataand by Rian gaan twee gaste kuier: een wat die nuus op die een of ander wyse al gehaal of gemaak het, en een wat Rian tydens sy veelsydige loopbaan iewers teëgekom het.

“Daarmee bedoel ek enige nuus, nie net politiek nie. Ons het van hierdie persone gekies omdat ek oortuig is dat hulle ook nuus tydens die program sal maak. Die tweede gas is dan veral gekies om gesprekke in ‘n ligte trant te hou, as verrassing te dien of om die gesprek na die volgende vlak te neem,” verduidelik die Wie Word ʼn Miljoenêr?-aanbieder.

Hoewel dit vir sy restaurant, Delizioso, ʼn paar praktiese implikasies het, meen Rian dat dit juis danksy sy gemaklike atmosfeer die perfekte ligging vir gesprekke van dié aard is.

“Ek dink wanneer gesprekke oor aktuele sake en gebeure in ’n gemaklike omgewing plaasvind, verseker dit dat dit wat saak maak behoorlik bespreek word.”

Rian van Heerden by sy restaurant, Delizioso. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Sy eerste gaste in Dinsdagaand se episode is Gayton McKenzie, ʼn sakeman, veroordeelde oud-bankrower en leier van die Patriotic Alliance, en Boet Schoeman, ’n bekende mampoerstoker.

Laataand by Rian word deur sy eie vervaardigingsmaatkskappy, Provoco, behartig.

Programme soos Bolhuis, Siener, Sex in Afrikaans en natuurlik Die Real Housewives van Pretoria het danksy Rian en sy span die lig gesien en omtrent die wenkbroue onder Afrikaanse kykers laat lig.

Dié veelsydige vermaker het egter voorheen aan Maroela Media vertel dat hy hom lankal nie meer steur aan die “Afriklaners” soos hy na hulle verwys nie.

“As ek vir kykers presies wat hulle wil hê gegee het, sou ek nou ʼn baie ryk man gewees het. Maar dit is gelukkig nie wie en wat ek is nie. Ek wil nooit verveel nie.”

Volgens Rian is die oplossing eenvoudig: “As jy nie daarvan hou nie, dan hoef jy dit nie te kyk nie.”

  • Laataand by Rian word vanaf Dinsdag 4 Julie 21:00 op kykNET uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Vinny ·

Ek is so bly, ek is gaande oor Rian en sal graag enige van sy programme kyk en volg. Welgedaan, sien uit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.