Geliefde Malans weer terug op die kassie

‘Alles Malan’ se Derik en Brenda Malan, vertolk deur Albert Maritz en Elsabé Daneel.

Toe die laaste episode van die eerste reeks van Alles Malan in 2019 op kykNET uitgesaai is, het kykers reeds gesê: Ons is nog lank nie klaar gekuier by die Malans nie.

Die goeie nuus is dat die tweede seisoen van Alles Malan op 30 November weer op die kassie begin draai. Al die gewilde karakters is terug, maar soos met alle goeie familiedramas is daar meer as genoeg kinkels in die kabel om kykers vir 13 episodes vasgenael te hou.

Die veteraan-akteurs Albert Maritz en Elsabé Daneel is weer te sien as Derik en Brenda Malan. Ivan Zimmermann is die oudste seun, Frik, en Nadia Valvekens is sy vrou, Tessa. Hulle twee kinders, Elani en Freek, word onderskeidelik deur Greteli Fincham en Mateo Olivier gespeel.

Sean-Marco Vorster is die jongste Malan-seun, Nico, en sy vrou, Lee-Anne, word vertolk deur Nicole Fortuin.

Die regisseurs is Corné en René van Rooyen en hulle het die reeks saam met Leon Kruger en Retief Scholtz geskryf.

In dié seisoen word die Malans se familieverhoudings nog dieper beproef. Nico en Lee-Anne het ’n eersteling op pad en Frik sukkel met ’n falende Malan Vervoer terwyl Tessa se loopbaan floreer.

‘Alles Malan’ se Freek, Frik, Tessa en Elani, vertolk deur Mateo Olivier, Ivan Zimmermann, Nadia Valvekens en Greteli Fincham.

“Daarmee ondersoek ons die veranderende manlike rol in baie hedendaagse Afrikaanse gesinne. Wat is die rol van die eietydse pa? Wat gebeur as ’n vrou meer as haar man verdien? Intussen probeer Brenda die sakewêreld betree, Elani se hart is in twee geskeur tussen twee mans en Freek is verlief op die gewildste meisie in die skool, maar hy moet haar eers uit die kloue van ’n ander seun kry,” verklap René.

Die skrywers het stories uit hulle eie families as inspirasie gebruik. “Die belangrikste van die teks is dat dit eg persoonlik, maar alledaags, moet wees. Stories waarmee ons, asook die gehoor, moet kan identifiseer. Ons en die kykers moet dus onsself in die verskeie tonele kan sien,” voeg Corné by.

Die Van Rooyens se dogter, Hannah, was net drie maande oud toe die verfilming van Alles Malan begin het. Het ouerskap hulle anders na familie laat kyk?

“Sjoe, ja. Dit was ’n lewensveranderende ervaring. Ek en Corné het beurte gemaak om die regie te doen. Een dag was hy op stel en ek het by die huis gewerk, die volgende dag het ons rolle geruil. Met werksdae van 12 uur en babatjies wat min slaap, het ons nuwe respek vir ouers gekry, maar ons het ook besef dat dit nie moontlik sou kon wees sonder ’n sterk ondersteuningsnetwerk van familielede nie,” sê René.

Die nuwe seisoen is, soos die vorige, in en om die Paarl en Wellington geskiet. “Drakenstein-munisipaliteit het baie moeite vir ons gedoen. Hugenote Hoërskool in Wellington het weer uit hulle pad gegaan en gesinne het hulle huise vir ons oopgemaak. Die Paarl is ’n uiters warm en verwelkomende dorp. Ek glo daar is min plekke waar mens so ’n ondersteunende en goeie filmervaring sou hê,” sê Corné.

“Dit was heerlik om al die Malans weer onder een dak te hê.”

Herman Kleinhans, die Ghoema-bekroonde musikant wat aanvanklik bekendheid verwerf het vir sy betrokkenheid by die groep, TWEE, het die temalied getiteld “Haal ’n bietjie asem” vir dié reeks geskryf.

Volgens Herman is die tema van die liedjie universeel en spog dit met ’n lekkerluister-deuntjie wat jou dadelik intrek.

“Die lewe is dikwels vol haakplekke en seer, maar dit raak makliker wanneer jy saam met jou mense staan,” verduidelik hy.

Die Malans van Alles Malan is ’n goeie voorbeeld hiervan, sê hy. “Solank daar eenheid is, kan niemand jou onderkry nie.”

Dit was vir hom ’n groot voorreg om deur Corné en René van Rooyen genader te word vir hierdie projek en hy beskou dit as ’n groot mylpaal in sy loopbaan om deel te wees van dié reeks.

“Net om genader te word, was reeds ’n groot veer in my hoed. Nadat ek die draaiboek gelees het, het die res vanself gebeur.”

Die liedjie is deur Tertius Human van Vonk Musiek by Coolerbox Brothers Studio vervaardig en is die derde enkelsnitvrystelling vanaf sy jongste album, Ruite oop.

Alles Malan begin Dinsdag 30 November om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitsaai.

Kyk hier die musiekvideo vir “Haal ’n bietjie asem”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.