Hollywood: Adam Levine in die sop; Paris Hilton se skoothond skoonveld

Adam Levine en Behati Prinsloo. (Foto: Amy Sussman/Getty Images/AFP)

Maroela Media bied jou ’n opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Adam Levine in die sop

Die Maroon 5-popster Adam Levine het die wêreld aan die gons, en die keer nie oor een van sy voetstamptreffers nie.

Levine, wie se vrou, die model Behati Prinsloo, swanger is met hul derde kind, het in ’n storie op Instagram erken dat hy “oor die tou getrap het” toe hy flankerende boodskappe aan iemand op Instagram gestuur het.

Dit kom nadat ’n TikTok-video waarin die model Sumner Stroh beweer dat sy ’n jaarlange romantiese verhouding met Levine gehad het, soos ’n veldbrand op sosiale media versprei het. Sy het in die video verskeie skermskote van hul gesprekke gewys.

Levine het egter hierdie beweringe ontken.

“Ek het swak oordeel gebruik deur met iemand anders as my vrou in ’n flankerende wyse te gesels,” het hy op Instagram gesê.

“Ek het nie ’n buite-egtelike verhouding gehad nie; nietemin het ek oor die tou getrap in hierdie tydperk van my lewe. My vrou en familie is al waarvoor ek omgee in die lewe. Om so naïef en dom te wees deur dit wat vir my die belangrikste in die lewe is op die spel te plaas, was die grootste fout van my lewe. Ek sal dit nooit weer doen nie.”

Die egpaar is in 2014 getroud en het twee dogters saam, vyfjarige Dusty Rose en vierjarige Gio Grace.

Paris Hilton se skoothond is skoonveld

Die glanspersoonlikheid Paris Hilton se skattige skoothondjie, Diamond Baby, is sedert Woensdag 14 September in Los Angeles soek.

Paris Hilton se skoothond is skoonveld. (Foto: Paris Hilton/Instagram)

Voordat sy haar tot sosiale media gewend het met die hoop om haar Chihuahua-hondjie op te spoor, het vriende en familie Hilton bygestaan in die soektog na die vermiste hond.

In ’n onlangse Instagram-plasing het Hilton erken dat sy verskeie troeteldierkenners, wat onder meer ’n troeteldierspeurder en hondefluisteraar insluit, ingespan het om haar met die soektog by te staan.

Daar is selfs van hommeltuie gebruik gemaak om die hond te probeer opspoor.

Daar is ’n reusebeloning vir enigiemand wat haar hondjie aan haar kan terugbesorg.

Jimmy Kimmel kry nóg drie jaar op kassie

Ná ’n allemintige 20 seisoene op die kassie, het Jimmy Kimmel sy kontrak vir nóg drie jaar verleng.

Jimmy Kimmel. (Foto: Momodu Mansaray/Getty Images/AFP)

Jimmy Kimmel Live is al sedert 2003 aan die gang, met Kimmel wat deur die jare heen mense wêreldwyd bekoor. Sy kontrak met die laatnagprogram sou in 2023 tot ’n einde gekom het indien ’n hernuwing nie plaasgevind het nie.

Alhoewel Hollywood wemel van laatnagprogramme, staan Kimmel uit as die aanbieder wat die langste aan sy aanbiederstoel kon vashou.

Dit kom nadat Conan O’Brien se laatnagprogram verlede jaar tot ’n einde gekom het.

’n Ander gewilde laatnagaanbieder, James Corden, het ook onlangs sy uittrede aangekondig en gaan nie meer op die kassie in sy aanbiedershoedanigheid te sien wees nie.

Nuwe Karate Kid op pad

Diegene wat nie genoeg van karate kan kry nie, kan hul karatebelt vasmaak, want die oorspronklike Karate Kid-rolprentreeks is weer op pad silwerskerm toe.

Jaden Smith tydens die première van die 2010-rolprent, ‘The Karate Kid’. (foto: Ethan Miller/Getty Images/AFP)

Alhoewel die fiktiewe wêreld kon voortleef in die immergewilde Netflix-reeks Cobra Kai, waarvan daar reeds vyf seisoene is, sal dit die eerste rolprent-aflewering wees sedert die 2010-rolprent waarin Jaden Smith die hoofrol vertolk het.

Die nuwe rolprent sal in Junie 2024 uitgereik word. Waaroor die fliek sal gaan en wie daarin gaan speel, is egter nog nie bekend nie.

Babanuus vir Facebook-grootkop

Mark Zuckerberg, die baas van Facebook, gaan vir ’n derde keer pa word.

Mark Zuckerberg en sy vrou, Priscilla, verwag nog ‘n kind. (Foto: Mark Zuckerberg/Instagram)

Die 38-jarige Zuckerberg en sy vrou, Priscilla, verwag hul derde babadogtertjie. Hulle het in 2015 ’n eersteling, Max, ryker geword en in 2017 het August haar opwagting gemaak.

“Baie liefde. Opgewonde om te deel dat Max en August ’n babasussie gaan kry,” lui die onderskrif van die foto wat Zuckerberg op Instagram gedeel het.

Adam Sandler ondergaan heupoperasie

Die komediant en akteur, Adam Sandler, het onlangs die koppe laat draai toe hy en sy vrou, Jackie, deur die strate van Los Angeles gewandel het. Sandler het tydens die staptog van ’n kruk gebruik gemaak.

Die bekende akteur Adam Sandler en sy vrou, Jackie. (Foto: Jordan Strauss, AFP)

’n Verteenwoordiger van 56-jarige Sandler het onlangs bevestig dat die akteur op die herstelpad is nadat hy ’n heupoperasie ondergaan het.

Alhoewel die rede vir die operasie nie bekend is nie, het Sandler vroeër vanjaar in ’n onderhoud met Entertainment Tonight vertel dat hy sukkel met mobiliteit weens ’n besering wat hy tydens die verfilming van die basketbalrolprent Hustlers opgedoen het.

Sandler is dalk nog aan die herstel, maar sy komedietoer wat op 21 Oktober afskop, is minstens nie gekanselleer nie.

Bronne: Entertainment Weekly, Variety, People

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.