Hollywood: ‘Top Gun: Maverick’ is tops, Ricky Martin het huismoles

Jerry Bruckheimer, Miles Teller, Jennifer Connelly en Tom Cruise. (Foto: Kevin Winter vir Getty Images)

Maroela Media bied jou ’n opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

“Top Gun: Maverick” een van Paramount se grootste treffers

Die immergewilde Top Gun-opvolgrolprent, Top Gun: Maverick, het die kerf van $1,2 miljard (sowat R20 miljard) by die internasionale loket oorgesteek.

Sedert die rolprent agt weke gelede in fliekteaters wêreldwyd begin vertoon is, het dit tot heel boaan Paramount Pictures se internasionale trefferlys geklim. Dit het selfs Transformers: Age of Extinction, wat tot dusver met dié pluimpie gespog het, oortref.

Die internasionale sukses van die rolprent is ’n deurbraak vir Tom Cruise en sy 40 jaar lange loopbaan.

Dit is in 28 verskeie lokette boaan die Paramount Pictures se trefferlys, waaronder Australië, Frankryk en die Verenigde Koninkryk.

Ricky Martin van gesinsgeweld beskuldig

Die 21-jarige susterskind van Ricky Martin, Dennis Yadiel Sanchez, het ’n tydelike interdik teen die sanger in Puerto Rico ingedien waarin hy hom van gesinsgeweld beskuldig het.

Dié klagte is deur Martin teengestaan en is intussen deur Sanchez teruggetrek.

Sanchez het beweer dat dié twee vir sewe maande in ’n romantiese verhouding was, en dat Martin hom geteister het toe hy die verhouding beëindig het.

Ricky Martin (Foto: Stefano Rellandini/AFP)

Hy het ook beweer dat daar fisieke  en emosionele mishandeling by die beweerde verhouding betrokke was.

Sanchez het egter tydens ’n virtuele verhoor op 21 Julie gevra dat die klagte wat hy teen sy oom ingedien het, deur die hof geskrap word.

Die regter het die versoek toegestaan nadat daar beslis is dat Sanchez uit vrye wil die klagte teruggetrek het.

“Ons het met groot dankbaarheid die besluit aanvaar,” het Joaquín Monserrate, een van Martin se prokureurs, gesê.

Martin se prokureurs het ook bevestig dat daar niks aan Sanchez belowe is om die klagte terug te trek nie.

Die 50-jarige sanger het sedert die interdik ingedien is, volgehou dat hy nie skuldig is nie.

In ’n video wat ná afloop van die verhoor op TMZ gedeel is, het Martin sy misnoeë met die bewerings uitgespreek.

“Dankie tog dat die bewerings as vals bewys is. Om die waarheid te sê, was dit só pynlik en verwoestend vir my, my gesin en vriende,” het Martin in die video gesê.

Hy het egter in die video vir Sanchez voorspoed toegewens.

“Ek wens hom die beste toe en ek wens hy vind die hulp sodat hy ’n nuwe lewe gevul met liefde en waarheid en vreugde kan begin en dat hy niemand anders seermaak nie.”

Meghan Markle, prins Harry kuier in New York

Die Sussex-gesin, Meghan Markle en prins Harry, het dié week hul sonnige tuiste in Kalifornië vir New York verruil om ’n spesiale geleentheid wat die lewe van oudpres. Nelson Mandela gevier het, by te woon.

Meghan Markle en Prins Harry. (Foto: Daniel Leal/AFP)

Die egpaar het die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering, waartydens Mandeladag gevier is, op 18 Julie bygewoon. Die hertog van Sussex het ook tydens die geleentheid ’n toespraak gelewer.

Hulle het ook tydens hul besoek met verskeie VN-ambassadeurs vergader.

Dame Joan Collins hospitaal toe tydens haar vakansie

Die 89-jarige dame Joan Collins het onlangs onthul dat sy tydens haar vakansie in Monaco hospitaal toe moes gaan om ’n vasgedrukte senuwee in haar been te laat regmaak.

Dame Joan Collins. (Foto: Joan Collins/Instagram)

Sy het op 11 Julie in ’n Instagram-plasing gesê dat sy na die Princess Grace-hospitaal in Monaco geneem is om die prosedure te laat doen.

In die foto lyk sy alte fraai in ’n wit pakkie terwyl sy op ’n boot regstaan vir die kiekie.

Gewilde strokiesprente word oorgemaak

Nuwe weergawes van twee geliefde Cartoon Network-programme is in ontwikkeling, met die skepper van albei aan die stuur van die projek.

The Powerpuff Girls en Foster’s Home for Imaginary Friends kry albei ’n nuwe baadjie deur die Hanna-Barbera Studios Europe.

Craig McCracken, wat albei reekse geskep het, is deel van die twee projekte.

Dit is juis by Hanna-Barbera Cartoons waar McCracken sy loopbaan in 1992 begin het.

‘The Powerpuff Girls’ en ‘Foster’s Home for Imaginary Friends’. Foto: Craig McCracken/Instagram)

“Die Hanna-Barbera-tuiskoms van Craig was ’n geleentheid wat ons nie kon laat verbygaan nie,” het Sam Register, president van Cartoon Network Studios, Warner Bros. Animation en Hanna-Barbera Studios Europe, in ’n verklaring gesê.

“Hy het ’n ongeëwenaarde sin vir pret en verbeelding. Ons is so opgewonde dat hierdie karakters deel is van die nuwe nalatenskap wat by die ateljee geskep word.”

Brad Pitt verras tydens bekendstelling

Die Hollywood-ster Brad Pitt het die nuus gehaal, en ongelukkig nie vir sy uitstekende toneelspelvernuf nie.

Brad Pitt tydens die bekendstelling van ‘Bullet Train’ in Berlyn op 19 Julie 2022 (Foto: John Macdougall/AFP)

Pitt het ’n splinternuwe rolprent, Bullet Train, wat op 5 Augustus vanjaar uitgereik word. Dit is egter nie die rolprent wat koppe laat draai het tydens ’n onlangse bekendstelling daarvan nie.

Pitt het sy draai op die rooi tapyt in ’n bruin romp gemaak.

In ’n bruin linnebaadjie, knielengte-romp en enkelhoogte-stewels het hy die tapyt deurgetrap. ’n Sonbril was dié uitrusting se kersie op die koek.

Hiér kan jy ’n Harry Styles-klas draf

Die Britse pop-ster, Harry Styles, het pas sy eie klas by ’n universiteit in Texas, VSA, gekry.

Studente van die Texas State University sal van die lente in 2023 die geleentheid hê om die “Harry Styles and the Cult of Celebrity: Identity, the Internet and European Pop Culture”-klas by te woon.

Dr. Louie Dean Valencia, assistent-lektor aan die universiteit, het dié aankondiging op Twitter gemaak.

Harry Styles. (argieffoto)

Die klas sal nie fokus op Styles se persoonlike lewe nie, maar eerder die invloed wat hy en sy musiek op hedendaagse aanhangerskultuur, moderne bekendes en verbruikerswese gehad het.

Dit sal kyk na sy kuns, aktivisme, filosofie en musiek.

Valencia het ook gesê dat studente Styles sal bestudeer “op die manier waarop ons die werk van Shakespeare, Tony Morrison, Virginia Woolf of enige groot kunstenaar bestudeer.”

Die kursus sal tel vir gradueringsvereistes vir honneursstudies, wêreld- of Europese geskiedenis, internasionale of Europese studies, populêre kultuurstudies en geslags- en vrouestudies.

Opvolgrolprent aan’t skiet

Dune: Part Two het pas met verfilming begin.

Denis Villeneuve is terug op Arrakis, aangesien die verfilming van Dune se opvolgrolprent uiteindelik aan die gang is.

Timothee Chalamet. (Foto: Richard Shotwell/Invision/AP)

Die rolprent sal in November 2023 wêreldwyd in teaters te siene wees. Villeneuve verfilm die opvolgrolprent in Boedapest, Abu Dhabi, Jordanië en Italië.

Warner Bros. en Legendary het die rolverdeling bevestig, met Timothée Chalamet wat as hoofkarakter terugkeer. Die Oscar-benoemde sal weer by Zendaya, Rebecca Ferguson, Javier Bardem, Josh Brolin, Stellan Skarsgård, David Bautista, Charlotte Rampling en Stephan McKinley Henderson aansluit.

Die Elvis-akteur, Austin Butler, asook Feyd Rautha, Florence Pugh en Christopher Walking sal in die rolprent te siene wees.

Bronne: Deadline, Harper’s Bazaar, Hollywood Life, The Hollywood Reporter, TMZ, Forbes, Variety

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.