Hollywood: ‘Twilight’-ster verwelkom pienkvoet; nuwe rolprente op pad

Kellan en Brittany Lutz het ‘n seuntjie ryker geword. (Foto: Kellan Lutz/Instagram)

Maroela Media bied jou ’n opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Kellan Lutz verwelkom pienkvoet

Die Twilight-ster Kellan Lutz en sy vrou, Brittany, het ’n seuntjie ryker geword.

Die egpaar, wat reeds ’n dogtertjie het, se seuntjie, Kasen Lane Lutz, is op 10 Augustus gebore.

“Ons is verlief en geniet al die baba-drukkies. Ashyn [die paartjie se dogtertjie] is baie lief vir haar bababoetie. Koda [die paartjie se hond] is die oulikste, mees saggeaarde honde-ousus ooit. Dit gaan goed met mamma en baba. Die grootseun eet gereeld en maak hom gereed om soos Hercules, nes sy pa, te lyk,” het Brittany op Instagram gedeel.

Die egpaar se dogtertjie is in 2021 gebore.

Opvolg-gruwelrolprent vir 2023 beplan

Die tiende Saw-rolprent is op pad en sal in Oktober 2023 begin draai.

‘Saw’ is terug vir ‘n tiende rolprent. (Foto: Saw/Instagram)

Dit is gruwelrolprent wat beloof om kykers te boei.

Kevin Greutert, regisseur van die vorige twee Saw-rolprente en redigeerder van die res, keer weer terug na die regisseurstoel.

“Ons het geluister na aanhangers se versoeke en werk hard om ’n fliek te maak waarvan gruwel- en Saw-aanhangers sal hou,” het Mark Burg en Oren Koules, vervaardigers van die rolprent, gesê.

Die eerste rolprent in dié gruwelreeks is reeds in 2004 uitgereik.

Anne Heche se laaste rolprent

Anne Heche se laaste rolprent, Girl in Room 13, sal in September, weke ná die aktrise se skielike dood uitgereik word.

Anne Heche (Foto: Jesse Grant / Getty Images via AFP)

Die regisseur van die Lifetime-rolprent, Elisabeth Rohm, het Heche se laaste toneelspel as “fenomenaal” beskryf.

Die 53-jarige aktrise het op 5 Augustus vanjaar met haar blou Mini Cooper-motor in ’n huis in Los Angeles vasgeploeg.

Sy het ernstige brandwonde, pulmonale beserings en ’n breinbesering opgedoen.

Sy is breindood verklaar en is op 12 Augustus vanjaar dood.

Ezra Miller kry behandeling vir geestesgesondheid

Die ster van Warner Bros se komende superheldrolprent, The Flash, is opgeneem vir die behandeling van verskeie geestesgesondheidkwessies.

Ezra Miller. (Foto: Jamie McCarthy/Getty Images North America/AFP)

Die 29-jarige akteur, wat reeds as die hoofkarakter in verskeie loketrolprente van DC Comics, insluitend Justice League, verskyn het, is vandeesmaand aangekla van inbraak in Vermont. Hy is vroeër vanjaar ook aangekla van wanordelike gedrag nadat hy twee keer in Hawaii in hegtenis geneem is.

Daar is verder bewerings dat hy ’n vrou in ’n Yslandse kroeg in ’n wurggreep gehad het, hoewel hy nie daarvoor aangekla is nie.

Dié gebeure het mense laat kopkrap oor die toekoms van The Flash en Miller se loopbaan.

“Nadat ek onlangs deur ’n tyd van intense krisis gegaan het, verstaan ek nou dat ek aan ’n reeks komplekse geestesgesondheidskwessies ly. Ek het met behandeling begin,” het Miller Dinsdag gesê.

“Ek wil almal om verskoning vra wat bekommerd en ontsteld was oor my gedrag. Ek gaan die nodige werk doen om terug te keer na ’n gesonde, veilige en produktiewe plek in my lewe.”

Ten spyte van die omstredenheid van Miller se optrede beplan Warner Bros om steeds die nuwe rolprent volgende jaar uit te reik.

Nuwe Addams Family-reeks op Netflix

Gruwelaanhangers kan hul vere regskud vir ’n splinternuwe Addams Family-reeks wat Netflix binnekort tref.

Die nuwe Addams Family-reeks is binnekort op Netflix. (Foto: Netflix/Instagram)

In dié weergawe is Catherine Zita-Jones en Luis Guzmán in die skoene van Morticia en Gomez Addams te siene.

Die reeks handel oor Wednesday, Morticia en Gomez se dogter, se studies aan die Nevermore Academy-kosskool.

Tim Burton is in die vervaardigerstoel en het ook die regie van vier van die episodes in die reeks behartig.

Bronne: OK!, Variety, Vanity Fair

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.