‘Housewives’ se Michelle stop ‘stoomtrein van katterigheid’

Michelle het haar kookpunt bereik in Donderdagaand se episode. (Foto: Verskaf)

Die jongste episode van Die Real Housewives van die Wynlande het met ietwat intieme ginekologiese gesprekke aan’t ontbyttafel afgeskop en het later met ʼn vuurwarm konfrontasie tydens aandete afgesluit.

“Hierdie is ʼn stoomtrein van katterigheid. Ek weet ek is nie hulle ma nie, maar iemand moet hulle nou op hulle plek sit,” was Michelle van Zyl, ʼn estetika-dokter, se reaksie nadat sy kookpunt bereik het met die beskuldigings en opmerkings wat tydens die “housewives” se laaste aand by Karen Schwendtke se vakansieoord naby die Krugerwildtuin rondgevlieg het.

Mariska Thorpe, ʼn voormalige welvaartbestuurder en fiksheidsmodel, het ook uiteindelik aangesluit by haar medehuisvroue – wat Amy Kleinhans-Curd, ʼn voormalige Mej. SA, Anita Lloyd, vrou van KWV-baas, Boyce Lloyd en die sakevrou en voormalige sanger, Candice Bester insluit – nadat sy in die derde episode sonder verduideliking nie saam met hulle na Karen se vakansieoord toe gevlieg het nie.

Mariska is ook nie juis met ope arms verwelkom nie, met Karen wat haar daarop gewys het dat sy minstens ʼn rede vir haar afwesigheid kon verskaf.

Mariska, wat die gek met Candice se behoefte aan WiFi geskeer het deur pypskoonmaker-antennas (pipecleaners) op haar kop te dra, het verduidelik dat dit haar dogtertjie se eerste skoolkonsert was en dat sy dit nie kon misloop nie.

“Dink sy sy’s ʼn godin?” het Karen later aan die kameras oor Mariska se sogenaamde “houding” gesê.

“Ek moes hulle seker vooraf gesê het, maar ek het nie gedink my afwesigheid gaan soveel drama veroorsaak nie,” was Mariska se reaksie.

Amy het vinnig die vrede probeer bewaar en Karen daaraan herinner sy vir die vroue ʼn wildrit belowe het.

Hier het Mariska weer in Karen se slegte boekies beland, klaarblyklik omdat sy volgens Karen te veel en te hoog praat. Haar keuse om boonop ʼn wit kortbroek en blink toppie vir dié uitstappie se dra, het Karen net meer krapperig gemaak.

“Ons wat aan die bos gewoond is en dit waardeer, het nie nodig om ʼn modeparade te hou nie,” het Karen gesê nadat sy haar oë oor Mariska se pakkie gerol het.

Karen het weer ‘n dramabelaaide episode gesorg. (Foto: Verskaf)

Ondanks Mariska se geselserigheid het die groep ʼn trop leeus gesien, ʼn eerste vir Candice wat effens senuweeagtig was om hulle van so naby te aanskou.

Later het die ses vroue hulself opgetof vir ʼn laaste aandete by die vakansieoord, waar Karen gevra het dat hulle truth or dare speel – ʼn gevaarlike speletjie volgens Amy en Mariska.

Dié vurige gasvrou, wat in die luukse Val de Vie-landgoed tussen Franschhoek en Stellenbosch woon, het weggespring deur Anita te vra of sy haar ná hul eerste ontmoeting beskinder het.

“Karen is die gasvrou en om jou gaste so persoonlik aan te vat by ʼn etenstafel is onredelik. Ek het onwelkom gevoel,” het Mariska na afloop van dié ete gesê.

Karen het Mariska ook aangevat toe sy gevra het dat die vroue hul eerste indrukke van mekaar moet deel. Sy’t haar verder daarvan beskuldig dat sy die vroue laat gemaak het vir hul wildrit en sy baasspelerig oor die gesprek aan die etenstafel wou wees.

“Sy’s ʼn ou suurknol partykeer, maar sy maak my regtig nie bang nie,” het Mariska later aan die kameras vertel.

Hier het Michelle haar kookpunt bereik en ingespring om dié speletjie te probeer beëindig.

Mariska het Michelle se uitbarsting as “histeries” bestempel en bygevoeg dat sy nie “só tipe reaksie van ʼn traumadokter verwag het nie”.

Mariska beduie hoe dinge ‘ontplof’ het tydens aandete. (Foto: Verskaf)

“Ek kry al hoe meer die gevoel dat Mariska nie van my hou nie, en sy hoef ook nie, maar moenie ʼn gek van my maak nie, want dis fynboelie,” het Michelle teruggekap.

“My jare by die staatshospitale was makliker as hierdie naweek.”

Die vroue het later aan die kameraspan erken dat elkeen se indrukke van mekaar verskil ná dié bedrywige naweek saam. Anita, Michelle en Amy voorspel boonop elkeen nog ʼn groter ontploffing van gemoedere in die toekoms.

Hoewel gasvrou Karen die naweek as ʼn sukses bestempel het, het sy Mariska se poging om dit met ʼn laaste glas wyn te beklink van die hand gewys.

“O genade, dit gaan so exciting wees. Hier kom nog baie drama,” het Amy oor die opwinding wat nog vir kykers voorlê gesê.

  • Die Real Housewives van die Wynlande wys Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is beskikbaar op DStv Catch Up.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

kommentaar ·

Nie dat een van hulle seker hier lees nie, maar, Sal hulle werklik so verleë wees oor 15 minute van roem of werklik nie omgee hoe hulle oor kom nie?

Magda G ·

Die spul kan gerus minder dramatizes wees. So aanstellerig en regtig n pyn

Minnie ·

Hulle laat vrouens sleg lyk…..tensy die program bedoel is om komies te wees. Nie een van hul tree normaal op nie. Nog swak toneelspel ook. Ha ha
Dan praat ek nie eers van hul vloekery nie. Dit walg my.
Vroue van die Pretoria reeks het darem klas gehad. Die spul is net kommin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.