Johan Stemmet groet ‘Noot vir noot’

Johan Stemmet (Foto: Argief)

Johan Stemmet is een van die bekendste gesigte in die Afrikaanse vermaakwêreld, en kuier al vir amper drie dekades weekliks in duisende kykers se sitkamers.

Hy is al vir die afgelope 29 jaar aanbieder van die gewilde musiekprogram Noot vir noot, maar het Donderdag aan Maroela Media vertel dat sy tyd op dié bekende program volgende week finaal tot ʼn einde kom.

“Dit is verskriklik hartseer. Dit was ’n groot fase van my lewe, maar alles in die lewe het seisoene en daar is ʼn tyd vir alles. ʼn Mens staan op ʼn dag op, kyk in die spieël en al weet jy jy kán nog aangaan, is dit dalk beter vir die evolusie van die program om nou ʼn verandering te maak,” het Stemmet gesê.

Stemmet het verwys na AB de Villiers se woorde toe hy uit internasionale krieket getree het. “Hy het gesê hy wou ophou speel terwyl hy nog goed speel. En dit geld vir my ook – nou dat ek nog lekker aanbied en dat ek nog gesond is, is dit tyd om klaar te maak. Ek wil ophou terwyl die program nog goed doen.”

Stemmet is al vir 38 jaar betrokke by verskeie musiekprogramme by die SAUK. Hy het Noot vir noot aangebied én agter die skerms van die programme Musiek-roulette en In die kollig met… gewerk. Stemmet gaan steeds deel van die program wees, maar nie meer die aanbieder wees nie.

“Ek is steeds die regisseur en ek doen steeds die kameraregie, so ek gaan nou net agter die skerms betrokke wees, nie meer voor die kamera nie,” het hy gesê.

Stemmet gaan nou meer daarop fokus om vir Noot vir noot ʼn nuwe baadjie aan te trek: Die program kry ʼn nuwe formaat en ʼn nuwe, jonger aanbieder.

“Dit sou nooit gewerk het as ons die formaat dieselfde hou, maar net ʼn ander aanbieder insit nie. Dit is hoekom die program, saam met die nuwe aanbieder, in ʼn nuwe formaat inbeweeg. Die speletjies en interaktiwiteit gaan dieselfde bly, maar die stel en formaat sal verander,” het hy gesê.

Die nuwe aanbieder is nog nie bekend gemaak nie en Stemmet het gesê hy laat dit oor aan die SAUK om dié aankondiging te maak.

Johan Stemmet kry ‘n Safta-toekenning vir lewenslange bydrae tot die televisiebedryf. (Foto: Facebook/Saftas)

Stemmet sal op 24 Januarie die laaste keer in Noot vir noot te siene wees vir ʼn liefdadigheidsprogram.

Noot vir noot is tans die 13de gewildste program op die SAUK se programlys, en Stemmet sê die sukses van die program is alles net genade.

“Hierdie goed gebeur net wanneer die Here sê: ‘Johan hier is vir jou iets om mee te werk.’ ʼn Mens kan nie so iets beplan nie, dit is net genade om ʼn so ʼn ding te kan doen. Maar dit is belangrik om werk te maak daarvan wanneer dit aan jou toevertrou word. Dit is hoekom ons heeltyd aan die program moet skaaf,” het hy gesê.

“Die sukses van enige program lê in die evolusie van die program. Daar moet altyd veranderinge wees om mense geïnteresseerd en om die program interessant te hou. Die oomblik as hy stagneer gaan hy vrek. En dit is wat nou gebeur het – ʼn nuwe deel van die evolusieproses het aangebreek,” het hy gesê.

Stemmet het gesê hy is verskriklik hartseer om die program, en merendeels die mense te verlaat. Hy meen die interaksie met die deelnemers, gehoor en mense by die huis is ewe belangrik.

“Ons het die hele land vol getoer, ek het die kykers ontmoet, leer ken en saam met hulle gekuier. Wanneer ek in die kamera kyk, sien ek nie eens meer die kamera nie, ek sien die mense wat by hul huise vir my kyk, want ek weet wie hulle is, ek ken hulle en ek was al in hul huise! Ek gaan daardie soort interaksie verskriklik mis. Vir my het dit net gevoel soos om te kuier saam met mense wat ek ken,” het hy gesê.

“Dit is ʼn groot deel van my lewe wat nou verby is, dis drie dekades! Ek gaan lekker huil en ek is baie hartseer, maar meer as alles is ek opgewonde oor wat kom. Ek glo dit gaan nog sterker wees as vantevore.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

#silly ·

Maryna my meisie, 50 randjies vir jou! Lekker lag ek nou! ;)

Hester ·

Ek onthou nog hoe my ma wat Alzheimer gehad het, letterlik met Johan gesels en gelag het in sy programme. Sy was dan in n ander wêreld

Zanie ·

Gaan oom Johan baie mis! Noot vir Noot sal nooit weer dieselfde wees nie!

Gesiggie ·

Hoe lyk dit…. hoe lyk dit… ag Nee… ek gaan vir Johan Stemmet mis…hy was voorwaar n puik aanbieder, altyd netjies en op sy plek… so n gawe man… word ook nie oud?? Johan … noot vir noot sal nooit weer dieselfde wees sonder jou… maar jou toekoms wag… maybe moet die kykers stem?? wie hul as die nuwe aanbieder kies vir Noot vir Noot….als wat mooi is vir jou Johan… en ja nie n R50 randjie… vir jou…. maar wel n miljoene vaarwel van al jou kykers… Ons groet jou….en sal jou mis

B ·

Meer tyd vir vlieg Johan! ??

Baie dankie vir jou GROOOOT bydrae tot Afr musiek ?

koos ·

Dankie Johan, vir 30 jaar se ontspanning (en ook spanning!).
Die SABC het probeer om kykergetalle te laat daal deur met die tyd gleuf rond the voeter, maar jou Noot vir Noters het bly kyk. Dit wys dat die Hand van die Here werklik met jou was.
Dankie ook vir al die borge deur die jare (ook vir jou onderbaadjies), ek dink hierdie is ‘n einde van ‘n era.

Annemari ·

Gaan jou mis. Geniet die nuwe uitdaging.
Nag ou Grootte!!

Zettie ·

“Kyk hoe kyk sy vir my, kyk hoe kyk sy vir my” – ai………tyd gaan so gou verby. Kan nie glo dis al amper 30 jaar nie!!!! Alle sterkte vorentoe.

HB ·

Ek het Johan Stemmet ontmoet baie jare gelede toe hy begin het by die SAUK en weer later toe hy vir homself begin naam maak het. Toe was ons almal nog jonk getroud met die eerste kindertjies.
Ek dink hy se totsiens op ‘n hoe noot!

Wat n plesier! !! ·

??Saam dit groot geraak. Dankie vir n pragtige program. Gedog Kasper de Vries sal die leisels oorneem. Sterkte en vaar wel dankie ook aan die musiek fabriek julle is ysters???

B.B. ·

Johan jy gaan “Baie” gemis word….Hoop iemand anders kan jou skoene volstaan….
Kyk wat het met 7de laan gebeur….kyk dit glad nie meer NIE!!
Elk geval sterkte met jou toekoms vorentoe…Soos jy se…daar is n tyd om te gaan, terwyl jy nog goed is..en jy is..!!

RATEL ·

Wat n legende!!! Hy was Noot vir Noot wat generasies van Afrikaners vermaak het. Wie sal ooit die R50 met die komplimente van Absa vergeet! Ek wil by hom en Riaan Cruywagen nog hoor hoe mens nie oud raak!
Wens Johan als wat mooi is in sy nuwe uitdaging.
Dankie vir Als

Pretorius gesin. Drie Riviere Vereeniging ·

Baie dankie vir heerlike vermaak Johan!
Dit sal nooit weer dieselfde wees nie.
Alles van die beste vir alles wat jy vorentoe gaan aanpak!

Dieter ·

Hy en Riaan Cruywagen is in dieselfde kaliber. Legendaries.

Petra ·

Nee Dieter, Riaan is darem uniek en in n baie hoër klas as Johan

Johann ·

Stem saam. My ‘n groot pyn gegee. Kan ook glad nie sing nie!

koos ·

Blommie, jou keuse. Ons het werklik jou ondersteuning waardeer om Afrikaans lewend op die lug te hou.

Lied vd Lewe ·

Baie goeie program gewees kyk dit v ek klein seuntjie was. Hoe waar is Ge Korsten se “Lied van die Lewe” se woorde nie. Sterkte oom Johan

Laetitia ·

Dankie Johan Stemmet, Johan van Rensburg en die musiekfabriek.
Nie net het julle vir ons soveel plesier gegee nie, maar ook ons musiekkennis verbreed.
Sterkte op die pad vorentoe.

Ans ·

Johan BAIE BAIE DANKIE vir die beste musiek program OOIT!! So bly om te hoor dat jy wel gaan aanbly om agter die skerms te werk want dit verseker dat die program nog op standard sal bly!

Alicia ·

Sjoe, wie ook al by jou oorvat Johan, het groot skoene nodig. Dankie vir ‘n dekade se tyd genot.

HJ ·

Dis ongelooflike slegte nuus. Niemand sal Jou skoene kan volstaan nie. Ons gaan jou baie mis. :-(

bosluis ·

Dink hulle moet dit ook sommer nie meer Noot vir Noot noem nie, want dit gaan nie meer Noot vir Noot wees sonder Johan as aanbieder nie. Wielie Walie het ook geflop toe Magda van Biljon en Gert van Tonder dit nie meer aangebied het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.