‘Kokkedoor’ is terug met ’n splinternuwe voorskoot

‘n Skermskoot van ‘n episode uit ‘n vorige ‘Kokkedoor’-seisoen. (argieffoto)

Diegene wat entoesiasties en gereeld hul kookvernuf tuis ten toon stel, kan hul vere regskud en voorskote aantrek, Kokkedoor, is weer op pad kassie toe.

Dié gewilde kookprogram vier in 2023 sy tiende verjaardag deur ’n splinternuwe, opwindende seisoen van stapel te stuur.

Wanneer dié unieke reeks volgende jaar van die spensrak afgehaal word, trek dit ’n nuwe braaivoorskoot as Kokkedoor Vuur & Vlam aan. Deelnemers sal alle geregte op kole, in die vlamme, binne-in die as of op die rooster in dié seisoen moet voorberei.

In 2013 het kykers vir die eerste keer met dié koswerklikheidsreeks kennis gemaak. Koekedoor, Kokkedoortjie en Koekedoortjie in die jare daarna het ook die skerms getref.

Die reeks kosmaakprogramme het deur die jare heen heerlik in Afrikaanse huise en harte nes geskrop.

kykNET is op soek na vurige spanne, wat uit twee lede elk bestaan, om aan die reeks deel te neem. Die span sal bestaan uit een lid wat werksaam in die kosbedryf is, en ’n familielid wat bloot ’n entoesiastiese tuiskok, oftewel braaier, is.

Die verfilming van die reeks vat in 2023 vlam en tuiskokke word genooi om in te skryf.

Deelnemers moet ten minste 18 jaar oud op die dag van die oudisie wees. Enige Suid-Afrikaanse of Namibiese burger met ’n geldige identiteitsdokument kan aan die kompetisie deelneem.

Oudisies sal in Bloemfontein, Gauteng en Kaapstad in Januarie en Februarie 2023 gehou word.

Die spanne wat deurdring om deel te neem, gaan van 17 April tot 6 Mei 2023 in die Kaap-omgewing beskikbaar moet wees.

Die sluitingsdatum vir inskrywings sluit op 1 Desember 2022.

Vir meer inligting stuur ’n e-pos na [email protected]/.

Skryf só in

Besoek www.kyknet.tv of stuur ’n video per WhatsApp-boodskap na 064 736 5013. Vir die inskrywingsvideo, wat nie langer as drie minute mag wees nie, moet spanne die volgende doen:

  • Hulself bekendstel.
  • Vertel wie hulle is.
  • Sê van waar hulle is.
  • Verduidelik wat die professionele spanmaat se kwalifikasies of kos-agtergrond is.
  • Beskryf wat die familieverband is.
  • Vertel hoekom hulle wil deelneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.