Louis Pretorius skep Karoosjarme vir die kassie

Louis Pretorius het sy skryfvernuf vir sowat agt jaar by die kykNET-sepie ‘Binnelanders’ geslyp. Hy was ook die medeskrywer van reekse soos ’Vallei van sluiers‘, ’Die Boland Moorde’, ‘Fynskrif’ en ‘Kompleks’. (Foto: Verskaf)

As kind het hulle deurnag met die trein van Pretoria na sy oupa-hulle se plaas naby Strydenburg in die Karoo gery en dikwels die gasvryheid van ʼn plattelandse gemeenskap ervaar.

Dekades later is Louis Pretorius, skrywer van die uiters gewilde reeks Die Boekklub, se kleintydherinneringe opgediep toe die Karoo onverwags aan sy deur geklop het.

“My skoonouers kom oorspronklik van Merweville af. Hulle het in ʼn stadium weggetrek, maar later teruggekeer om na hulle ouers om te sien,” vertel Pretorius.

Dit is waar hy die eerste keer van Merweville, wat tussen Laingsburg en Beaufort-Wes geleë is, gehoor het en ook een van die redes waarom hy besluit het om Tom se verhaal in dié Karoodorp te laat afspeel.

Merweville was egter nie die hoofbron van inspirasie vir Die Boekklub nie. Pretorius sê die idee het by hom opgekom toe hy eenkeer by sy skoonsuster in Kanada gaan kuier het.

“Ons het deur die sneeubedekte landskappe gery en sy het my van hierdie boekklub vertel wat al 25 jaar bestaan en waaraan sy self behoort. Ek het net gedink dit is so ʼn amazing idee vir ʼn storie.”

Toe kykNET in 2011 ʼn tender vir dramas uitstuur, het Pretorius ʼn konsep vir Die Boekklub voorgelê. Die konsep is eers afgekeur voor dit in 2013 aanvaar is en daarna het Pretorius in 2014 byna ʼn jaar lank aan die reeks geskryf.

Die produksiespan van die gewilde kykNET-reeks, ‘Die Boekklub 2’. (Foto: Verskaf)

Pretorius sê toe hy moes begin skryf en besluit waar Tom se verhaal sou afspeel, het hy dadelik aan Merweville gedink. “Ek het die verhaal uiteraard na die Karoo verplaas, omdat dit so ʼn groot deel van my kleintydherinneringe is.”

Met Die Boekklub wou Pretorius kykers laat voel of hulle saam in die Karoo kuier.

“Die Merweville-gemeenskap hou elke jaar einde April ʼn dankfees by die kerk op die dorp. Hulle kom van oral om konsert te hou en pannekoek en basaarpoeding te eet. Dit is uiteindelik wat ek wil hê die kyker moet doen: hulle moet kom kuier, terugsit en dit geniet en soos Tom Niemand deel van Merweville en Die Boekklub word.”

Pretorius sê hy wil graag glo dat hy in sy doel geslaag het om vir kykers ʼn tuiskoms in die Karoo te skep.

“As jy kyk hoeveel mense Merweville nou nog besoek en hoeveel keer die dominee op ʼn Sondagmiddag al wakker geklop is deur iemand wat Bettie se gastehuis wil sien,” sê hy.

Pretorius sê hy wil ook glo dat hy op ʼn manier ʼn universele storie geskep het met Die Boekklub wat by mense geresoneer het en waar hulle hulleself in alle fasette kon insien.

“So, hulle sê jy het jou eerste kind die liefste; ek het wel net een kind, maar wat my betref, sal ek altyd Die Boekklub die liefste hê,” erken Pretorius.

Dié uiters gewilde kykNET-reeks het heelwat pryse verower. Dit sluit in ʼn paar Safta’s, ʼn ATKV-Mediaveertjie vir beste draaiboek vir ʼn dramareeks of enkeldrama en die SA Akademie se Deleen Bekkerprys vir die beste draaiboek vir ʼn TV-drama.

Hoewel hy nie pryse en erkenning verwag nie, is dit wel iets waarvoor ʼn mens hoop en wat ʼn lekker gevoel aanwakker, meen Pretorius.

“Dit voel of ʼn mens se werk raakgesien word,” sê hy. “Skryf is ʼn ontsaglik eensame beroep. Meer so, dink ek, as ander beroepe.

Hier is Louis Pretorius en en Johan van Jaarsveld besig met die verfilming van ‘Vallei van Sluiers’. (Foto: Verskaf)

“Binne die kunstebedryf werk uitvoerende mense gewoonlik saam met ander mense, soos onder meer regisseurs wat saam met akteurs en tegnici werk. Skeppende kunstenaars (beeldhouers, skrywers of komponiste) werk onafhanklik; dit is net jy en jou palet, sleutelbord of klavier. Wanneer die produksie dan afgehandel is en jy as skrywer ʼn hoed-lig of erkenning kry, is dit regtig wonderlik.”

Pretorius het sy skryfvernuf vir sowat agt jaar by die kykNET-sepie Binnelanders geslyp. Hy was ook die medeskrywer van reekse soos Vallei van sluiers, Die Boland Moorde, Fynskrif en Kompleks.

“Ek het aan die einde van my honneursjaar ʼn oudisie by Binnelanders afgelê as skrywer en toe ingekom as dialoogskrywer. Dit is waar als vir my begin het,” vertel hy.

Ongeveer in dieselfde tyd het Margot Luyt ʼn klas oor radioskryf by die dramadepartement waar hy studeer het, aangebied. Pretorius het haar genader en gevra of hy ʼn voorstel vir ʼn radiovervolgverhaal kon indien. Sy voorstel vir die reeks, getiteld Kortom, is toe aanvaar en Pretorius het die teks geskryf.

Elizabeth Archer, wat een van die stemme vir die verhaal was, het baie van Pretorius se tekste gehou en het hom toe aan haar man, Johan van Jaarsveld, voorgestel.

Louis Pretorius is hier saam met Albert Snyman tydens die verfilming van ‘Die Boekklub’ se tweede reeks. (Foto: Verskaf)

“Ek en Johan het begin saamwerk en dit is waar Vallei van sluiers vandaan kom. Hy het die konsep ingedien en toe dit aanvaar is, het ons verder saamgewerk.”

In die tyd by Binnelanders het Pretorius ook saam met Albert Snyman, sy sakevennoot tot vandag toe, gewerk.

“Hy het my genader en gesê hy het hierdie idee vir ʼn moordverhaal en dit is waar Die Boland Moorde begin het. Uit dié reeks het die res van my loopbaan ontwikkel tot waar ek vandag is.”

Pretorius verklap dat hy tans besig is met sy eerste Showmax-reeks wat na verwagting teen die einde van dié jaar te sien sal wees.

“Dit is ʼn reeks vir ʼn vrouegehoor; dink aan programme soos Younger en Emily in Paris. Die storie het drie sterk vroueprotagoniste en dit is nogal interessant dat die produksiespan saam met wie ek werk ook uit ʼn groep sterk vroue bestaan.”

Louis Pretorius saam met sy vrou, Mareli, en hul seuntjie, Lukas. (Foto: Verskaf)

Pretorius woon in Stellenbosch saam met sy vrou en hulle seuntjie, Lukas. Vir hom is die werk van ʼn skrywer net soos om ʼn alledaagse agt-tot-vyf-beroep te beoefen. Pretorius werk gefokus en gedissiplineerd en nie op ongewone tye soos wanneer die muse om middernag opdaag nie.

“ʼn Skrywer is opgelei in tegnieke – jy het sekere tegniese vaardighede wat jy kan bemeester. Al is die muse nie vandag met jou nie, weet jy hoe om ʼn storie of toneel te konstrueer. Die enigste manier om deur skrywersblok te werk is om daardeur te skryf.”

Hy benadruk egter dat om vir die televisiemedium te skryf bepaalde eise aan die skrywer stel, dat dit soos ʼn onderneming funksioneer en dat hy graag hieraan voldoen.

“Ek skryf nie vir televisie omdat ek eintlik rolprente of teaterproduksies wil vervaardig nie. Ek skep televisie omdat ek niks anders wil doen nie. As jy dan daardie perd opsaal, moet jy besef dat jy vir ʼn gehoor en vir ʼn kanaal skryf. Dit is waar ek my vervaardigershoed en nie my skrywershoed aansit nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.