Luister: Anton Dekker, juweelstem in Afrikaanse skatkis

Anton Dekker in Maroela Media se ateljee. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Karakterskepping en storievertel is so deel van sy menswees soos wat sy diep, bulderende stem deel is van sy gene.

Só vertel die bekende Afrikaanse akteur en stemkunstenaar Anton Dekker in sy kenmerkende stem in Maroela Media se ateljee – ʼn ruimte waarmee hy goed vertroud is nadat hy ook in ʼn rits van Maroela Media se radiodramas gespeel het.

Op 13-jarige ouderdom was sy stem reeds sterk en bulderend, nes dié van sy pa en twee broers.

“My pa is bekend vir sy sterk stem en albei my broers het ook sterk stemme. Ek het uiteraard gewerk daaraan om my stem en die omvang daarvan uit te bou. My stem is my instrument en soos ʼn atleet moet ek oefen om dit fiks te hou,” verduidelik Anton.

ʼn Vol en kleurryke vryskutakteursloopbaan wat strek oor vier dekades is iets waaroor die meeste akteurs net kan droom, maar Anton glo dit is sy passie vir storievertel wat deur die jare gesorg het dat hy altyd skeppend kan wees.

“As jy ʼn akteur wil word omdat jy op die voorblad van ʼn tydskrif wil wees, maak jy die fout van jou lewe. Daar is selfs meriete daarin om te sê jy wil ʼn akteur word omdat jy mense wil vermaak, maar as jy sê jy wil ʼn akteur word omdat jy geloofwaardige karakters wil skep, dan glo ek sal jy suksesvol wees.”

Anton-Dekker_Moregloed.jpg

Anton Dekker. (Foto: Su-an Müller-Marais)

Sedert hy in 1981 by die Tranvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste (Truk) aangesluit het, is hy so te sê sonder om asem te skep besig om te werk in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf.

Op die verhoog was hy al in talle stukke onder leiding van regisseurs soos Henry Mylne, Sandra Kotze en Chris van Niekerk, terwyl hy in flieks soos Oh Schucks I’m Gatvol, Hansie, Ballade vir ʼn enkeling, Pad na jou hart, Vaselinetjie en Raaiselkind te sien was.

Hy het ook in sepies soos Egoli, Binnelanders en Villa Rosa gespeel en hy het selfs ʼn draai gemaak op die stel van die vierde seisoen van die internasionale reeks Black Sails, waarin hy die rol van Tom Morgan vertolk het.

“Ek het aanvanklik internasionale politiek geswot, maar ek het gou agtergekom my passie lê elders. Ek het as kind al ʼn bietjie gespeel en my voete natgemaak met radioteater en oorklankings. Toe ek uit die bloute ʼn rol in die fliek Games of Vultures kry, het ek besef ek hou baie van wat ek doen, maar ek het geen idee wat ek doen nie en ek het geen tegniek nie.

“Dis toe ek besluit om drama te gaan studeer.”

Die span van ‘Briekaandraai 2’ in die Maroela Media-ateljee. Voor is Izel Bezuidenhout, Bettie Kemp en Anton Dekker. Agter is Luan Jacobs, Ria Smit, Stefan Vermaak en Antowan Nothling. Heel links is Marius Vermaak (ateljeebestuurder). (Foto: Maroela Media)

In die stil tye kyk hy die een fliek na die ander en verdiep homself in die karakterskepping van regisseurs wêreldwyd. “Ek gaan tans deur ʼn Spaanse fase.”

As hy nie besig is om in een van die legio karakters wat hy vertolk se skoene te klim nie, is hy tuis in Johannesburg saam met sy lewensmaat en haar laerskooldogter.

“My vrou is agt jaar gelede oorlede en ek het gedink ek gaan vir altyd alleen wees. Ek het drie volwasse kinders en is oupa van ʼn paar kleinkinders. Ek het egter onverwags ʼn jonger vrou ontmoet en sy het ʼn jong dogter.

“Dus is ek nou die ouderdom van ʼn oupa, maar ek koop nog balletskoentjies en sit nog by die ouervergaderings van die laerskool,” lag hy.

  • Luister boaan die berig na die volledige ateljeeonderhoud met Anton Dekker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.