Luister: Bekende TikTokker draai eersdaags in gewilde sepie

Chané Grobler. (Foto: Verskaf)

Chané Grobler is ʼn sosialemediabeïnvloeder wat Loftus Versfeld byna 50 keer kan vol maak met die meer as 2,5 miljoen volgelinge wat sy op TikTok het.

Nie net betaal handelsmerke soos Levi’s, Lamborghini, GHD, Netflix en Samsung die 21-jarige blondekop om hulle produkte te bemark nie, maar sy is ook onlangs deur die kykNET-sepie Binnelanders genader om ʼn kameerol te vertolk.

Grobler sal van 15 tot 22 November die rol van haarself in dié gewilde hospitaaldrama speel. Sy sal hoofsaaklik teenoor die verpleegsters Bonnie (Antoinette Modise) en Gaby (Maude Sandham) op die kassie verskyn.

Sy vertel in die Maroela Media-ateljee sy was baie senuweeagtig op die stel van die sepie, maar dat sy dit nie kan vergelyk met die druk wat gepaard gaan met die miljoene oë wat haar daagliks op sosiale media dophou nie.

“Mense verwag baie en jy kan nie ʼn voetjie verkeerd sit nie. Die wêreld kyk na jou onder ʼn vergrootglas,” sê Grobler.

Sy het op TikTok beland nadat sy die app Musical.ly op Instagram raakgesien en besluit het om dit af te laai. Toe dié app later na TikTok verander het, het haar video’s stelselmatig soos ’n veldbrand begin versprei.

“Ten spyte van die druk is daar geen ander bedryf waarin ek sal wil wees nie. Ek het vrye kreatiewe teuels en geniet dit wat ek doen ongelooflik baie.”

Chané Grobler kuier in Maroela Media se ateljee. (Foto: Maroela Media)

Haar rol in Binnelanders gaan juis die kollig laat val op die beeld wat deur bekendes op sosiale media geplaas word.

“In die storie gaan ek vir ʼn operasie aan my neus om my te help om beter asem te haal, maar een van die verpleegsters gaan op hol met ʼn skinderstorie dat ek kosmetiese werk aan my neus laat doen – dit terwyl ek as beïnvloeder die boodskap verkondig dat ʼn mens jouself moet aanvaar soos jy is. Dit ontketen natuurlik ʼn herrie op sosiale media en daar moet dringend vure doodgeslaan word.”

Dié storielyn is nie baie ver verwyder van Grobler se eie lewe af nie, en sy moet ook gereeld die houe wat deur sosialemediagebruikers in kommentaarafdelings uitgedeel word, trotseer.

“Mense voel baie vinnig beledig en sal jou uitmekaar trek net om iets leliks te kry om oor jou te kan sê. Daarom plaas ek nie sommer net enigiets nie en dink deeglik oor die nagevolge. Daar is baie keyboard warriors wat uit hulle pad gaan om jou af te breek.”

Hoewel dit party oggende moeilik is om uit die bed uit op te staan met dié soort druk wat op haar geplaas word, is dit ook vir haar lekker om te weet sy is ʼn rolmodel vir soveel jong mense.

“Sommige dae sukkel ek nog om te begryp dat mense opkyk na my. Ek het ʼn baie jong gehoor en daarom bemark ek ook nie sommer net enigiets wat nie met my eie waardes belyn is nie.”

Vir ander jonges wat graag ʼn loopbaan as beïnvloeder wil bou, het Grobler net een stukkie raad: “Wees jouself. Niemand hou van iemand wat ander mense namaak of voorgee om iets anders te wees nie. Moenie bang wees om oorspronklik te wees nie en maak tyd om jou niche te vind.”

Binnelanders word elke weeksaand om 19:30 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai en is ook op DStv CatchUp beskikbaar.

  • Luister boaan die onderhoud na die volledige onderhoud met Chané Grobler.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.