Luister: ‘Bravo’ se Ewan Strydom leef nou TV-passie uit

Ewan Strydom. (Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Ná sewe jaar as omroeper by die Kaapse radiostasie Smile FM, het Ewan Strydom besluit om sy fokus ten volle toe te spits op die ding wat sy hart die vinnigste laat klop: die televisie.

Ewan erken dat hy in die afgelope sewe jaar van sy lewe lief vir radio as medium geword het, maar dat hy aan die einde van laas jaar besef het dat hy nie meer al die balle in die lug kan hou nie.

“My groot liefde en passie was maar nog altyd televisie, en hoewel ek radio vreeslik geniet het, het dit die afgelope ruk moeilik geraak om alles te hanteer,” erken Ewan aan Maroela Media.

“Ek was net op ʼn punt waar ek besef het dat ek op my passie moet begin fokus. Alhoewel dit ʼn moeilike besluit was, glo ek dit was die regte besluit.”

Ewan is al sedert 2019 as aanbieder van kykNET se geselsprogram Bravo! doenig. Dié rol is een wat sy hart besonders vinnig laat klop, trouens hy beplan om sy pad met Bravo! na nuwe hoogtes in 2024 te laat skiet.

Plaasseun in die groot stad

Ewan het in Honeydew grootgeword, maar hy ag homself steeds as ʼn boerseun wat nooit sy liefde vir die plaaslewe verloor het nie.

Dié 40-jarige akteur het ná sy skoolloopbaan in 2001 geëindig het, besluit om die waters van ʼn hele paar ander lande te toets. Hy het destyds as model gewerk, wat nie net vir hom die geleentheid gegee het om die wêreld plat te reis nie, maar ook uiteindelik gelei het tot ʼn ontmoeting met ʼn Hongaarse skoonheid waarmee hy vanjaar reeds 15 jaar getroud is.

Ewan en Adrienn destyds as modelle. (Foto: Ewan Strydom/Instagram)

Ewan het Adrienn, wat ook as model gewerk het, destyds in Thailand ontmoet. Hulle het in hul 15 jaar lange huwelik twee seuns, 11-jarige Kean en agtjarige Dominic, verwelkom.

“Ons het nooit werklik die geleentheid gehad om op ʼn wittebrood te gaan nie,” vertel Ewan. Dit is juis om dié rede dat die Strydom-gesin later vanjaar ʼn reistog Thailand toe gaan aandurf.

“Ons gaan terug na die land waar ons ontmoet het, dit is besonders spesiaal.”

ʼn Onverwagse wending

“Om ʼn aanbieder te word, was nie iets wat eintlik op my radar was nie,” erken Ewan. Tot die dag waarop hy besluit het om vir ʼn kompetisie in Men’s Health in te skryf, natuurlik.

“Ek het eintlik net loopplank- en fotografiemodelwerk gedoen. Die kommunikasie-aspek was glad nog nie deel daarvan nie,” vertel hy. “Met die kompetisie is ek gekies om deel van die toptien te wees. Dit was ʼn werklikheidsreeks, en ons moes bietjie persoonlikheid hê.”

Min het hy geweet dat iemand van Homebrew Films, wat vandag as vervaardigers vir Bravo! dien en ook die kompetisie waaraan Ewan deelgeneem het, vervaardig het, hom met ʼn valkoog dopgehou het.

Ewan, Adrienn, en hul seuns, Dominic en Kean. (Foto: Ewan Strydom/Instagram)

Kort daarna is hy genader om ʼn oudisie vir ʼn M-Net-werklikheidsreeks, All Access, af te lê – wat sy loopbaan as aanbieder behoorlik afgeskop het.

“In daardie stadium was die idee van ʼn aanbiedersrol vir my vreesaanjaend, ek het dit nog nooit in my lewe gedoen nie,” erken Ewan, vir wie die produksieproses eintlik ʼn skokkende ervaring was.

“Wanneer mens TV kyk, is daar ʼn prentjie en iemand wat gesels. Jy dink dis so maklik, maar daar is ʼn groot tegniese aspek daaragter. Dit het my nogal ontsenu.”

Dit het Ewan, wie se lewensuitkyk is om ja te sê vir die dinge wat hom die skrik op die lyf jaag, egter nie koud gesit nie. Hy het nie vanuit ʼn akademiese agtergrond by die proses aangesluit nie; wat hy weet van televisieprogramme aanbied, is wat hy tydens sy werk as aanbieder geleer het.

“Ek het al die klippe gekou wat moontlik gekou kan word. Daar is net iets aan hierdie bedryf wat my bly trek.”

Plaasjapie 2

Toe Ewan destyds genader is om ʼn oudisie af te lê vir die aanbiedersrol van kykNET se werklikheidsreeks Plaasjapie, het hy byna onmiddellik geweet dat dit vir hom bestem is.

Die tweede seisoen van die reeks sal eersdaags uitgesaai word, en is ʼn wyle gelede op ʼn plaas net buite Malmesbury verfilm.

(Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

“Ons het groter gegaan dié keer. In die eerste seisoen het ons stadig maar seker ekstra goed, soos ʼn hoender of twee, op die plaas gesit. Hierdie keer het die deelnemers ingeloop op ʼn volwaardige klein plasie.”

Kykers kan uitsien na nuwe uitdagings, ʼn klein bietjie meer druk en baie meer aksie wanneer dit by die Koöperasiekuiers kom.

“Ek het vir baie jare in Engelse aanbieding gewerk. Dit het my oë oopgemaak om in die Afrikaanse mark in te klim, en deel te word van die kykNET-familie.

“Ek het net weer besef hoe wonderlik ons Afrikaanse mense is.”

  • Luister boaan die artikel na ‘n volledige klankonderhoud met Ewan Strydom. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.