Luister: Jo Black oor rol as vlerksleepvriend, nuwe musiek en buitelandse konserte

Jo Black kuier by Maroela Media. (Foto: Maroela Media)

As Jo Black ʼn rand gehad het vir elke keer wat iemand hom voorkeer om te vra wie die sanger Brendan Peyper se hart gesteel het in Op my eish!, sou hy nie meer hoef te sing nie.

“Dan het ek hierdie jaar verlof geneem en gaan gholf speel!”

Só skerts die sanger en aanbieder Jo Black in Maroela Media se ateljee oor sy rol as vlerksleepvriend in die kykNET-program Op my eish!, waarin hy vir Brendan ondersteun om moontlik die liefde van sy lewe te ontmoet.

Wat kykers egter nie besef nie, is dat Jo nie ʼn woord mag rep oor hoe die program gaan uitspeel nie, sê hy.

“KykNET het my genader om vir Brendan te ondersteun, om hom te help om die kat uit die boom te kyk en vir hom advies te gee. Agter die skerms is dinge snaaks en my raad is meer direk, maar as die kameras rol, kies ek my woorde mooi om nie te klink of ek hom te hard uittrap nie, maar ook dat dit nie moet klink asof ek ʼn gunsteling het nie.”

Volgens Jo was dit ʼn heerlike ervaring om deel te wees van Op my eish!. “Vir ses weke lank werk jy saam met die lekkerste mense op die mooiste ligging, maar wanneer die kameras af was, het ons baie gelag en groot sports gehad.”

Brendan Peyper en Jo Black. (Foto: Verskaf)

Jo sê talle kykers dink die reeks is vooraf opgestel en dat daar reeds besluit is oor hoe dinge gaan uitdraai.

“Dit is glad nie so nie. Dit wat jy op jou TV sien, is presies wat gebeur het. Wanneer die kameras nie rol nie, mag Brendan nie naby die meisies kom nie. Kom ek stel dit so: Daar is miskien van die meisies wat daar is om raakgesien te word en ander wou dalk net vir Brendan ontmoet, maar daar is van hulle regtig daar is om liefde te vind.

“Daarom het ek vir Brendan gesê dat al kies hy niemand nie, is dit ook goed so. As hy wel iemand kies, moet hy seker maak dit is die regte persoon. Daar is nie net een hart op die spel nie, maar die hele Suid-Afrika se harte is op die spel as ek so kyk na mense se menings oor wie hulle dink beter by Brendan gaan pas.”

Vir sy musiek-aanhangers is daar ook goeie nuus: Jo nuwe musiek sal vanaf April stuk-stuk uitgereik word. Hy beplan egter nie ʼn vollengte album nie, en allermins ʼn gospelalbum.

Jo Black. (Foto: Facebook/Jo Black)

“Dit is ʼn moeilike een, want al is gospelmusiek waar my wortels lê, en al het ons dit meer nodig in ons Afrikaanse musiekbedryf, word gospelmusiek in die Afrikaanse mark nie ondersteun soos dit ondersteun behoort te word nie.

“Mense wil eerder ʼn ‘Bring die hoop weer terug’ of ‘Skepe’ oor naweke luister en liedjies met ʼn Christelike ondertoon sal altyd my styl bly,” sê hy.

Jo toer die land plat met sy vertonings, maar is ook binnekort weer in die buiteland op die verhoog te sien. Hy beplan om saam met Refentse en Bobby van Jaarsveld ʼn draai in Doebai, Amsterdam, Engeland en Kanada te maak.

“Ek hou daarvan om in die buiteland te toer. Die honger om Suid-Afrikaanse musiek te hoor is so groot en aansteeklik. Ek bly tot die laaste foto geneem is en ek hou daarvan om al die mense se stories oor die ervaring te hoor. Dit is vir my lekker.”

  • Luister boaan die berig na die volledige ateljeeonderhoud met Jo Black.

Afrikaans is Lekker

Demi Lee Moore sal in Mei saam met die drietal (Refentse, Bobby en Jo) in Amsterdam in die Afrikaans is Lekker-konsert te sien wees.

Afrikaans is Lekker sal vir slegs een aand, Saterdag 25 Mei, by die Theatre Amsterdam in Nederland op die planke wees.

Net soos in die verlede sal daar ook ʼn Afrikaanse sokkiepartytjie na afloop van die konsert by die teater plaasvind.

Die partytjie is hierdie keer nie net vir BBP- en konsertkaartjiehouers nie, maar vir enigeen wat die partytjie wil bywoon. Algemene kaartjies vir die konsert sluit die sokkie in.

BBP-kaartjiehouers kry spesiale ingang, verwelkomingsdrankies, unieke geskenkpakke met lekker verrassings in, sitplekke in die voorste rye en ʼn spesiale ontmoeting met die kunstenaars na afloop van die konsert.

Kaartjies vir die konsert in Nederland is beskikbaar op EventBrite.com.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.