Luister: Reis saam met Bonné de Bod in ‘Bewonder en bewaar’

Bonné de Bod (Foto: Susan Scott)

In ʼn splinternuwe natuurprogram, Bewonder en bewaar, neem die bekroonde televisieaanbieder en vervaardiger, Bonné de Bod, en regisseur Susan Scott jou saam op reis deur verskeie wildernisgebiede waar hulle die hartklop van natuurkundiges se baanbrekerswerk beleef.

“My rol is om ʼn storieverteller te wees,” het Bonné onlangs gesê toe sy in Maroela Media se ateljee oor Bewonder en bewaar gesels het.

“Ek wil dit wat my in die natuur verstom laat staan op ʼn suksesvolle manier oorvertel. Hoewel ek nie ʼn wetenskaplike is nie, is ʼn liefde vir bewaring diep in my hart gewortel, en ek dink baie kykers voel dieselfde.”

Bonné sê verder dat haar doelwit met Bewonder en bewaar eintlik eenvoudig is: Om iets met mense te deel wat hoop skep.

“Daar is soveel slegte dinge wat in die wêreld en in ons land gebeur, daarom wil ek vir kykers die geleentheid gee om agteroor te sit, te ontspan en werklikwaar net na ʼn inspirerende en positiewe televisieprogram te kyk.”

Die program bestaan uit 13 episodes wat op kykNET uitgesaai word en dit is verfilm in die Nasionale Krugerwildtuin, dele van die Namibwoestyn en in die skouspelagtige diep klowe (canyons) van Argentinië.

Kykers kan uitsien na wedervaringe van poemas in Patagonië in Argentinië, Namibië se woestynleeus en Dasseneiland se Afrika-pikkewyne.

Ander onderwerpe wat ook in die reeks ondersoek word, sluit in vitro-bevrugting in bedreigde spesies, die Kaap se fynbos en guanaco’s, ʼn Suid-Amerikaanse soogdier wat onder meer in suidelike Patagonië voorkom, in.

‘n Guanaco in Patagonië. (Foto: Susan Scott)

Wanneer ʼn mens vir Bonné pols oor watter een van dié temas haar besonder na aan die hart lê, besef jy gou dat enigiets oor die natuur vir haar kosbaar is.

As sy wel een hoogtepunt van die reeks moet uitsonder, sal dit haar en Susan se belewenis van ʼn poema in Patagonië wees.

“Ek het nog altyd net gedroom om hierdie dier in die natuur te sien, maar dit is baie raar. Op ʼn skaal van nul tot 10 is dit eintlik maar nul.

“Toe dr. Emiliano Donadío, wat navorsing oor die poemas doen, my nooi om ʼn ruk by hom in Patagonië te gaan kuier, kon ek die geleentheid nie deur my vingers laat glip nie.”

‘n Poema in Patagonië wat agter ‘n rots skuil. (Foto: Susan Scott)

In die podsending vertel Bonné van die onvergeetlike ervaring toe sy en Susan op hul tweede laaste oggend by Donadío wel dié majestueuse dier in lewende lywe gesien het. Dit is ook die fokus van die derde episode van Bewonder en bewaar wat Sondag uitgesaai word.

‘n Olifantstand. (Foto: Susan Scott)

Bonné en Susan vorm ʼn gedugte span. Hulle het ook saamgewerk aan die dokumentêre rolprente STROOP – journey into the rhino horn war en Kingdoms of Fire, Ice and Fairytales. Albei flieks het verskeie plaaslike en internasionale pryse ontvang en is by bykans 50 rolprentfeeste wêreldwyd vertoon.

“Ek en Susan vorm ʼn goeie span en ek dink die rede daarvoor is dat die teks vir ons albei ewe belangrik is. Ons doen baie navorsing en ontleed dan al die inligting. Daarna probeer ons om dit in ʼn baie maklike, verteerbare manier oor te vertel,” verduidelik Bonné.

Bewonder en bewaar wys Sondae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks is ook op DStv Catch Up beskikbaar.

Hier is ʼn voorsmakie van wat kykers in Bewonder en bewaar kan verwag:

  • Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud met Bonné de Bod oor die natuurprogram, Bewonder en bewaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jacob ·

Stroop, haar dokkie oor renosterstropery het nie veel gedoen om renosters te beskerm nie. Die enigste ligpunt vir die diere bly maar privaat eienaars wat waarde aan die diere heg en daarom etlike miljoene rand spandeer om die hulle te beskerm.

Jacob ·

Ek kan jou vir dae lank besig hou oor wat ek gedeon het in samewerking met die renostertelersvereniging, die WRSA en vele ander organisasies wat by die bewaring van ons wild en omgewing betrokke is. Ek kan vir jou wys wat ek vir die grootste renostereienaar in die wereld gedoen het nadat die WWF se “renosterspesialis” met alles wat sy tot haar beskikking het, probeer het om hom te diskrediteer. Ek kan jou haarfyn verduidelik wat ek gedoen het om onverantwoordelike ontwikkeling in ‘n sensitiewe kusgebied stop te sit. Ek kan vir jou vertel van die keer wat ek ‘n minister van omgewingsake uitgedaag het om my te dagvaar omdat ek sy skelmstreke ontbloot het. Die lys is nog baie langer Piet. Nou wat het jy gedoen?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.