Luister: Verken Japan vanuit jou leunstoel

Erns Grundling in Japan(Foto: Verskaf)

Erns Grundling deel binnekort sy reis na Japan met kykers in die nuwe Elders-seisoen op TV.

Ná die groot sukses van die eerste seisoen van Elders, waarin Grundling sy Camino-avontuur in Spanje na die kassie gebring het, het hy en ʼn klein kameraspan gereis na die “land van die opkomende son”, Japan.

“Hierdie program dien nie net as ʼn gids nie, maar wys ook so ʼn bietjie meer oor wat onder die oppervlak aangaan. Die reis wat binne jou aan die gang is is net so belangrik soos dit wat jy sien, doen en eet,” het Grundling aan Maroela Media gesê.

Grundling het gesê hy wou graag Japan besoek vir sy ryk kultuur, maar ook omdat die Wêreldbeker-rugbytoernooi in September vanjaar daar begin.

“Ons wou amper vir die kykers ʼn voorskou bied oor hoe Japan lyk en hoe die omstandighede daar is. Die reeks kan ook dien as ʼn lusmaker vir Suid-Afrikaners wat die Wêreldbeker-rugbytoernooi wil gaan bywoon. Die Olimpiese Spele word ook volgende jaar in Tokio aangebied, so as daar nou ooit ʼn tyd was wat Japan op Suid-Afrikaners se radar sal wees, is dit nou!” het hy gesê.

Stap is weer een van die groot temas in Elders: Japan, net soos in Elders: Die Camino. Erns hou van stap, en om te bly by die staptema van die eerste reeks verken hy twee pelgrimstogte in Japan – die Kumano Kodo (’n susterpelgrimstog van die Camino in Spanje) en die Nakasendo, die destydse handelsroete tussen Kioto en Tokio. Hy probeer ook om die ikoniese berg Foedji uit te klim.

Grundling het gesê daar was ʼn paar verskille tussen die pelgrimstogte in Spanje en dié in Japan, wat hy nie verwag het nie.

“Die heel grootste verskil was die terrein. In Spanje stap jy op plaaspaaie en grondpaaie en elke drie of vier kilometer was daar oulike Middeleeuse dorpies waar jy kon stop en goedjies koop. Op die Kumano Kodo was die terrein baie meer uitdagend. Dit is ʼn baie meer bergagtige gebied en jy moet ander skoene dra as vir die Camino. Ek en die kameraspan was bietjie onkant gevang op die eerste dag.”

Die ooreenkoms tussen die pelgrimstogte is wel die natuurskoon en die ervaring om op jou onmiddellike omgewing te fokus, het hy bygevoeg.

“Dit het my net weer getrek hoe wonderlik dit is om so in die natuur te kan stap en om net ʼn bietjie op jou ervaring te kan fokus, op die val van jou voete, die natuurgeluide en die wonderlike mense wat jy op die pad ontmoet. Dan kom ʼn mens net weer agter ons is maar net almal soekend en stappend in die lewe,” het hy gesê.

Grundling het ook met ʼn paar bekendes in die rugbywêreld in Japan gepraat, om aan te sluit by die Wêreldbeker-rugbytoernooi.

Hy het onder andere met Toks van der Linde, Duane Vermeulen, Jason Jenkins, Jake White en Gio Aplon gesels. Hy het ook met die enigste Suid-Afrikaner in Japan se nasionale span, Wimpie van der Walt, ʼn onderhoud gevoer.

Grundling verklap ook dat “die bekendste losskakel in die wêreld” vir hom geleer stelskop het.

Hy het gesê die verskille tussen Japan en Suid-Afrika was opvallend tydens dié ses week lange reis.

“Ek was op baie maniere stomgeslaan deur Japanse kultuur. Daar is soveel diepte en ʼn ryk kultuur om daar te ontgin. Dit gaan alles oor harmonie, oor harmonie tussen mense en die natuur. Dit gaan oor hoflikheid, respek en goeie maniere. Hulle is ook ʼn bietjie meer terughoudend as die Suid-Afrikaners.”

Dit het my getref hoe stil die stad is, daar is nie geraasbesoedeling nie. Dit is geweldig skoon en netjies. Daar is nie vullisdromme op straat nie, want jy mors eenvoudig nie op straat nie en jy eet ook nie op straat nie. Iets so eenvoudig soos ʼn maaltyd word gesien as ʼn ritueel wat op ʼn stil en sinvolle manier gedoen moet word,” het Grundling gesê.

Grundling het ook ʼn boek geskryf oor sy ervarings in Japan, wat meer detail gee oor sy reis en meer van sy eie ervarings bevat. Die boek Soesji en Shosholoza sal vroeg September beskikbaar wees.

Elders: Japan is van 2 Julie elke Dinsdag om 21:00 op kykNET en Showmax te sien.

Hier is Elders: Japan se voorskouvideo wat eersdaags op kykNET uitgesaai word. In Oktober verlede jaar het ek saam met PJ Kotze van Bonanza Films, Roxanne Ferreira en Ja-en Kleynhans vir vyf weke in Japan gereis. Die reeks van 13 episodes (met subtitles in Engels) begin op Dinsdag 2 Julie om 21:00 op kykNET en gaan ook beskikbaar wees op Showmax. In assosiasie met Toyota SA, ClemenGold Gin, Sure Travel, Showmax en Cape Union Mart.

Posted by Erns Grundling on Wednesday, June 5, 2019

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.