Marisa, Geon leer by nuwelinge in ‘Mooiweer en warm’

Marisa Drummond en Geon Nel in ‘Mooiweer en warm’. (Foto: verskaf)

Die enkellopende dominee, Issie, en sakeman, Alex, gooi omtrent flikkers vir mekaar in die kykNET-dramareeks, Mooiweer en warm. Die akteurs wat dié rolle vertolk, Marissa Drummond en Geon Nel, het diep in hul toneelspelsakkie gegrou om die beste weergawes van hul uiteenlopende karakters op die kassie te laat skitter.

Marissa erken egter dat die jong nuwelinge wat ook in die reeks te siene is, haar nie net geïnspireer het om meer waagmoed te hê nie, maar haar ook ’n paar lesse uit die ervaring geleer het.

“Om so ʼn groep gemengde akteurs te hê, is opwindend. Die nuwe generasie akteurs het geen vrees nie en bars net in met ’n performance,” vertel sy.

“Hulle lê soveel makliker hulself bloot as die ouer groep. Ons was seker ook maar so, maar dis ’n goeie herinnering om braaf met jou keuses te wees, en dit het definitief weer vir my ’n ander uitkyk op speel gegee.”

“ʼn Mens sê altyd jy leer by die ouer garde en ek leer elke keer by hulle, maar dan leer ʼn mens net so veel by die jonger spelers. Dit is ’n heel nuwe energie wat hulle bring,” beaam Geon.

“Ek sit so in die middel en leer by almal – oud en jonk – van speltegnieke en spelstyle. Die ouer garde bring ervaring, maar die jonger garde bring weer kennis van tegnologie oor dinge soos sosiale media.”

Marissa het haar karakter se eerlikheid, broosheid en algemene menswees geniet. Die verfilmingsproses, wat in 2022 geskied het, staan ook vir haar as ʼn hoogtepunt uit.

“Van begin tot einde was almal, reg deur die bank, een honderd persent toegewyd om die bes moontlike produk vry te stel. En om elke dag in ons regisseurs se wêreld te kon klim, was opwindend,” vertel sy.

Marissa is tans besig om ʼn nuwe kykNET-dramareeks te verfilm en is opgewonde oor haar heel eerste kykNET-storiefilm wat sy pas ingehandig het.

Geon, wat tans besig is om sy kennis op te skerp deur verder te studeer, is ook druk besig om voor te berei vir sy eenmanstuk, Hoerkind, wat vanjaar by die Suidoosterfees gaan debuteer. Dié stuk is gebaseer op Herman Lategan se biografie met dieselfde naam.

Hy speel ook in Geen teks saam met Deon Lotz, wat by die KKNK en die Suidoosterfees te siene gaan wees, en in Mooiplaas saam met René Cloete, Curtley Pitt en Liandé Valentyn, wat deel van die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) se Jong Sterre-program op die Suidoosterfees gaan uitmaak.

“Ek kan glad nie kla nie.”

Geon se liefde vir onderskeidelik die teater en die televisie blom voort, en hy erken dat hy nooit die een bo die ander sal kan kies nie.

“Ek het vir jare teater gedoen en daardie dissipline oorgeneem TV toe. Niks kom naby daardie gevoel van ’n lewendige gehoor nie, maar aan die ander kant kan ʼn mens spanning opbou in TV, tegnieke gebruik en meer as een kans kry om die beste moontlike produk te lewer,” vertel hy.

“Ek kan nie kies tussen die twee nie.”

  • Mooiweer en warm word Dinsdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.