Mikro-woonstelle kry lewe in dié werklikheidsreeks

‘Klein paradys’ word later vanjaar verfilm. (Skermgreep)

Aanhangers van doen-dit-self-programme soos The Block en binnehuisversiering kan nou self inskryf om deel te neem aan kykNET se splinternuwe werklikheidsreeks Klein paradys.

In dié oorspronklike reeks gaan ses mededingende spanne die geleentheid kry om mikro-woonstelle op te knap en te stileer in ʼn poging om R1 miljoen te wen.

Die reeks sal later vanjaar uitgesaai word en sal in April en Mei in die Wes-Kaap verfilm word.

Elke span bestaan uit twee lede wat mekaar ken en vertrou. Dit kan broers en susters, ʼn ouer en kind, vriende, kollegas, ʼn liefdespaar, twee eks-verliefdes of kamermaats wees – enige duo met ʼn bestaande verhouding kan inskryf.

Die mikro-woonstelle wat vir die reeks omskep word, moet vyfster-status aan voornemende gaste bied.

Ontwerpers van mikro-wonings het die afgelope tyd gewys dat ʼn huis nie gerief of styl hoef in te boet net omdat dit klein is nie. In Klein paradys gaan die span wat die indrukwekkendste, mooiste en mees praktiese mikro-woning kan inrig, met die prysgeld wegstap.

As jy prakties en stylvol is en ʼn klein ruimte kan omskep in ʼn pragtige huis met elke moontlike gerief, gooi jou naam in die hoed. Klein paradys is ʼn wonderlike geleentheid vir jou en jou spanmaat om die wêreld te wys wat in julle steek.

Inskrywings het Donderdag 1 Februarie geopen en sluit op 29 Februarie. Om jou span in te skryf, klik hier.

Klein paradys word vervaardig deur Afrokaans. Die reeks sal op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai word. Dit sal ook op DStv Stream en DStv Catch Up beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.