‘Modern Family’ groet ná 11 seisoene

Die heel laaste episode van die bekroonde komediereeks ‘Modern Family’ is Woensdag in die VSA uitgesaai. (Foto: Instagram/Modern Family)

Die heel laaste episode van die bekroonde komediereeks Modern Family is Woensdag in die VSA uitgesaai.

Die lawwe en skreeusnaakse Pritchett-familie het ná 11 seisoene die tuig neergelê in ʼn emosionele dubbelepisode finale.

Die akteurs Ed O’Neill (Jay Pritchett), Sofia Vergara (Gloria Delgado), Julie Bowen (Claire Pritchett-Dunphy), Ty Burrell (Phil Dunphy), Jesse Tyler Ferguson (Mitchell Pritchett), Eric Stonestreet (Cameron Tucker), Sarah Hyland (Haley Dunphy), Ariel Winter (Alex Dunphy), Nolan Gould (Luke Dunphy) en Rico Rodriguez (Manny Delgado) is almal van die eerste tot die laaste seisoen in dié reeks te sien.

“Ek het ʼn ongelooflike reis met hierdie reeks gehad,” het Hyland, wat die rol van die oudste Dunphy-suster vertolk, in ʼn Instagram-plasing gesê.

“Ons hele span was deurgaans fenomenaal en ons het baie vinnig in ʼn regte moderne familie ontwikkel. Ek sal hierdie mense ongelooflik baie mis, maar ek is so dankbaar dat ek gelukkig genoeg was om saam met hulle te kon werk. Dankie aan almal wat elke tree van die pad saamgestap het. Ons is lief vir julle,” het sy geskryf.

Dié ABC-reeks behou saam met die gewilde reeks Frasier die rekord vir die meeste Emmy-toekennings in die kategorie vir beste komedie. Die reeks het sedert sy aanvang in 2009 altesaam 22 Emmy-toekennings en ses Writers Guild of America-toekennings ingeoes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.