ʼn Klapsoen, en twee word trekpas gegee in ‘OME!’

Natasha, Katja en Christine nadat Jané en Nadia huis toe gestuur is. (Foto: verskaf)

Hartseer én opwinding het hoog geloop in die jongste aflewering van Op my eish! op die Uitzicht-wildsplaas ná twee dames huis toe gestuur is, en nog een ʼn eerste soen gekry het.

Nadia en Jané is aan die einde van vanaand se episode deur Brendan genooi om eenkant te gaan sit en gesels. Alhoewel hulle gedink het dit is ʼn geleentheid om alleentyd saam met Brendan deur te bring, was dit as’t ware ʼn geleentheid vir Brendan om die moeilike nuus aan hulle mee te deel dat hy hulle eerder wil huis toe stuur.

Voordat Brendan egter dié uitdagende besluit kon neem, het hy seker gemaak dat hy tyd saam met al die meisies deurbring.

ʼn Kuier in ʼn grot

Nadat Brendan in verlede week se episode saam met ses vroue gebraai het, was sy volgende kuier saam met die ander ses wat moes agterbly.

Christine, Chaunté, Runet, Janae, Natasha en Thelmané moes elkeen hul avontuurlustige skoene aantrek, aangesien hulle saam met Brendan dele van die Oos-Vrystaat op ʼn vierwielmotorfiets gaan verken het.

Ná dié senutergende rit, is hulle te voet na ʼn grot toe, waar ʼn hele paar versnaperings op hulle gewag het. Brendan moes daarna twee meisies kies saam met wie hy alleentyd wou deurbring, en sy onsekerheid het tot ʼn ongewone oplossing gelei: die vroue moes stokkies trek.

Die groep het op vierwielmotorfietse deur dele van die Oos-Vrystaat gery. (Foto: verskaf)

Runet was die gelukkige trekker van die langste stokkie, en kort voor lank het sy en Brendan hul harte met mekaar gedeel. Alhoewel Runet, wie se ouer sussie in die eerste seisoen van Op my eish! te siene was, haar hart teenoor Brendan oopgemaak het, het sy gevoel dat Brendan nie dieselfde wou doen nie.

Alhoewel Thelmané haar misnoeë met dié stokkie-trekkery uitgespreek het, was sy die tweede vrou wat Brendan gekies het vir alleentyd. In hul gesprek het sy Brendan bewoë gehad met haar getuienis oor haar pa se afsterwe en haar boetie se wonderbaarlike herstel. Beide het later gesê dat hulle op ʼn geestelike vlak met mekaar ʼn band gevorm het.

ʼn Klavier, ʼn ‘trouvrou’ en Brendan

Uiteindelik kon Brendan net een meisie kies vir ʼn langer afspraak. Dié meisie was Janae, wat erken het dat Brendan vir haar vlinders gee.

Nadat hulle aanvanklik gesukkel het om die gesprek aan die gang te kry, het die twee kort voor lank omtrent vir mekaar gekoer. Dit was Brendan wat voorgestel het dat hul kuier na die klavier toe skuif.

Brendan en Janae se eerste soen. (Foto: verskaf)

Hulle het saam Brendan se liedjie, “Trouvrou”, gesing, voordat Brendan sy heel eerste soen vir dié seisoen van Op my eish! uitgedeel het. Die 27-jarige sanger het erken dat die soen hom eintlik verras het, en dat hy eintlik net beplan het om haar ʼn piksoen aan die einde van die afspraak te gee.

Die vroue ‘leer’ meer oor Brendan

Vyf vroue is die volgende oggend gekies om ʼn handwerkprojek in Fouriesburg saam met Brendan aan te pak. Katja, Jané, Nadia, Christine en Natasha is gekies om saam met Brendan op dié afspraak, waar hulle leervoorwerpe moes maak, te gaan.

Die dames het heerlik saam met Brendan gelag, hoewel Jané deurlopend haar ongelukkigheid uitgespreek het. Dit het haar veral gepla dat Katja die armband wat sy gemaak het, om Brendan se arm gebind het en hy dit nie afgehaal het nie.

Sy het ook telkens tydens haar dagboeksessies bekendgemaak dat sy nie van die oppervlakkige gesprekke hou wat deurlopend geheers het nie.

Ná hul tyd in die leerfabriek, is hulle na die Fouriesburg Country Inn waar hulle tee en skons geniet het. Dit was juis tydens dié kuier dat Brendan vir Nadia en Jané eenkant toe geroep het om die nuus met hulle te deel dat hulle nie die reis saam met hom gaan voltooi nie.

Jané en Nadia is huis toe gestuur. (Foto: verskaf)

“Elke dag is ʼn nuwe dag. Jy weet nooit wat gaan gebeur nie,” het Jané later gesê. Sy was ook van mening dat Brendan nie die regte keuse gemaak het nie, en dat van die meisies daar was om die verkeerde redes.

Nadia het weer ʼn opbouende boodskap oor die ervaring gehad.

“Wat hierdie ervaring vir my geleer het, is dat jy goed moet doen wat jou bang maak. Liefde was een van die dinge wat my verskriklik bang gemaak het. As ek hierdie kon doen, kan ek enigiets doen.”

  • Op my eish! word elke Donderdagaand om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.