ʼn Laaste tiekiedraai in kombuis vir dié Kokkedore

Nicole en Mandré is ná vanaand se braai huis toe gestuur. (Foto: verskaf)

ʼn Braai langs die strand het die einde van die pad vir twee hoopvolle Kokkedore beteken.

Nicole en Mandré het vanaand hul laaste braai op die Kokkedoor Vuur & Vlam-kole gebraai. ʼn Reuse-seekosuitdaging en ʼn paar unieke braaitegnieke was op die ou end die laaste spyker in hul spreekwoordelike doodskis.

Die episode het langs die see, aan die mees suidelike punt van Afrika by Kaap Agulhas afgeskop. Vyf oorblywende spanne het hul braaitange blink gepoets om dié uitdaging te bemeester.

Elke span moes ʼn egte seekosbord, met ʼn stysel en ʼn slaai, ʼn seekossop en ʼn nagereg met ʼn soutelement aanmekaarslaan. Die deelnemers moes van kabeljou gebruik maak, en hul geregte moes aan die plaaslike inwoners en vissermanne van die omgewing gewy gewees het.

Hulle moes ook geure van die mees noordelike punt in Afrika, wat in Tunisië geleë is, by hul geregte inkorporeer.

Dit is die tweede uitdaging wat die spanne soos wat hulle tans lyk aanpak, en dit blyk asof sekere spanne se groeipyne erger as dié van ander is.

Joubert en Gert. (Foto: verskaf)

Joubert en Gert, wat verlede week herhaaldelik in die kombuis koppe gestamp het, het gewys wat in hulle steek. Van hakerigheid was daar geen sprake nie, dié twee het soos ʼn masjien saamgewerk.

“Ná die vorige uitdaging het ek en Gert wakkergeskrik en besef dat ons beter met mekaar moet kommunikeer en met ʼn duidelike plan moet werk,” het Joubert gesê. Dit is ook presies wat dié twee mans gedoen het.

Hulle het nou saam met hulle bure, Bertus en Ashley, gewerk – ʼn wenresep vir dié twee spanne.

Mandré en Nicole het aanvanklik steeks begin, hoewel dit later geblyk het dat hulle die haakplekke uitgestryk het. Nicole het voortou geneem, met Mandré wat ʼn ondersteunende rol ingeneem het. Dit was egter steeds nie genoeg om vir hulle ʼn plek in die topvierspanne te besorg nie.

Ten einde, was dit Karen en Kevin, wat blyk om teenoorgesteldes te wees, wat as wenners van die strand afgestap het. Karen se geklets het Kevin aanvanklik teen die mure uitgedryf, met Kevin se stilswye wat haar op haar beurt weer gek gemaak het.

Hulle het egter ʼn beter manier gevind om met mekaar te kommunikeer, soveel so, dat hulle die beoordelaars die meeste uit al die spanne beïndruk het.

Kevin is vasberade om nie vinnig huis toe te gaan nie.

“Hierdie program het al klaar wonders vir my gedoen. Ek gaan nie dieselfde persoon huis toe nie – not a chance!”

  • Kokkedoor Vuur & Vlam word Donderdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.