Nuwe ‘Binnelanders’-seisoen begin vanaand

(Foto: Skermgreep uit ‘n episode van Binnelanders)

’n Nuwe seisoen van kykNET se gewilde sepie Binnelanders begin vanaand (8 Junie) met vuurwarm kykgenot as teenvoeter vir die koue wintermaande.

Bo en behalwe die bekende en geliefde karakters sorg talle nuwe gesigte vir bykomende intrige en kinkels in die 15de bestaansjaar van Binnelanders.

Jonathan Boynton-Lee van Top Billing-faam vertolk die rol van ʼn pasiënt wat deur dr. Maya Gossling (Kara du Toit) behandel word. Sy doen en late ontketen ’n reeks gebeure wat talle lewens in gevaar stel – onder meer dié van die paramedikus Danny (Bradley Olivier).

Volgens Elsje Stark, vervaardiger van Binnelanders, het die draaiboekspan hierdie verhaallyn reeds in November 2019 gekonsepsualiseer en geskryf.

“En omdat ons opnames maande voor uitsending plaasvind, is dit blote toeval dat hierdie virus-storie tydens die Covid-19-pandemie uitgesaai word,” sê sy.

(Foto: Skermgreep uit ‘n episode van Binnelanders)

Maroela Media het vroeër berig dat Binnelanders skouer aan die wiel sit om binne die voorgeskrewe regulasies en beperkings steeds kykgenot te bied.

Louis (Germandt Geldenhuys) onthul met groot fanfare ’n nuwe uithangplek nadat die gewilde Nagskof in April in ’n brand verwoes is. Okkie (Ben Kruger) staan sy skoonseun Louis met woord en daad by, maar dit gaan nie sonder pyn en lyding gepaard nie.

René (Simoné Nortmann) se lewe verander in ’n japtrap toe sy tydens ’n braai saam met dr. Quinton Meyer (Ramey Short) nie net ’n besering opdoen nie, maar as gevolg daarvan ’n ontdekking maak met ontstellende persoonlike gevolge.

Soos dit gaan met enige verhouding is uitdagings aan die orde van die dag. At (Hans Strydom) en Annelize (Cindy Swanepoel) spring dit nie vry nie, om nie te praat van Danny (Bradley Olivier) en Chanel (Lindsey Abrahams) nie. Selfs Naomi (Je-ani Swiegelaar) moet op haar tande byt.

Om alles te kroon moet Rian (Erik Holm), Conrad (Hykie Berg) en Ingrid (Michelle Botes) besluit waar hul lojaliteit lê wanneer Elana (Ilne Nienaber) se navorsing ’n bedreiging inhou vir Binneland Kliniek en Southern Hope. Dis juis verdeelde lojaliteite wat ’n ou bekende teruglok na Pretoria – en sy daag nie op sonder ʼn versteekte agenda nie.

Die jongste seisoen van Binnelanders is elke weekaand om 19:30 op kykNET (kanaal 144 op DStv) te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.