Nuwe gesigte in tweede seisoen van ‘Diepe waters’

“Diepe waters” is hernu vir ‘n tweede seisoen. (Foto: verskaf)

Diegene wat vasgenael voor die televisie sit wanneer Diepe waters uitgesaai word, hoef nie te bekommer nie – dié Afrikaanse telenovelle gaan nie binnekort die kassie verlaat nie.

Die eerste episode van Diepe waters is reeds byna ʼn jaar gelede, in Oktober 2022, uitgesaai. Sedertdien het Gys en kie diep in kykerharte gekruip. Dié dagdrama spog boonop met drie nuwe gesigte langs die swembad in die nuwe seisoen: Vinette Ebrahim, Eric Bouwer en Ryno Hattingh.

“Kykers se reaksie op Diepe waters het ons stoutste verwagtinge oortref sedert die nuwe telenovela in Oktober 2022 bekendgestel is. Gys en sy gesin, sy meelopers en sy vyande het soos familie geword,” het Waldimar Pelser, M-Net se direkteur van Premium-kanale, oor die program gesê.

“Hierdie is ’n wêreld van sakevernuf maar ook oordeelsfoute, liefde én verraad, groei én terugslae. Ons is so bly dat kykers saam met ons vasgenael sit. Die storie word van hier af net warmer.”

Die tweede seisoen van die reeks volg direk ná die eerste seisoen geëindig het, met ander woorde, kykers gaan nie hoef te wag vir die drama om voort te broei nie.

“Ons is ongelooflik bly dat ons ’n tweede seisoen van Diepe waters kan skep, en dit is te danke aan die kykers se oorweldigende positiewe reaksie,” sê Roberta Durrant, kreatiewe vervaardiger van die reeks.

“Ons is geseënd met ’n wonderlike span wat hulle alles gee om dié telenovelle ’n sukses te maak. Ons sien uit daarna om kykers op die punte van hulle stoele te hou.”

Deur die loop van die eerste seisoen het dié telenovelle ʼn hele paar onverwagte rigtings ingeslaan. Eers het Gys (Justin Strydom), die patriarg van die program, geskok met die jong bokkie, Meghan (Lea Vivier), aan sy sy. Die bom het egter behoorlik gebars toe dit aan die lig kom dat Meghan as’t ware kop in een mus met Zelda (Sandi Schultz), Gys se aardsvyand, is.

Pam (Tracey-Lee Oliver), Zelda se dogter, het deurentyd na haar biologiese pa gesoek. Dit het ten einde bekend geword dat dit die einste patriarg van die familie is, wat dié skoene volstaan.

Kykers het ook gesien hoe Jacques (Werner Coetser) twee kinders verwek het, van wie een Johan (Liam Bosman) en Meghan se ongebore babatjie is. Meghan is swanger met sy kind, terwyl hy, nes destyds met Johan, moet toekyk hoe iemand anders sy vlees en bloed grootmaak.

Die drama, konflik en geheimsinnigheid van Diepe waters gaan nie binnekort tot ʼn einde kom nie. Kyk dié program Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET, DStv-kanaal 144. Dit is ook op DStv CatchUp beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.