Nuwe jaar, nuwe kykgenot op kykNET

Die Byl.

Die Byl.

ʼn Nuwe jaar, ʼn nuwe dekade met hope kykgenot wat voorlê op kykNET! Oudergewoonte skop die jaar af met nuwe seisoene van kykers se gunsteling-programme, sowel as splinternuwe reekse.

kykNET (DStv-kanaal 144) begin 2020 op ʼn hoë noot met drie dramas wat van Januarie gebeeldsend word. Die Byl keer terug vir ʼn tweede seisoen op Sondag 5 Januarie om 20:00, met die nuwe dramareeks, Projek Dina, wat van Dinsdag 14 Januarie om 20:00 te sien is.

Waldemar Schultz, Marvin-Lee Beukes, Milan Murray en Tertius Meintjies is in 14 nuwe naelbyt-episodes van Die Byl te sien. Die Byl vertel die verhaal van kolonel Piet van der Bijl, ʼn briljante speurder wat spesialiseer in die vastrek van reeksmoordenaars.

Projek Dina speel af in die werks- en lewensomgewing van die blitsreaksie-taakspan, waar die druk hemelhoog en die ruimte vir foute piepklein is. Noudat die taakspan pas saamgestel is deur die Wes-Kaapse polisie – as ʼn manier om die vinnig toenemende aantal gevalle van vermiste persone in Suid-Afrika te bestry – het die lede van die taakspan ʼn skynbaar onmoontlike taak op hande: om die vermiste persone in Kaapstad op te spoor en hulle een vir een huis toe te bring.

Tim Theron, Chanelle de Jager en Chumani Pan is in Projek Dina te sien.

Kom ons praat daaroor.

Kom ons praat daaroor.

Hoor my, sien my, soen my, met Vanes-Mari du Toit as aanbieder, begin op Woensdag 29 Januarie om 20:00. In dié reeks, geskoei op die internasionale trefferreeks, Hear Me, Love Me, See Me, sal deelnemers elk op ʼn virtuele toeoog-afspraak met drie potensiële pasmaats gaan. Deur middel van die lyfkameras wat die pasmaats dra, kry die deelnemer ʼn blik op elkeen van hulle se lewe.

Aanhangers van die komedie Hotel sal bly wees om te hoor dat Danny, Jony en die res van die personeel van die twee-ster Fransen Hotel terug is vir nog ʼn seisoen van Maandag 6 Januarie om 20:00. Met Schalk Bezuidenhout, Mila Guy, De Klerk Oelofse en Simoné Nortmann.

Reis na gister, die gewilde reeks met sanger Jak de Priester as aanbieder, keer terug na die kanaal vir die sesde seisoen op Donderdag 6 Januarie om 20:00. In Januarie maak Jak ʼn draai by Frank Opperman, Pietman Geldenhuys, Brümilda van Rensburg en Jo Black. Kykers kan ook uitsien na ʼn kuier by Rian van Heerden, Leah, Refentse en Clint Brink.

Jak de Priester neem van Suid-Afrika se suksesvolste bekendes terug in tyd na waar hulle hul grootword jare deurgebring het. Van hul ouerhuis tot klaskamer deel bekendes wat hulle gevorm het in hul pad na sukses.

Hotel 4.

Hotel 4.

Kom ons praat daaroor is ʼn splinternuwe geselsprogram wat op Woensdag 22 Januarie om 11:00 begin, met van die GROOT Ontbyt-aanbieders wat al bekend is by kykers.

Al ooit gewens jy kan saam met jou gunsteling-radio-omroepers in die ateljee sit en kuier? Hier is jou kans om agter die skerms, in die oomblik en om die spreekwoordelike braaivleisvuur te sit en deel te neem aan die pret, terwyl jy deur Francois Botha, Su-an Müller-Marais, Susan Botha en Jacques Erasmus op hoogte gebring word van die jongste, vreemdste en soms mooiste stories van die dag. Alles is regstreeks, eerlik en niks word vooraf opgeneem nie.

Kykers kan ook naderskuif van Woensdag 1 Januarie om 17:30 vir ʼn nuwe seisoen van Met ʼn huppel in die stap.

Aleit Swanepoel loer weer in by Suid-Afrikaanse bekendes van Sondag 5 Januarie om 17:30 in Tyd met Aleit.

Dié toonaangewende trou- en geselligheidsbeplanner en stigter en voorsitter van The Aleit Group, loer elke week in by ʼn Suid-Afrikaanse bekende om ʼn bietjie op te vang. Daar word natuurlik ʼn mooi tafel gedek en lekkernye word voorgesit vir ’n behoorlike kuier. Van die gaste wat kykers in die nuwe seisoen kan ontmoet, is Sue Duminy, Zenobia Kloppers, Hannon, Lizz Meiring, Simoné Nortmann en Willem Botha.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.