Nuwe TV-reeks wil SA se goeie nuus vertel

Coenie de Villiers en Lyntjie Jaars is op die kassie te sien as aanbieders van die nuwe reeks Stories wat saak maak (Foto: Facebook/Stories wat saak maak)

Suid-Afrika is al lamgelê deur die slegte nuus wat sy mense daagliks negatief laat. Dit is hoog tyd om weer stories van hoop te verkondig om mense te laat besef dat dit nie elke sekonde van elke dag sleg gaan nie.

Dít is die kernboodskap wat sanger Coenie de Villiers en radio-omroeper Lyntjie Jaars met die splinternuwe televisiereeks Stories wat saak maak aan die publiek wil verkondig.

Kykers keer tans weekliks terug na die kassie vir ’n stewige dosis goeie nuus en goedvoel-stories in dié nuwe reeks. Stories wat saak maak is ’n goedvoel-reeks wat hom toespits op plaaslike en internasionale nuus – maar altyd nuus wat jou laat goed voel en positief laat.

De Villiers kwyt hom natuurlik weer goed in sy taak as programaanbieder, terwyl Jaars, ’n radio-omroeper van Radio NFM in die Namakwaland in die Noord-Kaap, haar debuut as veldaanbieder van die Korporatiewe Maatskaplike Investering-insetsel in die program maak.

De Villiers vertel aan Maroela Media hy het met die vervaardiging van sy vorige dokumentêre reekse ’n Ander wêreld en Daar’s ’n plek tot die besef gekom dat mense eintlik goed is. Dit is tóé dat die saadjie vir Stories wat saak maak geplant is.

“Hulle sê die ware nuus is goeie nuus. Trouens navorsing toon dat mense moeg is vir slegte nuus wat ons samelewing en mediawêreld oorheers. Mense hunker na goeie stories en ons wil dit na hulle toe bring,” sê hy.

De Villiers verwys na die storie van die petroljoggie wat R100 vir ʼn motoris geleen het as ’n voorbeeld van ʼn storie wat impak op mense se lewens gehad het.

Die program skop af met brokkies lusmakers waar goeienuus-stories van wyd en syd gedeel word. Daarna verskyn koerant- en tydskrifredakteurs om hulle goeienuus-stories te deel wat nie die koerant of tydskrif gehaal het nie.

Die komediant Shimmy Isaacs se popkarakter Sherri-Lee Miller verskaf vele vermaak (Foto: Facebook/Stories wat saak maak)

Kykers kan ook weekliks deur ’n komediant vermaak word wat weer ’n huppel in jou stap sit met grappige praatjies oor onderwerpe wat relevant is vir Suid-Afrika. Die komediant Shimmy Isaacs kry die laaste woord in met haar popkarakter Sherri-Lee Miller wat haar tong-in-die-kies bydraes aan die einde van die program lewer.

De Villiers is veral opgewonde oor die glanspersoonlikhede soos Deon Meyer, Corlea Botha, Lizz Meiring en Erik Holm wat in die program ’n draai gaan maak.

“Ek voer al jare lank onderhoude met mense. Ek voer onderhoude waar ek oor die persoon se werk praat, maar dan besef ek ná die tyd dat ek nie veel oor die persoon self weet nie. In Stories wat saak maak wil ek met die persoon agter die naam kennis maak. Ek wil uitvind wat maak regtig vir hierdie bekende persone in die lewe saak – wat laat hulle tick. Ek gesels ook met hulle oor dinge wat hulle doen om die wêreld ’n beter plek te maak.”

Die KMI-insetsel van die program is ’n kernkomponent waar Jaars as aanbieder met begunstigdes praat wat voordeel uit maatskappye se weldoener-projekte trek.

“Daar is baie maatskappye wat in die gemeenskap terugploeg. Ons gaan praat met die mense wat voordeel uit hierdie maatskappye trek. As die maatskappy byvoorbeeld sop gee, gaan praat Lyntjie met die mense wat die sop ontvang,” vertel De Villiers.

Hoewel dié radio-omroeper van die Noord-Kaap ’n nuwe gesig op die kassie is, het sy onmiddellik in mense se harte gekruip met haar sprankelende persoonlikheid.

Deon Meyer het heel eerste ‘n draai op die program kom maak. (Foto: Facebook/Stories wat saak maak)

“My werk is om weer ’n glimlag op iemand se gesig te sit. Suid-Afrika het lekker mense en ek wil hierdie lekker mense se goeie stories vertel. Goeie nuus is van onskatbare waarde wat nie in rand of sent gemeet kan word nie,” sê Jaars.

De Villiers en Jaars se paadjies het sowat ’n jaar gelede by Maroela Media se radioseminaar in die Kaap gekruis. “Ek het dadelik geweet ek wil haar vir die program nader. Sy is alles wat ons soek as aanbieder vir daardie insetsel van die program,” vertel De Villiers.

De Villiers kan nie uitgepraat raak oor sy wonderlike mede-aanbieder en vriendin met haar warm en innemende persoonlikheid nie. “Sy was van dag een af heel natuurlik voor die kamera.”

Jaars vertel ook dat De Villiers haar reg van die begin af op haar gemak laat voel het en haar mooi touwys gemaak het. “Coenie het die vermoë om die goeie uit jou uit te bring. Hy glo in ’n mens en hy laat jou in jouself glo. Hy is enig in sy soort,” vertel Jaars.

De Villiers en Jaars is ’n gedugte span en saam baie opgewonde oor die program en die verskil wat dit in mense se lewens gaan maak.

“Suid-Afrika is ’n verstommende land met verstommende mense,” sê De Villiers. “En hulle goeie stories moet vertel word, want dit maak saak.”

Stories wat saak maak word Sondae om 20:00 op Via (DSTV-kanaal 147) en Saterdae om 19:30 op eExtra (DSTV-kanaal 195) uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sonja Alberts ·

Coenie en Via wel gedaan!!!! Dit n uitstekkende program.

Mieliestronk ·

Dit is so slegte punte in die land Maar die dame van Maroela het sulke mooi stories Oor tannie Poppie, die groot orrel en nou weer oor Coenie se dinge. Die dametjie moet maar so aan hou as jy haar goed lees vergeet jy n rukkie van al die probleme

Jax ·

Ugh! Regtig? Goeie stories in die land? Dit bestaan nie. Hou verby – moeg daarvoor om bedrieg en belieg te word!

Elandré ·

Siestog,prozak pilletjies…behoort jou te help JAX!!
Die lewe skuld mens NIKS… dis wat jý en net jyself daarvan maak!!
Dié land,makeer niks en is pragtig… dis “mense” wat hom ontsier…bid maar vir hulle

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.