‘OME!’: Brendan maak finale keuse

Brendan het Janae gevra om sy meisie te wees. (Foto: verskaf)

Ná weke se liefdesbriefies, skelm soene, opwindende afsprake en hartroerende oomblikke, het Brendan Peyper uiteindelik sy keuse gemaak.

By die einste Pheasant Hill-venue waar hy aan die begin van sy Op my eish!-reis die16 hoopvolle vroue ontmoet het, het hy uiteindelik vir Janae, die een wat sy hart gesteel het, gevra om sy meisie te wees.

Nog voordat Brendan egter sy keuse bekend kon maak, moes hy en die meisies eers hul beste voete voor sit vir ʼn gesellige kuier saam met hulle ma’s.

Terwyl Janae, Katja en Rachelle saam met Brendan se ma gekuier het, moes Brendan weer aan elkeen van die vroue se ma’s verduidelik hoeveel meisies hy al in die proses gesoen het.

“ʼn Meisie wat by my seun sal pas, is iemand wat liefdevol is, vriendelik met mense oor die weg kan kom, ʼn passie vir die lewe het, iemand wat die Here ken en iemand wat vir hom daar sal wees wanneer hy deur ʼn moeilike tyd gaan,” het Celesté, Brendan se ma, gesê.

Rachelle en Janae het veral vir haar uitgestaan, en sy het in haar dagboeksessie erken dat dié twee haar veral beïndruk het.

“Janae het my gevang met haar glimlag. Sy het ʼn oop gesig en mooi ogies. Ek het dadelik daardie rustigheid gekry met haar; ek weet nie of ek die regte gevoel kry nie.”

Terwyl die drie vroue saam met Celesté gekuier het, het Brendan die geleentheid gehad om sy potensiële toekomstige skoonma te ontmoet en te beïndruk.

Hoewel Karola Potgieter, Katja se ma, die een was wat gevra het hoeveel meisies hy in die proses gesoen het, het elkeen sy antwoord aanvaar sonder om te veel te dink oor die vier meisies wat elkeen al ʼn soen of twee by hom gekry het.

“Katja het gesê dat hulle ʼn oomblik gehad het waar hulle gesoen het en dat dit baie spesiaal was,” het Karola vertel.

Ná die geskertsery oor al Brendan se soene, het die vier oor meer ernstige hartsake begin gesels. Die ma’s wou veral weet wat Brendan in ʼn vrou soek, en wat so spesiaal aan hul dogters is dat hy hulle gekies het om in sy topdrie te wees.

Brendan en die drie ma’s. (Foto: verskaf)

“Hy ken die Here in sy dag-tot-dag-besluite; dit is al klaar vir my ʼn fantastiese eienskap. Ek dink ons almal hou van wat ons sien en is regtig beïndruk,” het Anita Stander, Janae se ma, later in ʼn dagboeksessie erken.

“Ek was ʼn bietjie skepties oor of die twee wel bymekaar gaan pas,” sê Karlien Fourie, Rachelle se ma, “Maar soos wat dinge gevorder het, en hoe ek vandag vir Brendan ervaar het, kan ek hulle nogal saam sien.”

Ná die familiekuiers het Brendan die geleentheid gehad om vir Janae, Katja en Rachelle aan die res van sy binnekring voor te stel. Elkeen van Brendan se naasbestaandes, vriende en musiekgenote was by die geselligheid, en elkeen kon die drie vroue beter leer ken.

Uiteindelik was daar uiteenlopende menings oor watter meisie die beste by Brendan sal pas, hoewel Brendan later in ʼn dagboeksessie erken het dat dié menings nie ʼn invloed op sy keuse het nie.

Brendan maak sy keuse

Deur hierdie proses moes Brendan telkens vroue huis toe stuur, en in menigte episodes het hy erken dat hy ʼn duidelike topdrie het.

Katja, Rachelle en Janae is keer op keer op spesiale afsprake genooi en hulle was selfs die drie wat die geleentheid gekry het om mee te ding vir ʼn spesiale alleenafspraak saam met Brendan, wat Janae uiteindelik gewen het.

Vir hulle laaste alleenafspraak saam met Brendan, is die vroue bederf met beeldskone rokke, grimering en haarstyle. Elkeen het erken dat hulle soos prinsesse voel en dat hulle nie vir ʼn oomblik spyt is dat hulle vir Op my eish! ingeskryf het nie.

Rachelle is eerste ingeroep vir haar laaste bietjie alleentyd saam met Brendan, en hoewel hulle ʼn spesiale konneksie gedeel het, het Brendan erken daar is iemand anders met wie hy ʼn sterker band voel.

Rachelle en Brendan. (Foto: verskaf)

“Ek weet ek bid regtig hard vir my man, en ek is so opgewonde vir wanneer hy oor my pad kom,” het Rachelle ná die afspraak gesê.

“Ek weet wanneer ek hom gaan ontmoet, gaan dit ʼn duisend keer meer as hierdie wees. Ek is jammer, maar ek gaan ʼn yster van ʼn man trou eendag.”

Katja het volgende by Brendan aangesluit en het vir oulaas vir Brendan “padkos”, hul kodewoord vir ʼn soen, gegee.

Brendan het egter teruggetrek en gesê dat hy homself belowe het dat die volgende meisie wie hy gaan soen, sy meisie gaan wees.

Sy moes ook aanhoor hoe hy hul verhouding en konneksie tot dusver geniet het, maar dat daar iemand anders is wie sy hart vinniger laat klop.

Katja en Brendan. (Foto: verskaf)

“Ek dink ek het diep binne-in my gevoel dat daar dalk ʼn kans is,” het ʼn bewoë Katja gesê.

“Ek het my belowe dat ek nie met enige verwagtinge gaan ingaan nie, want dan sou daar nie teleurstelling wees nie. Maar daar was beslis hoop.”

Vir Janae het Brendan egter net een vraag gehad: “Sal jy my meisie wees?”

Dié vraag het Brendan ook onkant gevang, het hy erken, aangesien hy aan die begin van die proses gedink het hy gaan nie iemand kies nie.

“Ek is eintlik bietjie speechless, ek het hierdie nie verwag nie. Ek het nie gedink dat ek so verlief sou raak nie.”

  • Skakel volgende week Donderdag om 20:00 in op kykNET (DStv-kanaal 144) om ʼn spesiale reünie-episode van Op my eish! te kyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.