‘OME!’: En die derde soen gaan aan …

(Foto: verskaf)

“Dit wat ons nie vir die wêreld gee nie, kan die wêreld nie seermaak nie.”

Dít was Rachelle se woorde nadat die res van die Op my eish!-groep uitgevind het sy en Brendan het ook ʼn soen gedeel.

Dié donkerkop-onderwyseres beskryf ʼn huwelik as een van die grootste roepings in haar lewe en is daarom op soek na ʼn man wat haar gaan ondersteun en laat veilig voel.

Die nuus oor hul soen is tydens die jongste episode se mediakonferensie, waar joernaliste van regoor die land Brendan en die meisies met vrae kon peper, gedeel.

Die konferensie is by Destiny Castle, ʼn kasteel gebou op die kruin van ʼn heuwel net buite Fouriesburg, gehou.

Elke vrou het die konferensie met ʼn ander aanslag aangepak, met van hulle wat goed daarvoor voorberei het, terwyl ander besluit het om net hulself te wees.

Chaunte was veral gereed vir die geleentheid en het selfs erken dat sy al van jongs af daaroor droom om aan Mej. Suid-Afrika deel te neem en dus ook reeds goed voorbereid is vir onderhoude.

Die konferensie het oor verskeie onderwerpe gehandel, insluitend Brendan se behoefte vir sy vrou om eendag tuis te bly, sy ideale lewensmaat, wat hy van elke meisie dink en of hy reeds iemand in gedagte het om te kies.

Die nuus wat egter die oë die grootste laat rek het, is Rachelle en Brendan se soen – waaroor die res van die groep tot dusver nie geweet het nie.

“Die soen was vir my baie spesiaal. Dit was nie my plek om te kom en vir almal te vertel wat ons gedeel het nie,” het sy gesê.

Ná die konferensie het die groep in ʼn ander vertrek in die kasteel gaan sit om wat gesê en ontbloot is te verwerk. Dit was nie lank voordat Brendan uiteindelik vir Chaunte gevra het om saam met hom op ʼn alleenafspraak te gaan nie.

Chaunte was juis ook die een wat agtergekom het dat Brendan en Rachelle ʼn spesiale verhouding deel, iets wat sy tot dusver nie werklik besef het nie.

Dit is tydens die alleenafspraak dat Brendan egter die nuus aan Chaunte moes breek dat sy volgende huis toe gaan.

“Wat ek nie mooi verstaan nie, is dat hy in die vorige alleenafspraak gesê het dat hierdie kan werk in die toekoms. Dit is net drie dae terug; ek soek in elk geval nie ʼn man wat so vinnig van sy gevoelens verander nie,” het Chaunte ná die afloop van hul gesprek gesê.

Brendan het egter ʼn rede vir sy besluit gehad.

“Al wat Chaunte met my deel is haar Christenskap; dit is die enigste rede hoekom ek en sy nie gaan werk nie. Moet my nie verkeerd verstaan nie, dit is wonderlik, maar ek sukkel om regtig vir Chaunte te leer ken.”

  • Op my eish! word elke Donderdagaand om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.