Pierre van Pletzen oor Spike, Oubaas en sy plekkie by die see

Pierre van Pletzen. (Foto: Facebook)

In die derde seisoen van Die Boekklub, tans op kykNET, het kykers kennis gemaak met die pierewaaier Piet, ʼn motorwerktuigkundige van Danville, en Hanli se pa.

Piet, vertolk deur Pierre van Pletzen, is vort plaas toe na sy dogter Hanli (vertolk deur Nicole Holm) en haar gesin op Merweville nadat hy amok gemaak het met sy stuitigheid by die ouetehuis in Pretoria waar hy gewoon het.

Hoewel hy aanvanklik by ʼn paar vroue op dié Karoodorp vlerkgesleep het – tot Hanli se groot ontsteltenis – is hy tans in ʼn ingewikkelde liefdesverhouding betrokke met Vera. Sy is die nuwe dominee op Merweville en word vertolk deur Margit Meyer-Rödenbeck.

Anders as sy stuitige karakter wat homself op die dorre Karoovlaktes bevind, is Van Pletzen en sy vrou van die afgelope 25 jaar, die aktrise Sandra Vaughn, deesdae Kapenaars.

Die egpaar woon tans op Kleinmond saam met hulle twee honde in Vaughn se ouers se vakansiehuis en Van Pletzen kan nie uitgepraat raak oor die lewe in dié Overbergse kusdorp nie.

“Die natuurskoon hier rondom Kleinmond is wêreldgehalte. Hier is berge, twee mere, moerasse en wonderlike voetpaadjies langs die see waar jy kilometers ver kan stap. Jy kan twee weke hier rondloop en nooit dieselfde paadjie loop nie.

“Jy het uitsigte en natuurskoon wat jou asem wegslaan en dit gaan nooit weg nie. In die drie jaar wat ons weg is uit die stad het ons gewoond geraak aan die stilte. Wanneer ons nou weer besoek aan Pretoria of Johannesburg aflê, voel dit vir ons maar vaal en plat en baie gejaagd,” lag hy.

Pierre van Pletzen as Piet en June van Merch as Sofia in ‘Die Boekklub’. (Foto: Facebook)

Van Pletzen het jare lank SABC 2-kykers vermaak as Oubaas van Zyl in die sepie 7de Laan. Toe dié kontrak skielik in 2017 beëindig is, is die mat finansieel onder die akteurspaar uitgepluk.

Hulle het hul huis in Pretoria, waar hulle sedert 1999 gewoon het, verkoop en in hulle vakansiewoonstel op Port St. Francis gaan bly. Later het hulle dié woonstel ook verkoop en by Vaughn se suster in die Paarl gewoon.

Net meer as ʼn jaar gelede het hulle uiteindelik op Kleinmond wortel geskiet. “Ons is baie rustig en baie gelukkig. Dit is reg deur die jaar mooi hier, veral wanneer die inheemse Protea compacta, wat eie is aan Kleinmond en omgewing, in helderpienk-oranje plate blom.”

Hy het 17 jaar lank die rol van ʼn geliefde karakter in 7de Laan vertolk en sê dit was vir hom belangrik dat Oubaas nie moes deurskemer in sy nuwe rol as Piet in Die Boekklub nie.

“Bo en behalwe dat jy ʼn rol goed moet vertolk en dat mense jou moet glo, moet jy dit nou ook só speel dat dit nie voel asof dit Oubaas in ander klere is nie.

“Jy moet jouself fyn dophou. Gelukkig het Nina Swart die regie gedoen en ons was die eerste vier jaar saam in 7de Laan. Ek kon vir haar vra om ook te let op enige oomblik wat Oubaas na vore kom. Dit was moeilik, want ná 17 jaar bly daar baie min van ʼn akteur se ammunisie oor, maar die uitdaging was deel van die lekkerte.”

Pierre van Pletzen as Oubaas. (Foto: Instagram via Real 7de Laan)

Swart het die rol van Wilmien in 7de Laan vertolk.

“’n Ander deel van die lekkerte was om saam met Nina te kon werk. Sy het só gegroei as regisseur. En dit was vir my wonderlik om saam met mense te werk saam met wie ek nog nooit gewerk het nie. Ek het ook uiteindelik ná 35 jaar weer saam met Jana Celliers gewerk. Ons het destyds saam gewerk by Kruik.

“Dit was ook wonderlik om nuwe mense te ontmoet. Die mense in Die Boekklub is ʼn klomp uitstekende akteurs, so dit was vir my lekker om buite te sit en te hoor hoe tonele geskiet word.”

Hy het ʼn sagte plek vir Piet, sy karakter in Die Boekklub. “Hy’s eintlik ʼn saggeaarde vent met ʼn sagte hartjie. Hy mis sy vrou verskriklik en het vir twee jaar alleen in die ouetehuis gesit. Hy sê op een stadium so mooi dat hy haar lippe mis. Hy is nie ʼn gure karakter nie en soek net ʼn bietjie toenadering.”

Sy destydse kollega in die uiters gewilde Orkney Snork nie-reeks, Anrich Herbst, vertolk die rol van sy skoonseun, Johan. Hoewel hulle in 2016 saam aan die Silwerskerm-kortfliek Oom gewerk het, kon hulle mekaar op die stel van Die Boekklub weer behoorlik leer ken.

“Ons was ʼn interessante groep mense destyds met Orkney Snork nie,” sê hy en noem die name van veteraanakteurs soos Zack du Plessis, Frank Opperman en Sally Campher. Van Pletzen het die lawwe karakter van Spike Potas vertolk.

“Van ons het ná Orkney baie min saam gewerk. Ek en Frank het onlangs eers weer saam gewerk op die kykNET-reeks Phil 101. Ek dink ek het vir Zack een keer op ʼn prysuitdeling raakgeloop en hy is kort daarna oorlede.”

Pierre en sy vrou, Sandra Vaughn. (Foto: Instagram)

Zack du Plessis, wat die rol van Hendrik van Tonder gespeel het, is in 2011 dood.

“Ek dink ek het op dieselfde prysuitdeling vir Willie Esterhuizen [skrywer van die reeks] gesien en nooit weer nie. Dis nogal interessant gegewe hoe klein die bedryf is.”

Hy vertel hy is dankbaar dat Orkney Snork nie, waarvan 52 episodes tussen 1989 en 1992 uitgesaai is, behoue gebly het vir opvolggenerasies se vermaak.

“Toe ek by 7de Laan begin het, moes ek weer vir Spike afskud om in Oubaas se skoene te staan. Dit is min dat ʼn akteur in sy loopbaan die guns gekry het om twee ikoniese rolle te vertolk.”

Die Boekklub is op Dinsdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

absoluutgatvol ·

Hou van Pierre – lekker ou!
Maar hoekom die arme Danville ook altyd moet deurloop??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.