‘Plaasjapie’: Deelnemer groet ná koring (letterlik) van kaf geskei word

Oranjezicht kon nie vinnig genoeg die koring van die kaf skei nie. (Foto: Verskaf)

“Ek voel ek het uitgestaan in die span. Ek voel ek het definitief my naam gemaak, en ek is trots op die persoon wie ek is. Al het Ewan gesê ek is nie my sout werd nie, glo ek ék is my sout meer werd as enigiemand anders in my span.”

Só het Danielle Reinecke, ʼn somatoloog van Rustenburg, Noordwes, gesê nadat sy in Donderdagaand se episode van Plaasjapie die vierde stadsjapie geword het om die trekpas te kry.

“My hart is seer, maar ek is baie trots op myself, want ek voel ek het baie hard gewerk. Ek voel ek het alles in my gegee – op die werf en op die plaas.”

Die 25-jarige is eenstemmig deur haar Oranjezicht-spanmaats uitgestem gedurende ʼn emosionele koöperasie-kuier.

Hier het Danielle gedeel dat sy en haar man, Darryn, se stilgebore babaseun haar aangespoor het om aan die kykNET-werklikheidsreeks deel te neem.

Danielle het vertel dat sy ‘n stilgeboorte gehad het. (Foto: Verskaf)

“Ek is hier om vir my kind te bewys dat ek ’n goeie ma is, en ek wens net hy was hier vandag om dit te besef,” het sy tranerig gesê.

Danielle het onlangs aan Maroela Media vertel dat sy, nes talle deelnemers voor haar, kan getuig van die geleentheid vir persoonlike groei wat dié reeks bied.

Dít ondanks die kritiek was sy tot dusver op sosiale media van kykers moes verduur.

Sedert die program se opnames het dié borrelende blondekop boonop 16 kg afgeskud.

“Ek het myself laat gaan voor die program weens die uitdagings in my lewe op daardie stadium, maar het ek al daardie negatiewe gevoelens op die plaas gelos. Ja, daar is nog seer, maar ek voel asof ek dit tog oorwin het. Ek dink nie ek sou die fisieke, emosionele of geestelike uitdagings in myself raakgesien en aangepak het as dit nie vir Plaasjapie was nie.”

Neuse by Groenkloof word al hoe langer

Die koring is in Donderdagaand se episode letterlik én figuurlik van die kaf geskei nadat die Groenkloof-span beide uitdagings gewen het.

Nie net het hulle koning gekraai met die boeresport en ʼn paar lekker bederfies gewen nie, maar ook Hennie de Villiers, ʼn koringboer van Boer soek ’n vrou seisoen 15, is beïndruk dat hulle 2,5 kg se meel die vinnigste gemaak het.

Tog is die gras nie noodwendig groener op dié span se plaas nie.

Ewan Strydom en Hennie de Villiers, ʼn koringboer van Boer soek ’n vrou seisoen 15. (Foto: Skermgreep/kykNET)

Vingers word steeds gewys en neuse groei by Etienne en Milandie nadat albei in verlede week se episode uit vrees hulle pekelpennie gespeel het en ʼn verdere R60 000 van die R1 miljoen se pryspot afgeskaaf het.

Dié tweetjies het onderlangs gekonkel om van spanmaat Jannie ontslae te raak, maar Blue en Milandie se intense fluisteringe het ʼn benoude Etienne se wenkbroue in aanloop tot die koöperasie-kuier ook laat lig en hom meer bedag gelaat.

Ter wille van bondgenootskappe hou Etienne voor sy span vol dat hy sout uit Jannie en nié Milandie se silo geskep het nie, maar dié blondekop het vinnig snuf in die neus gekry en haar spanmaat gekonfronteer.

Milandie en Etienne konfronteer mekaar. (Foto: Skermgreep/kykNET)

“Hulle [die span] vertrou jou, maar ek vertrou jou glad nie,” het ʼn kwaai Milandie erken.

Die twee het egter ooreengestem om mekaar “vir die laaste keer” te vertrou in ʼn poging om bande te smee.

“Ek het glad nie vir Jannie gestem nie,” het Etienne later in sy videodagboek gebieg.

“Nóú gaan ek maar vir Milandie naby hou. Ek hou weer van haar, en ek het ook besluit dat ek weer saam met haar gaan speel.”

Plaasjapie is Donderdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.