‘Plaasjapie’: Skape geskeer en nuwe bande gesmee

Spanne moes kyk wie die vinnigste ‘n fopskaap kon skeer. (Foto: Verskaf)

In die jongste episode van Plaasjapie het die temperature gedaal, maar die spanning loop steeds hoog om te sien wie volgende die trekpas in dié nuwe kykNET-werklikheidsreeks  gaan kry.

Ná verlede week se opskudding toe ʼn ekstra Soetmelksvlei-lid onverwags ook sy tasse moes pak, was die 13 oorblywende stadsjapies effens onseker oor hul toekoms in dié kompetisie. Dit het daartoe gelei dat daar hard gewerk én gekonkel is om nuwe bondgenootskappe op die plaas te vorm.

Dit blyk verder dat twee van Soetmelksvlei se voormalige vyande – Gerda en Arthur – noue bande gesmee het nadat die 37-jarige entrepreneur sy sagter en meer kwesbare kant met sy spanlede gedeel het.

“Ek weet dat ek en Arthur mekaar nou kan vertrou. Ek sal nou na Arthur omsien,” het die 56-jarige Gerda gesê.

‘n Emosionele Arthur wys sy sagter kant. (Foto: Verskaf)

Die SANDF-soldaat, Marius, en Soetmelksvlei-kaptein, Suzette, is egter nie in Donderdagaand se episode deur Arthur se “krokodiltrane” geflous nie.

“Arthur speel die spel baie goed, ek dink hy is besig om die ander spanlede emosioneel aan sy kant te kry,” het Marius gesê.

Suzette het verder aan spanmaat Billy gesê sy voel “verdeeld” oor Arthur se emosionele aanslag.

Die Noubees-span se Roché en Esteban – oftewel “Esteché’’, soos hul spanlid, Dian, dié twee gedoop het – het opnuut belowe om mekaar tot die eindstryd te beskerm. “Esteché” het verder ooreengekom om versigtig te kies wie deel van hul alliansie mag wees.

Die oorblywende stadsjapies moes ook hul beste blêr voorsit en nie net kyk wie ʼn fopskaap die beste en vinnigste met ʼn handskêr kon skeer nie, maar ook sien wie hul wollerige vriende die vinnigste kan tel om die “koöperasiekuier” te vermy.

Marius is Donderdagaand huis toe gestuur. (Foto: Verskaf)

Leo-Nene, ʼn grimeerkunstenaar van Centurion, het vir die eerste keer die Noubees-kapteinslootjie getrek en vir haar span spek en beskuit as ʼn LottoStar-luuksheid gekies nadat dié wenspan hul fopskaap die beste geskeer het.

Soetmelksvlei moes ongelukkig die derde nederlaag agtereenvolgens trotseer, waar Marius – wat deur Gerda as “ʼn baie oulike ou” bestempel is – te lig bevind en uitgestem is.

“Ek het geen kwade gevoelens nie. Ek kon ʼn deel van my droom om te boer vir ʼn rukkie uitleef. Ek voel goed oor myself en oor wat ek geleer en bereik het,” het die 45-jarige oor sy ervaring op die plaas gesê.

Hy droom ook daarvan om eendag na die plaaslewe terug te keer omdat hy as kind op sy oupa se plaas grootgeword en kosbare herinneringe het van perde saam met sy oupa versorg.

Daar is nou 12 stadsjapies oor om dinge op dié plaas in die Swartland aan die Weskus uit te spook vir ʼn kans om R1 miljoen te wen.

Plaasjapie word Donderdae om 20:00 op kykNET uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.